
Foto: Canva
Wanneer stiltes skree
Dis wanneer die wind gaan lê
Rukkend-woes,
Wanneer die stiltes in die vlaktes kom hang
Wanneer die dink saam met die klank van niks crescendo na ’n mengsel van atmosfere in ’n Consol-flessie
Opgepot.
Knetter gedagtegesprekke op in klein kooltjies en skroei smeltgaatjies in gestolde, vasgemesselde kakofonie.
Smelt die stollings en vasgebottelde piekels los en tref die bitter, soet, suur en sout die swartpot.
Dit prut en met ’n seker hand lig ek die swaar wateremmer op en gooi die kole dood.
En die stiltes word stil.

