Louis van Niekerk
Louis begin toneelspeel op twaalfjarige ouderdom in Stellenbosch in 'n ADK produksie van Ek onthou vir mamma onder spelleiding van Babs Laker.
Hy verhuis na Pretoria in 1955 en raak dadelik betrokke by "Voksteater" met bou van stelle, regie, spel (altyd die hoofrol) saam met mense soos Hermien Dommisse en Truida Louw. Hy werk saam met hulle vir 8 jaar.
Hy speel in die Fred Engelen produksie van Die besoek van die ou dame tydens die opening van die Johannesburg Skouburg saam met Anna Neethling-Pohl en Jan Schutte.
Hy begin op 'n vryskutbasis toneelspeel vir TRUK in 1963 en word 'n lid van die Afrikaanse geselskap in April 1965. Later word hy Assistent Artistieke Direkteur onder Francois Swart en nog later, vir twee jaar, dien hy as Hoof van Toneel. Hy behartig die regie van omtrent 25 stukke en was oor die verloop van 33 jaar betrokke by meer as 200 produksies vir TRUK. Hy ontvang vier meriete toekennings van TRUK.
In 1990 word hy vereer met die Erepenning vir Toneelkuns deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en ontvang hy ook die Gerhard Beukes-toekenning.
Hy ontvang in 2005 die Afrikoon-toekenning vanaf die ATKV en word bekroon met die Naledi-toekenning vir lewenslange bydrae tot teater.
Louis was betrokke by meer as 60 film- en televisieproduksies ? waaronder verskeie produksies vir Franz Marx. Hy verskyn ook onder andere in Amalia, Fees van die Ongenooides, Villa Rosa, Getroud met Rugby en 7de Laan. Hy werk vir 12 jaar (tot die einde van Augustus 2009) as Toesighoudende Vervaardiger van Egoli en is tans voorsitter van die Teater Bystandsfonds.