
Foto: Canva.com
As môre nie ontwaak nie
die rede vir dag het oor my hoof verrys
en geen skimmelperd is teen die blou in sig nie
sagkens streel die herfswind oor kosmos se gesig
troos hom met thula-thula-woorde van berusting
kyk hoe kleur die rante in vloeiende amber
gaan lê die laatmiddag lepel teen skemer se rug
vrede steek vuur aan in die kaggel van my hart
en dankbaarheid kniel versugtend in my gemoed
my longe het vir nog ’n dag die lewe ingeasem
en my kykers het die wink van nag se wuif herken
terwyl ek stil-stil my gebede voor die altaar los
want ek weet dat môre dalk nooit weer ontwaak nie.


Kommentaar
Oe, Drienie, dis wonderlik! Die beelde! O, dis boeiend, mens! Jy is 'n uitsonderloke woordmeesteres!
So baie dankies vir die mooi reaksie op my skrywe, dit maak dit altyd die moeite werd. Dit is vir mense soos u wat ek graag my hart op papier stempel. Baie dankie.🌹