As Kleinmond brand

  • 0

Foto: verskaf

As Kleinmond brand 
My venster vertel die as-tot-as-verhaal 
van grawers, kruipers, lopers, springers, vlieërs 
wat hom ongereël so gereeld herhaal.

Skaars twee dae t’rug 
van Jean’s Hill tot Swartrivier 
se donkerkoel fynbosbrug

staan vars suikerkanlote 
verby Drie Susters en Hanneshoek 
bruingroen, blomparaat, opgeskote.

Ek verwonder my nog oor die mooi 
van eindelose groen, spatsels geel 
klossies parmantig’ sewejaartjierooi

toe stil, dreigend, doelgerig 
ligte kwashale van wit-blou 
wegskuif voor my gesig

plek te maak vir rooitandgeeltongvuur 
wat met onversadigbare aptyt 
reageer op sy allesverterende natuur.

Vuur jaag sy vreetlus te bevredig 
vir langbeen tienergroen suikerkan 
enkel onmagtig hulself te verdedig                    

om met kil knetterkraak te kou en herkou, 
’n helse komeet met asemrowende rookstert, 
als wat hardloop, kruip, wegkruip ... of nog wou.

In sy vreetspoor lê aswit splinterloof 
staan spookagtig vaal plant- en dieregraat 
naak, bloedrooiblosend van kleed beroof.

Zombiestram en stom loop inwoners, bykommers heeldag 
die dreunende woer-woer-spoor van helikopter agterna 
te aanskou sy Kaapse draai, sy potente watervrag.

Toenemend angsbevange, nuusgedrewe selfoonskare 
vryskutvang klik-klik-klik die oergeveg 
bloed brandend in hul bruisende TikTok-are.

Met een magtige skep uit die gholfbaan se waterbak 
word water en waterblom, visse, ’n padda of twee 
metronomies-presies ontplooi op rooistompies, ’n dak.

Vuur en vlieënier blyk daarvan ewe bewus 
dat lug-tot-grond ’kopterwaterbom 
vuur alleen bedags effektief kan blus.

Vuur veg, vlug, veg terug 
val plat, staan op, hap en sluk 
’n heethonger hond met gebreekte rug.

Dan, skielik, is sy byt stomp, sy tong pap 
wyl rillings sporadies oor sy lyf hom noop 
nog een maal, geeltandgulsig te hap.

Deur my wyehoek-grootoog-bergfrontlens 
lê Perdeberg nou bloots, half ontdier, ontplant 
maar met nuwe reën gou-gou heel blinkpens.

  • Met waardering teenoor elke vuurvegter op die grond of in die lug. Mag ons ter wille van wie die veld doelmatig gebrand word om natuurlike veldbrande weg te hou van ons, die eintlike indringers, reageer deur nooit weer die veld as ons deksellose, bodemlose vullisdrom te hanteer nie.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top