
Foto: verskaf
As Kleinmond brand
My venster vertel die as-tot-as-verhaal
van grawers, kruipers, lopers, springers, vlieërs
wat hom ongereël so gereeld herhaal.
Skaars twee dae t’rug
van Jean’s Hill tot Swartrivier
se donkerkoel fynbosbrug
staan vars suikerkanlote
verby Drie Susters en Hanneshoek
bruingroen, blomparaat, opgeskote.
Ek verwonder my nog oor die mooi
van eindelose groen, spatsels geel
klossies parmantig’ sewejaartjierooi
toe stil, dreigend, doelgerig
ligte kwashale van wit-blou
wegskuif voor my gesig
plek te maak vir rooitandgeeltongvuur
wat met onversadigbare aptyt
reageer op sy allesverterende natuur.
Vuur jaag sy vreetlus te bevredig
vir langbeen tienergroen suikerkan
enkel onmagtig hulself te verdedig
om met kil knetterkraak te kou en herkou,
’n helse komeet met asemrowende rookstert,
als wat hardloop, kruip, wegkruip ... of nog wou.
In sy vreetspoor lê aswit splinterloof
staan spookagtig vaal plant- en dieregraat
naak, bloedrooiblosend van kleed beroof.
Zombiestram en stom loop inwoners, bykommers heeldag
die dreunende woer-woer-spoor van helikopter agterna
te aanskou sy Kaapse draai, sy potente watervrag.
Toenemend angsbevange, nuusgedrewe selfoonskare
vryskutvang klik-klik-klik die oergeveg
bloed brandend in hul bruisende TikTok-are.
Met een magtige skep uit die gholfbaan se waterbak
word water en waterblom, visse, ’n padda of twee
metronomies-presies ontplooi op rooistompies, ’n dak.
Vuur en vlieënier blyk daarvan ewe bewus
dat lug-tot-grond ’kopterwaterbom
vuur alleen bedags effektief kan blus.
Vuur veg, vlug, veg terug
val plat, staan op, hap en sluk
’n heethonger hond met gebreekte rug.
Dan, skielik, is sy byt stomp, sy tong pap
wyl rillings sporadies oor sy lyf hom noop
nog een maal, geeltandgulsig te hap.
Deur my wyehoek-grootoog-bergfrontlens
lê Perdeberg nou bloots, half ontdier, ontplant
maar met nuwe reën gou-gou heel blinkpens.
- Met waardering teenoor elke vuurvegter op die grond of in die lug. Mag ons ter wille van wie die veld doelmatig gebrand word om natuurlike veldbrande weg te hou van ons, die eintlike indringers, reageer deur nooit weer die veld as ons deksellose, bodemlose vullisdrom te hanteer nie.

