Brian du Preez

Brian du Preez is ’n plantkundige en ekoloog en stel veral belang in die flora van die Kaapse blommeryk. Hy is ’n nadoktorale navorser en beklee die gesogte posisie van Smuts Memorial Nadoktorale Genoot vir die jaar 2024. Hy werk ook as ’n onafhanklike plantkundige en ekoloog vir omgewingsimpakstudies. 

Brian, ’n boorling van George op die Tuinroete, het sy matriek in 2011 by Glenwood House voltooi, waar hy verskeie omgewingsprojekte op die skoolgronde van stapel gestuur het, insluitend die plant van honderde inheemse bome en struike, die rehabilitasie van ’n vleiland, en die monitering van luiperds in die woude om George met veldkameras te monitor. By die 2011-prysuitdeling is hy met die skoolhoof se toekenning en ’n buitengewone eretoekenning vir sy omgewingswerk vereer.

Hy het in 2012 natuurbewaring by die Nelson Mandela Universiteit (NMU) se George-kampus (voorheen bekend as Saasveld) begin swot. Hy het ’n diploma (2014) en BTek (Natuurbewaring) (2015) verwerf voor hy na Stellenbosch verhuis het. In 2016 het hy ’n honneursgraad in biodiversiteit en ekologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf, waarna hy vir ’n meestergraad in plantkunde, ook by US, ingeskryf het. Hy het sy MSc in plantkunde in 2019 met lof geslaag met ’n verhandeling wat die genus Polhillia hersien het, insluitend die beskrywing van vier nuwe spesies, waarvan hy een self naby Garciapas ontdek het, ’n paar maande voor die indien van sy verhandeling. In Mei 2019 het hy ’n fakulteitbeurs vir sy doktorale studies deur die Universiteit Kaapstad ontvang, vir ’n studie oor die genus Indigofera binne die Kaapse blommeryk. Ondanks vertragings deur die Covid-inperkings veroorsaak, het hy in Julie 2023 sy doktorsgraad ontvang.

Brian du Preez is passievol oor planttaksonomie, evolusie en die bewaring van ons besonderse biodiversiteit. Hy werk grootliks oor verskillende groepe in die Fabaceae (ertjieplantfamilie), en het oor die afgelope 11 jaar minstens 10 nuwe spesies ontdek, vier spesies herontdek wat as uitgesterf beskou was, en vele ander besonderse ertjievondste. Hy het ook in 2021 ’n nuwe satynblomspesie in die Langeberge naby Grootvadersbosch ontdek wat ’n daguitstappie van 34 km vereis het om plante vir beskrywing te versamel. Hy het al meer as 1 000 herbariummonsters vir sy en ander plantkundiges se navorsing versamel. Hy begin binnekort om veldwerk in die somerreënvalgebied van Suid-Afrika te doen, waar hy na meer as 200 verskillende Indigofera-spesies gaan soek vir sy volgende navorsing. 

Hy is ook passievol om bewustheid te kweek van verskillende omgewingskwessies, en deel graag sy kennis op verskeie sosialemediaplatforms, insluitend FacebookInstagram, en YouTube. Hy het onlangs op Carte Blanche verskyn oor ’n omstrede ontwikkeling op die buitewyk van Stellenbosch, en het ook in 2023 op die program 50/50 verskyn. Hy het ook al op verskeie radiostasies onderhoude gedoen.

Kollig op akademikus Brian du Preez: Plantkunde en natuurbewaring

Brian du Preez SteedsDink 2024-10-17

In LitNet Akademies se SteedsDink-video’s vertel Afrikaanse akademici van die interessante navorsing waarmee hulle besig is. In hierdie video gesels Brian du Preez oor sy passie vir natuurbewaring, plantkunde en die buitelug, en hoe hy sy navorsingsnis ontdek het. Volg vir Brian op Facebook by Brian du Preez – Botanist en op Instagram by @brian_botanist.

SteedsDink met LitNet Akademies: Brian du Preez oor sy akademiese navorsing

Brian du Preez SteedsDink 2024-10-17

In LitNet Akademies se SteedsDink-video’s vertel Afrikaanse akademici van die interessante navorsing waarmee hulle besig is. In hierdie video gesels Brian du Preez oor sy navorsingsfokus, naamlik taksonomie, evolusie en bewaring van die genus Indigofera in Suid-Afrika. Hy vertel ook meer oor plantstropery, genetiese data, die herontdekking/ontdekking van plantspesies en die belang van brande. Volg vir Brian op Facebook by Brian du Preez – Botanist en op Instagram by @brian_botanist.

Top