Jaco beweer dat ek in my skrywe van 24 deser "sanik" in plaas van met positiewe voorstelle te kom. Hy stel voor dat ek nie in isolasie moet werk nie. Duitswester wys op 27 deser tereg daarop dat dit die eertydse leierskap van die wittes, veral van die Afrikaners, is wat die huidige politieke opset op ons afgedwing het.
Ek probeer om ingeligte, verantwoordelike kommentaar te lewer. Dit is 'n feit dat ek in isolasie werk, maar nie noodwendig sonder resultate nie. Ek is nie 'n groepmens nie en was daarom nooit lid van bv die Nasionale Party (of enige ander politieke party) of die Broederbond (of soortgelyke organisasies) nie. Met Solidariteit/AfriForum en Praag het ek al saamgewerk en AfriForum selfs al met geld ondersteun, maar ek koop dikwels boeke en dit laat my met bitter min finansiële spierkrag.
In hierdie skrywe beperk ek my tot die politiek en my skrywes van die afgelope maand. Dit is misleidend om te beweer dat ek sanik en met geen positiewe voorstelle kom nie. Daar moet in gedagte gehou word dat daar vir iedere skrywe beperkte ruimte beskikbaar is. Die lesers moet dus dikwels self toepasbare gevolgtrekking maak.
Op 3 deser het ek gewys op hoe die Duitsers verguis is op 'n wyse soortgelyk aan die Afrikaners; dat in die beoordeling alles oor die politieke boeg gegooi word en geen erkenning aan hierdie mense se uitsonderlike prestasies gee word nie. My opmerkings kan positiewe gevolge hê as Afrikaners insien dat hulle eensydig gekritiseer word en dat hulle baie rede het om ook trots op die verlede te wees. Die boodskap is: Moenie toelaat dat julle vertrap word nie; des te meer as dit deur elemente is wat meer rede het om skaam oor hulle verlede te wees.
In my skrywes oor Laurens van der Post (8 Mei), Roald Dahl (10 Mei) en Desmond Tutu (22 Mei) het ek aangetoon dat daar 'n verskil kan wees tussen wat 'n persoon was of is en sy openbare beeld. Die gevolgtrekking wat die leser kan maak, is dat iemand (bv Nelson Mandela) wat tans opgehemel word as bv net 'n vredesikoon in werklikheid ook 'n onrusstoker en geweldenaar was. 'n Mens moet bedag daarop wees om jou nie deur politieke retoriek en propaganda te laat mislei nie.
Op die 14de en 15de het ek oor Willie Esterhuyse se jongste boek geskryf. Onder andere gaan dit hier om die dubbele skuld van verloopte Afrikaners (SêNet, 15.08.2011); die weerhane wat eers gehelp het om apartheid uit te bou en dit daarna wys geag het om verswelging deur swartes te steun. Daar is uitgewys hoe destruktief dit is om sonder meer te aanvaar dat swartes net reg en wittes net verkeerd het; ook dat geweld 'n kern-element in die geskiedenis van die ANC is. Gwede Mantashe het bv pas (na aanleiding van die ANC se suksesvolle sensurering van 'n skildery) gesê "dat enigiets in die strate gewen kan word" (Die Burger, 30 deser, p 2). Naas die negatiewe in die nalatenskap van apartheid (waaraan ons gereeld herinner word, terwyl die positiewe verswyg word) is daar die nalatenskap van die ANC se terrorisme, wat tot op hede gereeld in geweld uiting vind. Die kommentaar wat ek op die 14de gelewer het, kan 'n positiewe invloed hê as dit lesers bedag daarop maak om krities te lees. Dit kan ook help om ons huidige politieke opset en die voortslepende geweld oor bv dienslewering te verstaan.
In my skrywe van 15 deser word duidelik gemaak dat die ANC in sy kern kommunisties is. Dit kan lesers help om in te sien dat die Zuma-regering meer kommunisties as enige vorige Suid-Afrikaanse regering is. Hoër onderwys is bv aan die plaaslike hoofkommunis toevertrou, maar geen haan kraai daaroor nie. Magsdeling is aan die blanke kiesers belowe, maar algehele magsoorgawe aan swartes is wat hulle ontvang het. Die wittes is uit hulle toekoms verneuk, soos deur Duitswester (eerste paragraaf hierbo) bevestig is. Die wittes het tuislande aan swartes gegun. Deesdae het ons 'n eenheidstaat waarin wittes nie 'n tuisland gegun word nie, onder andere omdat wittes daarvan 'n reuse sukses sou maak. Werklike magsdeling, bv (minstens) die helfte van die politieke mag in die hande van die blankes, sou Suid-Afrika se belange baie beter as die huidige opset gedien het.
Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die huidige politieke opset na my mening onwettig is omdat dit nooit deur die blanke kiesers goedgekeur is nie. Ook dat Esterhuyse en die ANC hoog opgee oor die afskaffing van groepregte, asook die uitskakeling van rassediskriminasie. In werklikheid word slegs die wittes groepregte ontsê en daar mag tans maar teen wittes (en net wittes) gediskrimineer word. Wittes mag deesdae nie bevoordeel word nie en nie-wittes mag nie op etniese gronde benadeel word nie.
Nelson Mandela en Thabo Mbeki het hulle konsekwent vir die belange van hulle etniese groep, die swartes, beywer. Esterhuyse is in die onbenydenswaardige posisie dat hy die swartes se belange ten koste van dié van sy eie mense, die wittes, bevorder het. Hy salf sy gewete op die geykte manier: Ons is almal Suid-Afrikaners; die geheel is belangriker as die dele. Soos Mbeki dit gestel het: Blankes is welkom om in die land aan te bly, mits hulle die swartes help. In die nuwe Suid-Afrika word hiermee uitdrukking aan die wittes se tweederangse burgerskap gegee.
My fundamentele gevolgtrekking is: Die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief. Suiwer kwantitatiewe stemreg, een-asem-een-stem, is 'n onding. Kwalitatiewe elemente moet bygevoeg word. Byvoorbeeld, stemreg behoort tot nie-misdadige funksioneel geletterdes beperk te word en parlementslede en diegene wat sitting in die provinsiale en plaaslike rade het, behoort oor ten minste 'n matrieksertifikaat maar verkieslik oor 'n graad (eregrade uitgeslote) te beskik. Dan sou hulle buitensporige vergoeding in 'n mate geregverdig kon word en bestuur in die owerheidsektor sou baie verbeter.
Selfs met hierdie herbesoek aan my briewe kan ek hier nie die heelvlakkigheid van die situasie in afdoende mate stel nie; daarvoor is 'n boek nodig. Jaco kan steeds vra wat ek omtrent die huidige politieke opset gaan doen. Anders as hy wil ek nie sonder meer met die nuwe bewindhebbers saamspeel asof alles wel is nie. Om bewustheid van hierdie onverkwiklikhede te kweek, is myns insiens 'n heilsame eerste stap in die rigting van iets beter. Die meul sal waarskynlik baie stadig maal. Van êrens af sal ons seker hulp moet kry. Ek het egter bitter min vertroue in die mensdom. Dit is 'n spesie waarvan die massa nie uit foute leer nie omdat eerder instinktief as rasioneel gehandel word.
Dit bring my by die brief (24 deser) waarin ek volgens Jaco "sanik". Eintlik noem ek in die brief van die maatreëls wat nodig is om sake reg te trek, of hulle kan maklik afgelei word. (1) Stel die beste, dus bekwame, amptenare op 'n nie-demografiese, nie-rassistiese en nie-seksistiese grondslag by munisipaliteite en in die staatsdiens, polisie, weermag, ens, aan. (2) Vervolg en vonnis korrupte amptenare, nie-betalers en alle ander misdadigers. Diegene wat paaie versper, eiendom beskadig, bv deur brande te stig en klippe te gooi, moet swaar gestraf word. Dwangarbeid behoort die voorland te wees van almal wat groot skade aanrig. (3) Ken staatshuise toe net aan diegene wat vooraf onderneem om hulle verpligtinge na te kom en sit nie-betalers uit die huise. (4) Skort die regte (die reg op dienste, stemreg, die reg om te betoog, ens) van nie-betalers en van alle ander misdadigers op. (5) Moedig almal aan om nie-politiek-korrek enersyds kritiek en andersyds lof uit te spreek ten einde die nuwe Suid-Afrika 'n beter land te maak.
Met verwysing na my jongste brief (29 deser) het ek vertroue dat daar nog genoeg egte akademici is wat nie onbepaald vir lief met die huidige situasie sal neem nie. Hulle sal voortdurend en duidelik besware teen die verpolitisering van universiteite moet opper en hulle vir akademiese vryheid en universitêre outonomie moet beywer. Akademici het dit voorheen gedoen. Waarom nie nou weer nie?
Johannes Comestor


Kommentaar
Beste Johannes
Ek kom agter dat die word “sanik” wat ek in ‘n vorige respons gebruik het jou bitter ongelukkig gemaak het. Derhalwe trek ek dit terug. Ek weet jy bedoel goed vir die Afrikaner en verdien nie die gebruik van die woord nie. Inteendeel, ek verseker jou my bedoeling was nie om jou persoonlik in die gesig te vat nie, dit het terloops gebeur weens my persoonlike frustrasie om gedurig van die sondes (beide kante toe) van die verlede en die onvermoe van die regering om te regeer van verskeie bronne aan te hoor en te lees.
My siening is, wat verby is, is verewig verby. Niks kan daaraan gedoen word nie. En ek weet ek is nie verkeerd nie. Of die nuwe bedeling wettig of onwettig tot stand gekom het, is daar niks aan te doen nie. Om oor enige wetsaspek te bewys dat die huidige bestel onwettig is, is ‘n nuttelose oefening, ook niks daaraan te kan doen nie. Ons as Afrikaners moet eerder vorentoe kyk, en vir ons mense oplossings soek in ‘n vyandige omgewing.
Die Afrikaner staan tans apaties teenoor sy eie toekoms as ‘n volk. Dis ‘n feit. Hy toon geen belangstelling in enige vorm van selfbeskikking tans nie. Om vir enige idiologie vir die Afrikaner, van watter aard ookal, te probeer formuleer, is ook tans ‘n oefening in nuttloosheid.
Die indiwiduele Afrikaner se prioriteite vandag is: Werksgeleenthede skepping; Beveiliging van persoon en eiendom; om rassisme teenoor hom gemik te bestry. Hy ondersteun die DA hoofsaaklik vir die einste redes. Hy sien die DA als enigste medium om die ANC omver te gooi, ook ‘n prioriteit in sy lewe.
Dis nog vroe dae. Maar die totstandkoming van AfriForum het my opgewonde gemaak. Ek sien in hulle die “nucleus” vir die uiteindelike totstandkoming van ‘n aanvaarbare Afrikanerraad (die huidige een is ‘n klug sonder veel Afrikaner ondersteunig, en is en sal impotent in alle Afrikaner sake bly). AfrForum het die geld, ‘n groot ondersteuningsbasis, die ondersteuning van die Taalraad; Soladariteit; ATKV; Kultuurrade; Kerke; ens. Hulle is aggressief aktief in Afrikaner belange, tot so ‘n mate, hulle begin die Afrikaner se verbeelding aan te gryp. ‘n Begin tot die mobilisering van die volk. Die jaloerse Afrikaners wat hulle teestaan, doen Afrikanerdom ‘n groot onguns vir selfsugtige eie gewin.
Om in isolasie op te tree, is na my mening ook ‘n vermorsing van jou goeie talente. Alleen gaan jy omtrent geen impak nerens maak nie. Nieteenstaande, ek wens jou alles wat goed is toe.
Jaco Fourie
Johannes,
Kan ek net 'n lansie breek vir jou hier. Jy kry geweldig baie negatiewe kommentaar op hierdie webwerf van skrywers wie se skryfstandaard ver onder die van joune is (In my beskeie opinie). So namens die stille leser wil ek graag sê, doen so voort. Jou skrywes word geweldig waardeer, veral deurdat daar verstaan word hoe lank dit vat om so 'n skrywe van die standaard te produseer.
Groete
Een van die hopelik hordes stille lesers.