Anneretha Combrink matrikuleer in 1998 aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Sy studeer voorgraads in kommunikasiekunde aan Noordwes-Universiteit. Tydens haar universiteitsloopbaan dien sy in die redaksie van die Wapad-studentekoerant. Dit is ook tydens haar studentejare dat sy ’n liefde ontdek vir die oorsteek van grense en vir verskillende kulture. In 2002 raak sy betrokke by die ATKV-Skryfskool. Hier help sy met die aanbied van skryfkursusse vir skoliere, en tree sedertdien ook as groepleier by die jaarlikse herfs- en lenteskole op. Die afgelope tien jaar is Anneretha betrokke by die koördinering van gemeenskapseie skryfprojekte en die aanbied van woordkunswerkswinkels. Sy is ook op vryskutbasis betrokke by Karos & Kambro, ’n jeugontwikkelingsorganisasie, vir wie sy onder meer gemeenskapseie dramas skryf. As kommunikasiekoördineerder van Operasie Mobilisasie se Afrika-Area-kantoor ontwikkel sy tans publikasies vir sendelinge in Afrika. Haar doktorale studie fokus op die rol van oraliteit en identiteit in die bevordering van gemeenskapseie woordkuns in Suid-Afrika.