As jy dit het

  • 2

My dogter het ’n swart katjie met wit voetjies.  Anderdag verwonder ek myself  hoe kosbaar God se natuur-skepping in haar is. Elke haartjie is presies op plek. Die voorpootjies het kort wit area, soos kort skoen-kousies en die agterbene is heeltemal wit. Die res van haar swart pels, is so swart, dat mens van hierdie kat, geen foto kan neem nie.

Sy het ’n sagte geaardheid alhoewel sy ook soos haar ma, ’n mal oomblik of twee in ’n dag kry waarin sy pure kat is. Ons het haar operasie-steke gister uitgehaal.  Sy het in volle vertroue haarself in ons hande oorgegee wyl my dogter aan die drade trek en torring om genoeg vislyn gesien te kry, sodoende dit te knip.

Dit het gisteraand weer gebeur, soos meeste aande wanneer ek bed toe gaan.  Iewers tussen die uittrek van my skoene en op die bed klim, blits sy die kamer in en gryp met haar sagte voetjies om my enkel. So vinnig as wat sy gryp-gryp, is sy weer weg en uit die kamer uit. So ’n laaste “Touch ’n go”.  Asof ons dan nou kamstig gespeel het of in kompetisie was! Wanneer ek haar pootjies so om my enkel voel vat-vat en draai ... voor ek kan sê “Wat?”... is sy al weer uit die kamer uit en sien ek haar nie weer nie.  Die laaste ‘sê’ het sy ingekry.  Sy vang my elke keer en met ’n glimlag in my oënskynlike neerlaag klim ek in die bed.

Hierdie klein oulik was laas jaar einde November gebore en is nou mooi 6 maande oud. Soos enige kat, is sy goed toegerus met al die nodige vernuf, vaardigheid, tande en naels. Sy het verseker haar veerkrag goed ontwikkel, want sy spring vanaf die middel van die kombuis-vloer tot bo-op die toonbank. Sy gebruik wat sy nodig het en weet wat sy het. Haar naels is vlymskerp en as sy hulle sou uithaal tydens ons ‘bed-time-story’, sal sy my maklik tot op die vloer kan trek in skreeuende pyn.  Om my saggies in ’n vaste greep te vryf is egter vir haar oorwinning genoeg.

Sy leer my vandag.

As jy dit het, beteken dit nie, “jy hoef dit te gebruik” nie.   Sy weeg nie ’n vyfde van my gewig nie en tien teen een is haar brein kleiner as my neus ... tog wen sy my elke aand.  Môreaand het ek al weer vergeet dat sy my om die enkel gaan gryp. Haar oorwinning is nie in wat sy het, of selfs in hoe sy gebruik wat sy het nie. Haar oorwinning is in hoe sy dit wat sy het, nie gebruik nie.

Ons almal het ook vlymskerp ammunisie mooi ingeryg, goed vol gestop, opgewarm en gereed om te gebruik.  Dit is in elkeen van ons se mag om dit te gebruik ... of nie te gebruik nie. Hierdie kat het binne die eerste ses maande van haar lewe geleer, wat mense dikwels in ’n hele leeftyd nooit geleer kry nie. As jy dit het, beteken dit nie, “jy hoef dit te gebruik” nie.  ’n Kaal hand oorwinning oor ’n leeu is groter as met masjiengeweer.  Woorde goed gekies, dieselfde.  Simson self, het met slegs die kakebeen van ’n  Donkie ... ’n duisend Filistyn ... gedood.

Berdine

  • 2

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Dit is nie dikwels dat mens iemand teëkom wat 'n ander so deeglik ontmoedig om dit wat die ander mee toebedeel is en gekry het om te gebruik, te gebruik nie. Lyk vir my so vreemd, sulke raad...

    Miskien het die katjie beter begrip vir die kwessie van die naels, of nie die naels nie, as die skrywer van hierdie ontmoedigende artikeltjie - naamlik, dat daar waarlik 'n tyd en 'n plek vir alles is - dit is wysheid, glad nie myne nie, maar die Wysheid Self, s'n (Prediker 3:1-8), waarin ek net die wonderlike voorreg het om in te deel omdat ek so graag wil.

    Mens wonder of sulke slim gelowiges ook hul HERE so met gewaad van vroomheid om hul woorde, sal berispe, oor Hy soms die skerpte van Sy Swaard aanwend (Mattheus 12:34; 23:27-28, 33; Lukas 10:13).  Wil so 'n mens 'n eie oplossing vind vir 'n siek wêreld omdat so 'n mens die Goddelike Weg soms weeg en te lig bevind? Is so 'n persoon werklik gelowig, of net verwaand onder die skyn van geloof?

    Dat 'n katjie kan onderskei, maar die wêreldwys slim mens, nie ... dit is die onbegryplike groot wonder van God se skepping.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top