
Foto: Canva
As daar niemand oor is nie
as jy in die donker van onsekerheid staan
oor waarheen môre met jou gaan
terwyl jou gebede iewers hang
tussen jou en God se vrede
in die ruimte van weet nie
van kan ook nie vergeet nie
die swaard is deur die skedel gedryf
die nagte word langer
die bed korter
die see verskuif nie sy grense nie
hy wag vir my om op sy strande te stap
terwyl die verlede wegkwyn agter die berge
verdwyn uit die gedagtegang uit
tog bly môre onseker
geloof slinger soos ’n dronk man
hoop loop met twee krukke
net liefde blaas die vlammetjie aan
terwyl môre bakhand staan
by die gebede wat brand
terwyl God die geur inasem
dan met Sy liefde glimlag
omdat daar niemand oor is nie
sal iemand uit die mis verskyn
om die antwoord uit te skreeu
in ore wat al doof geword het.


Kommentaar
Absoluut roerend, Johan.
LitNet, dankie vir die plasing.