As die houtlepels nie meer breek nie

  • 1

Die wyse Salomo het gesê: “Moenie huiwer om 'n kind te straf nie, want as jy hom slaan, red jy sy lewe. Jy moet hom juis slaan om hom van die dood te red.”

Lyfstraf vir kinders is diep gewortel in ons kultuur. Dwarsoor die wêreld, van toeka se tyd, is stoute kinders deur hul ouer gepiets. Tot onlangs nog was dit alom aanvaar dat lyfstraf noodsaaklik is om kinders dissipline te leer.

Die Suid-Afrikaanse regering wil egter binnekort ’n nuwe wet aanvaar wat ouers sal verbied om hulle kinders by die huis of elders pak te gee. As die regering hierin slaag, sal Suid-Afrika slegs die 34ste land word wat lyfstraf teen kinders verbied.

Hierdie voorgestelde wet laat baie ouers, en veral Christelike organisasies (asook produsente van houtlepels!), rooi sien. Sekere ouers voel dat ons voorland morele agteruitgang en wanorde sal wees as lyfstraf verbied word.

Die onlangse voorval waarin ’n graad 8-leerling van die Hoërskool Glenvista in Johannesburg ’n onderwyser van die skool tydens skoolure aangerand het, het ’n hewige reaksie op die internet ontlok. Sekere kommentators op YouTube het gesê dat lyfstraf, wat kragtens die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 onwettig in Suid-Afrikaanse skole is, dié voorval sou verhoed het.

Baie Christene voel hulle het ’n godsdienstige plig om hul kinders met die hand te dissiplineer en dat ’n raps op die boud nou nie juis veel fisieke skade kan aanrig nie. Buitendien wil dit voorkom asof ons boude goddelik gesanksioneer is vir lyfstraf, omdat die baie spierweefsel en vet wat in daardie area is, ‘n mens teen ernstige beserings beskerm.

In die saak Christian Education South Africa v Minister of Education is daar egter bevind dat die verbod op lyfstraf in skole nie ’n skending van Christene se reg op godsdiensvryheid is nie.

In die verlede was lyfstraf vir kinders in Suid-Afrikaanse skole en elders algemeen en was dit selfs in sekere kulture aanvaarbaar vir mans om hul vrouens te “dissiplineer”. Lyfstraf is ook voorheen, in sekere dele van die wêreld, in die weermag, in tronke en in sielsiekegestigte toegepas. In die progressiewe liberale era waarin ons leef, is die volgende logiese stap dus om lyfstraf heeltemal te verbied.

Dit groot vraag is of die algehele verbod op lyfstraf teen kinders régtig so katastrofies sou wees as wat die teenstanders van die wet voorspel. Swede het in 1979 die eerste land geword wat lyfstraf vir kinders geheel en al verbied het en daar is ’n mite wat die ronde doen dat Sweedse jeugmisdaad sedertdien toegeneem het.

Volgens ’n artikel deur die Kanadese kindersielkundige Joan Durrant, “Trends in youth crime and well-being since the abolition of corporal punishment in Sweden”, was daar sedert die middel-1990’s ’n afname in Sweedse jeugmisdaad, veral omdat diefstal en dwelmmisbruik afgeneem het. Daar is min gewelddadige misdaad in Swede en dit het grootliks onveranderd gebly.

Volgens die Merriam-Webster-woordeboek stam die woord dissipline af van die Latynse woord disciplina,wat beteken “om te leer”. ’n Mens leer nie regtig as jy gedwing word om iets te doen nie. ’n Dissipel kies om sy leermeester te volg – hy word nie gedwing om dit te doen nie.

Ons slaan nie volwassenes as hulle verkeerd is nie – hoekom slaan ons dan kinders? As iemand anders jou kind slaan, is dit aanranding – hoekom is dit dan nie aanranding as jy jou eie kind slaan nie? Miskien is die antwoorde op hierdie vrae dat ons in die verlede geglo het dat kinders soos besittings is.

Volgens Corpun.com, ’n organisasie wat wêreldwyd navorsing oor lyfstraf doen, is lyfstraf dalk glad nie so effektief as wat beweer word nie. In sommige Amerikaanse skole waar lyfstraf steeds wettig is, het studente die keuse tussen lyfstraf, detensie en skorsing. In die meeste gevalle verkies hulle lyfstraf, omdat hulle eerder ’n kort skerp pyn verkies bo lang ure van verveeldheid.

As ouer is jy verantwoordelik om vir jou kinders dissipline te leer, maar as jy nie van lyfstraf gebruik kan maak nie, wat is dan die beste manier?

Diana Baumrind, ’n bekende Amerikaanse ontwikkelingsielkundige, het ’n teorie van ouerskapstyle ontwikkel. Die drie style is: outoritêr (te hard), permissief (te sag) en gesaghebbend (net reg). Die gesaghebbende styl, gekenmerk deur matige veeleisendheid en optrede, is volgens Baumrind die beste styl. Sy glo nie dat lyfstaf intrinsiek immoreel is nie, maar eerder dat negatiewe dissipline en dwang so min as moontlik gebruik moet word om 'n goedgedissiplineerde kind te verseker.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.
 

  • 1

Kommentaar

  • Ek was ook altyd 'n voorstander van lyfstraf, maar nadat ek vier kinders grootgemaak het en nou terugkyk, besef ek daar sou ander baie beter metodes vir dissipline wees. Ek praat dus hier slegs uit eie ervaring en nie volgens bevindings van studies nie.

     
    My dertigjarige dogter het gisteraand vir my breedvoerig geskets hoe haar graad een onderwyseres hulle op baie onredelike wyse, gedurig geslaan het. Na al die jare skets sy vir my die voorvalle helder en duidelik. Die plank waarmee hulle geslaan is se naam was Rooipeper!
     
    Skielik onthou ek toe ook al die kere van my eie intense verleentheid, toe onderwysers my geslaan het. Daardie, woede, angs en vernedering smaak na jare nog soos bitter gal in my keel! Speltoetsdag en hoofrekene, was gewoonlik die angsvolste tyd in my week, want ons is geraps vir elke fout. Daarom het ek juis toegeslaan en kon soms gladnie die sommetjies doen nie ... dus is die teenoorgestelde uitkoms van die pakslae bereik!
     
    My pa het nooit aan ons geslaan nie en my ma slegs wanneer dit uiters noodsaaklik was. Dus het ek as kind werklik nie slanende ouers beleef nie en ek was 'n goedgedissiplineerde kind, wat baie respek vir my ouers gehad het. Dit was ook die geval met my broer en suster. Ons ouers het ons met respek behandel en daar was nooit vreeslike rebelsheid in ons huis nie. Ek dink dit was juis omdat ons so deur ons ouers benader is.
     
    Ek dink egter ook ouers moet leiding kry hoe om kinders te dissiplineer sonder lyfstraf. Ouers wat werklik alles in hul kinders se opvoeding sit, sal moeite doen om dit aan te leer.
     
    Miskien is dit hoogtyd dat ons almal in hierdie geweldgeteisterde land, tot besinning kom en ons prioriteite regkry.
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top