As ons minder gelate was …

  • 4

Wat sou die stand van Afrikaans wees indien ons Afrikaanssprekendes meer fut in ons pype gehad het?  Dis maklik om te bepaal, mens vat net die omgekeerde van die huidige toestand:

1) Engelse predikante sal kort-kort in 'n preek sê " ... as it is so aptly described in Afrikaans ...", of, "... the Afrikaners put it so beautifully ..." en dan 'n Afrikaanse aanhaling gee.  Ook sal hulle kort-kort oorslaan na Afrikaans en dan lang stukke in Afrikaans preek.

2) Inbellers op Engelse radiostasies sal na 'n rukkie se gespook met Engels vra of hulle maar na Afrikaans toe kan oorslaan en die omroepers sal dan sê "you're welcome" en dan in baie gevalle ook nog in Afrikaans met die inbeller praat.  Ook sal Engelssprekende gaste soos chefs, sielkundiges, wetenskaplikes ens kort-kort sê: "... I don't know the English for this ..." en dan voortgaan en die Afrikaanse term gebruik.

3) Engelse kunstenaars, beeldhouers en fotograwe sal hulle skeppings Afrikaanse titels gee.

4) Engelse glans- en leefstyltydskrifte sal agterin 'n Afrikaanse opsomming hê, later 'n Afrikaanse weergawe en nog later sal die tydskrif slegs in Afrikaans beskikbaar wees (soos VISI).

5) Engelse musiekfeeste sal al hoe meer Afrikaanse musiek speel en uiteindelik sal die fees heeltemal verafrikaans.

6) Woonstelblokke en trosbehuisingskemas sal Afrikaanse name hê al is die eienaars Engelssprekend.  Engelse mense wat liefdadigheidsorganisasies stig sal dit Afrikaanse name gee.

7) Restourante en straatkafeetjies sal Afrikaanse name hê en alle spyskaarte sal Afrikaans wees.  Engelssprekendes wat kla oor die Afrikaanse spyskaarte sal vies daarop gewys word dat dit te duur is om die spyskaarte in Engels ook te druk of, sou dit in Engels ook gedruk word, hulle die goed dan ook in Zoeloe moet druk.

8) Alle brosjures in die parke sal in Afrikaans wees (toeriste-agentskappe in die buiteland sal Duitse, Franse, Engelse ens vertalings en fraseboekies verskaf).

9) Daar sal Engelse ekwivalente van mense soos Dan Roodt of Steve Hofmeyr wees; iemand wat bekommerd is oor die agteruitgang van Engels.  Hierdie persone sal verguis word deur die Engelse gemeenskap, daarvan beskuldig word dat hulle Engelssprekendes in die verleentheid stel.

10) Op Engelse forums waar debat gevoer word (soos SêNet) sal die briewe Engels wees maar aanhalings van Einstein of Confucius of uit die Bybel sal in Afrikaans wees.

11) Immigrante sal in hulle duisende vanuit Australië, Nieu-Seeland en Kanada Suid-Afrika binnestroom vanweë die beter lewensgehalte in Suid-Afrika.  Afrikaanssprekende wyn- en kaasmakers se etikette sal Afrikaans wees.  Alles wat op blikkies, bottels, kartonne of enige houer geskryf is sal in Afrikaans wees.  Advertensies op TV sal Afrikaans wees al is die programme Engels.

12) Opskrifte en baniere by vlooimarkte, al is dit in oorwegend Engelssprekende gebiede, sal in Afrikaans wees.

13) Selfone, rekenaars ens asook motors se paneelinstrumente sal Afrikaans wees.  Modelname van motors sal Afrikaans wees.

14) Engelssprekende Kaapses sal kort-kort oorslaan Afrikaans toe en as hulle Engels praat sal hulle lukraak Afrikaanse woorde ingooi.  Aartie-faarties sal, as hulle Engels praat, hulle taal deurspek met Afrikaanse woorde.

15) Op die Engelse nuus- en aktualiteitsprogramme sal lang Afrikaanse aanhalings van swart ministers en kultuurleiers wees.

16) Swart kindertjies sal by Engelse skole opdaag en eis om in Afrikaans onderrig te word.  Op dieselfde manier sal Engelse universiteite heeltemal verafrikaans.

Maar, soos ek al aangedui het, dis net andersom.  En, soos ek ook al voorheen gesê het, dit het niks met die taal te doen nie maar met die mense.  Wat het ons so gelate, so geduldig, gedienstig en gedweë gemaak?

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Jan,

    Daar was 'n tyd wat onse Rand, byna gelyke waarde as die Ingelse Pond en Amerikaanse Dollar geniet het.

    In daardie dae was dit nogals byna soos jy dit hierbo wil het.

    Intussen het Afrikaners, net 'n fraksie se aandeel oor in vandag se demokrasie en die Rand, is selfs tien maal minder werd as destyds.

    Om die hartseer som te maak, moet 'n mens die persentasie wat Afrikaans in Suid-Afrika verteenwoordig tot een Rand as 'n verwysing bepaal, en dit minstens deur tien deel om 'n vergelyking met vroeëre jare te maak.

    Dis te pynlik vir my om sulke somme klaar te maak; ek raai sommer dat die antwoord niks meer as 0.1 gedeel deur 10 gaan wees nie - so vêr het Afrikaans in vergelyking met ons Republiekdae, deur sy eie bodem geval.

    Die Pond sal baas bly, lank na die Amerikaners ook deur hul eie bodem geval het. 'n Ingelse tong (Pond) blyk goed te wees om oral mee te survive!

    Boeregroete,

    Cornelius Henn

    ... en o ja Jan, as ek dalk vir 'n wyle stil raak hier, is dit omdat ek diep in onse Ingelse Afrika rondswerf en al ietwat uitasem is van duine klim net om 'n bietjie te kom oordenk op die werf ...

  • Wonderlik! Verbeel jou die Spanjaard, Nadal, wen die Franse Ope. Hy sukkel nie 'n paar woorde Frans, slaan dan oor na bietjie Spaans en dan, ten einde raad, doen hy sy bedankings in Engels sodat almal kan verstaan nie. Nee, hy praat sommer van die begin af prontuit in Afrikaans, want dis 'n wêreldtaal en almal verstaan dit.

  • Daar's hy Angus, laat jou gedagtes uit die boksie uit man!  Soos Henry Ford gesê het, of jy nou glo jy kan 'n ding doen of nie, jy's altyd reg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top