Ateïste en hul dinge

  • 0

Dit word aan Voltaire toegedig dat hy sou sê “If a miracle occurred in the market place of Paris and in the presence of two thousand men, I would rather disbelieve my own eyes than the two thousand.” As die deursnee-ateïs maar só grootmoedig en eerlik met homself wou wees.

Die fisika student sal kennelik sy kursus faal as hy te kenne sou gee dat hy nie glo dat daar iets soos atome is nie, omdat hulle vir hom nie waarneembaar is nie (hoewel tog vir ander, wie beter toegerus is…). Maar die effek van atome is welbekend en kan gesien word en enige student van die geskiedenis sal die effekte daarvan by Hirosjima en Nagasaki kan beskrywe en selfs die onsiende student sal geredelik aanvaar dat atome wél bestaan. As die deursnee-ateïs maar net so grootmoedig sou wou wees, want die effek van God se bestaan is selfs véél meer opmerklik, maar ook in die bestaan van atome en ander minder sigbare materie.

Dan is daar natuurlik ook die dilemma dat ateïsme nie ’n uitvoerbare geloof is nie. ’n Voorbeeld is dié van ateïs/zen boeddhis John Cage, ’n na-oorlogse lid van die avant-garde, komponis van beroep. Hy het geglo dat alles in die heelal onpersoonlik in wese is en die ontstaan van alles het hy gekrediteer aan blote “chance” of toeval. Om dié filosofie en geloof uit te leef, het hy ook toeval gebruik om sy werk te komponeer – hy het muntstukke gedraai en dobbelsteentjies gegooi om sy komposisies te konstrueer met die gevolg dat meeste daarvan ’n onordelike, inkoherente en onluisterbare deurmekaarspul is. Hy het ten minste probeer om sy lewensfilosofie uit te leef, hoe ontoereikend die gevolge ookal mog wees… of het hy? Hy was ook ’n persoon met ’n passie vir die stokperdjie van mikologie – die versameling van sampioene. Dáármee kon hy egter nié sy lewensfilosofie uitleef nie, want as hy sommer lukraak die sampioene moes hanteer deur die gooi van steentjies of die draai van muntstukke, het hy self erken, sou hy waarskynlik eerder vroeër as later, sterf aan vergiftiging. Hy was dus ook ’n mens wat sy lewensfilosofie nié ten volle kon uitleef nie… en tog maar erkenning moet gee aan ’n groter orde as hyself. Predik een ding, leef ’n ander… Romeine 1:18 beskrywe sulke mense treffend.

Lucretius (99-55 v.C.) word deur navorsers beskou as die eerste volbloed ateïs, of naturalis, maar sy lewe gaan ook gepaard met beweringe van aanvalle van diepe waansin en emosionele onstabiliteit, totdat hy in sy middeljare blykbaar selfmoord gepleeg het. Nie ’n baie bemoedigende wegspringblok vir die hedendaagse ateïs nie. Tragies genoeg het hy dan ook as aansporing en selfs inspirasie gedien vir ander agnostici, soos Vergilius en Horatius, maar sy invloed het gedurende die Middeleeue bykans geheel en al verdwyn.

Ten slotte is daardie staaltjie van C.S. Lewis en sy skriba, Walter Hooper. Toe hulle op ’n dag in die begraafplaas by ’n graf verbyloop, staan daar op ’n grafsteen “Here lies an atheist, all dressed up and nowhere to go”. Hooper het onderlangs gelag daaroor, maar Lewis was meer ernstig, met die aanmerking “I’m sure he wishes now that were true…”

Groete,

Kobus de Klerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top