Ateïsme, realisme of surrealisme
Ek sien Angus sê dat die ateïsme sinoniem met realisme is.
Nou, volgens die geleerdes, beteken die begrip “realisme” ’n denkrigting wat hom besig hou met feite waar alle idealisme, sentimentalisme en vooroordeel uitskakel poog te word deur hom tot wat prakties is, te bepaal; ‘n lewensleer wat hom rig op die waarneembare werklikheid waarin algemene idees objektief bestaan.
Maar kom ons vergelyk dit met die begrip “surrealisme”. Dieselfde geleerdes sê dat dié begrip, “surrealisme”, ’n kuns- of denkrigting omskryf waarby alles geuit, weergegee word wat in die gees kom, in die onderbewuste aangaan, sonder kontrole van die rede en sonder morele of estetiese oorwegings, waardeur fantastiese, onsamehangende vlugte van die verbeelding deur onnatuurlike naasmekaarstellings en verbindings ontstaan.
Die deursnee-ateïs sal sekerlik die realisme-toets faal, sommer by die intrapslag. Vooroordeel ten aansien van sake Gods, oor die algemeen, is by die ateïs ingeburger. As hy oor sake Gods skryf, praat, dink, is vooroordeel die sif, die filter, waardeur alles eers beweeg. Nou ja, daarna bly daar nie veel oor vir hom om mee te deel nie, want sy vooroordeel neem die lewe uit sy eie ondersoek uit deurdat wesentlike data en studiemateriaal (spirituele dimensie) gewoon uitgesluit en afgesny word. Die ateïs kán gevolglik net eenvoudig onmoontlik vir homself ’n geheelbeeld van daardie studieveld versamel.
Daar is natuurlik ook uitsonderings. Van al die ateïste wat hier skrywe, is die enigste een wat uitgesonder kan word, natuurlik Wouter Ferns. Hy is waarlik die enigste een wat kop en skouers bokant die ander uitstaan, omdat hy toenemend die vermoë het om sy persoonlike vooroordele, voorkeure en geite eenkant toe kan skuiwe en meer objektief ondersoek kan hou en merkwaardige resultaat daarmee kan bereik. Onlangse artikels van hom bevestig hierdie vordering. Dit was nie so toe hy hier begin skrywe het nie, maar hy het stelselmatig bokant sy eie geite uitgestyg en is sy artikels deesdae al meer en meer objektief en lesenswaardig. Maar hy pas vir verskeie redes, nie werklik in die ateïs-kas saam met die ander nie… en dié dinge het ek al tevore verskeie male uitgewys. Hy sal nog baie harte bly maak, na die regte kant toe…
Terug by die deursnee-ateïs.
Weens die vooroordeel, is daar noodwendig ook ’n baie sterk antagonistiese sentimentalisme jeens alle sake Gods, en anti-Godsdienstige idealisme wat enige objektiewe ondersoek dodelik in die kiem smoor. Dus, by die realiteite van die sake Gods, kán die ateïs op sy eie, nie uitkom nie.
Daarom is die ateïs bepaald dan ook nie ’n realis nie, want om ’n realis te wees, moet hy noodwendig die realisme as uitgangspunt van sy lewensbeskouing en uitlewing realiseer – ’n persoon wat net met feite rekening hou, wie se handeling op die waarneembare werklikheid gerig is. Die spiritualiteit, wat deel is van die menslike wese en opset, word weens die ateïs se vooroordeel en gevolglike onrealistiese benadering, bykans geheel en al oor die hoof gesien en onderdruk, sodat hy nié die waarneembare werklikheid daarvan, kan begryp nie, wat nog te sê, die feite daaromheen. En weens daardie onrealistiese disposisie van die ateïs, is hy ook nie in staat om die realiteite rondom God en Godsdiens te begryp nie.
Hoewel “surrealisme” ’n begrip is wat meestal ’n stroming in die kunste beskrywe, kan dit net sowel ook aangewend word om ’n gepaste lewensbeskouing ook te beskrywe, met die nodige aanpassings.
Ons het nou al vasgestel dat die ateïsme eintlik maar net nog een van talle religieë is, hoewel waarskynlik die religie met die minste werklike aanhangers. Deel van daardie religie spreek die ontstaan van dinge aan – en die ateïs se aanspraak is die darwinistiese evolusieleer en die groot knal leerstuk vir die heelal.
Enigeen wat ’n studie maak van dié leerstukke van die ateïstiese religie, sal sien dat dit deurspek is van onbewysbare, onwetenskaplike teorieë in die vorm van fantastiese, onsamehangende vlugte van die verbeelding deur onnatuurlike naasmekaarstellings en verbindings en sommer wilde stellings om die vooroordele wat die benadering van dié mense kenmerk, te akkommodeer – teorieë word rondom karige feite gebou, juis om die vooroordele te akkommodeer nè selfs te bevorder, ongeag die onwetenskaplike aard daarvan, onbewysbaar soos dit is.
Dus, ’n ateïs is baie bepaald nie ’n realis nie en derhalwe kán ateïsme nie sinoniem vir realisme wees nie.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie brief, Kobus. Ek hoop dit gaan goed met jou. Dankie dat jy so volhard hier op SêNet. Dit is nie altyd 'n maklike taak nie. Ek sien baie van die gilbekke het nou ophou briewe skryf en los net hulle liggewig aanmerkings onder die kommentaar gedeelte, waar mens vinnig met hulle kan les opsê of ignoreer.
Dankie, Kobus, dan is ek nie 'n ateïs nie, maar 'n realis of rasionalis. Ek is nie bevooroordeeld teenoor wat jy glo nie. Bewys my die bestaan van God (ek praat nou nie van daardie karakter in die Bybel nie) en ek sal weet dat hy bestaan. Ek het natuurlik klinkklare bewyse dat hy 'n skepping van die menslike verbeelding is.