Apostroof 'n heuglike bundel oor diepsnydende menslike ervarings

  • 0

Apostroof
Fanie Olivier

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798151689
Prys: R130

Daar is al heelwat gewag gemaak van die jongste bundel van die veteraan-digter Fanie Olivier. En dis nie moeilik om te sien waarom nie.

Die bundel se trefkrag lê veral in twee fasette: die wyses waarop temas en stylelemente binne bundelverband stol en op mekaar inspeel om sodoende ’n memorabele leeservaring as eenheid te bied; en die emosionele impak van bepaalde aandoenlike momente in die bundel (nie deurgaans die geval nie).

Laasgenoemde steun – op nogal paradoksale wyse – op ’n sekere onafheid van stelswyse, gedagtegang, beelding – van die poësie self. Dis tog vir afgerondheid dat die meeste poësie geprys word? Maar hier is die teenoorgestelde dikwels aanwesig – maar op hoogs gemotiveerde wyse. Dit voel vir die leser asof hy self die tekortkominge – verslete segging hier en daar, clichés, die poëtiese greep wat glip – ervaar as die hiate van die sterfproses (waaroor die bundel handel), as die outeur se smart, en tekortkominge wat per ongeluk gebeur. Dis nogal ’n aandoenlike effek. Dit skep ’n illusie van onbemiddelde ervaring, iets wat nie so baie poësie regkry nie, al is dit hoe afgerond. Sodoende het ek wat ek meen besliste tekortkomings in die bundel is, as melankoliese verassings begin ervaar, as gate wat ingevreet het aan eie bas terwyl ek nie mooi gekyk het nie.

Dit wys ’n mens maar net weer eens op ’n onteenseglike feit: dat elke literêre produk gedeeltelik sy eie reëls bepaal in terme van sy eie temas en sy eie stolling tot kunsproduk. In hoeverre hierdie effek die outeur se bewuste bedoeling was, is nie ter sake nie. Feit is dit bou patroonmatig aan ’n koherente leeservaring.

Genoemde effek is seker een van die moeiliker koorddanse in die digkuns. As dit nie werk nie, is dit gewoon irriterend en selfs afstootlik. As dit wel werk, kry jy soms iets van ’n aha!-gevoel. Dit werk nie oral in Olivier se bundel nie, maar dit werk op genoeg plekke.

Kunsvorme waarin hierdie truuk vryelik voorkom, is byvoorbeeld blues-musiek, waarin die onafheid van stemreikwydte geweldige liriese trefkrag kan hê, en in die liriekkuns in die algemeen. Dink maar aan Bob Dylan se clichés en die feit dat hierdie meester van die liriese uiting ook nie altyd baie goed sing nie.

Ook in vorme van die liriese poësie waarin die illusie van ’n onbemiddelde emosionele effek nagestreef word, kom dit voor. Die poësie van Pablo Neruda is deurspek daarvan. Dit is trouens ’n stilistiese metode wat nie buite die liriese kunste aangetref word nie, want daarbuite dit sal dit beslis nie werk nie.

Dat hierdie effek betrekking het op Olivier se bundel, kry jy al reeds ’n snuifie van in die titel: apostroof beteken "weglating". Op tematiese vlak verwys die apostroof na die verlies van die digter se vrou aan die dood nadat ’n senuweesiekte haar, as’t ware op apostrofiese wyse, stuk vir stuk gesloop het. Dit slaan ook op die digter en sy geliefde se gedeelde passie, taal, aangesien apostroof ook ’n taalkundige term is.

Verder slaan die woord (onder andere) op die sterflikheid-binne-die-lewe, deur middel van die gedeeltelikheid en die voortdurende slytasie van herinnerings.

Die ingekeerde betekenis van apostroof, naamlik die afgeskeurde segment, kom ook voor. Daar word byvoorbeeld verwys na die “oorgeblewe tongval van ’n verre ryk” (waarskynlik die Venda-taal, wat, soos Afrikaans, ook in ’n sin ’n anachronisme op die subkontinent van Afrika is). Terwyl apostroof ’n hiaat binne ’n (bepaalde) konteks aandui, dui ’n segment ’n (bepaalde) snit binne ’n (onbepaalde) konteks aan.

Voorbeelde van die “apostroof” in die bundel is die ontslape geliefde, haar sinne en woorde wat haar vermoedelik ontgaan het tydens haar siekte (gewoonlik tussen hakies aangedui), haar liggaamlike funksies wat haar voor haar dood ontval het, en ’n slotkoeplet soos “hier in die soelte van die jaargety/ staan my arms oop vir jou en klaar”. Reëls soos hierdie, waarin die apostroof-betekenis uitgedruk word, kom vryelik voor.

Verdere voorbeelde van die ingekeerde van apostroof, naamlik die fraksie, flard of segment, word uitgedruk in ‘n reël soos hierdie: “en iewers, ongesê, dobber daar dié woord” (16), of die voetpad (in die donker) “nou net van klip tot boom gemerk” (in “oggend – hanglip”, 18). Hierdie segment-betekenis kom ewe vryelik voor.

Daar is ’n interessante spel van skering en inslag tussen hierdie twee polêre betekenisse dwarsdeur die bundel te bespeur, en dit beklemtoon die onomseilbare afgeslotenheid van die mens sowel as die intrinsieke verlies van die menslike bestaan.

Die genoemde spel is maar een voorbeeld van patroonmatigheid en deurgekomponeerdheid wat die bundel, ondanks die onafgewerkthede – of daarmee saam? – kenmerk.

Tot in watter besonderhede Olivier die apostroof/segment-tema deurvoer, blyk uit ’n pragtige strofe soos die volgende (bl 22, ’n ongetitelde verjaardagvers): “op stuk van sake stáán die piramides daar,/ lééf Shakespeare, speel narciso yepes sy kitaar,/ ís rose, swééf chagall, word haikoes rég bewys/ en is óns onbetwisbaar wáár”. Die piramides staan wel, maar as kulturele flard buite konteks, dus as totaal subjektiewe gegewe binne Westerse (nié antieke nie) konteks: hulle staan “vir ons”. Shakespeare bestaan ondanks die Engels waarin hy geskryf het wat nie meer daar is nie; Chagall “sweef” juis omdat die Joods-Russiese kultuur van sy verbeelding ’n verbygegane historiese gegewe is; haikoes “word reg bewys” nie volgens sistematiese logika nie, maar juis as gevolg van een of ander subjektiewe “waarheid” wat op isolering van die gegewe steun. En die “ons” van die twee geliefdes is “waar” – nie soos waarheid waar is of filosofie of God nie – almal “waarhede” wat hul waarheid van ’n oorkoepelende sisteem kry. Nee, dis waar in die mees subjektiewe terme denkbaar, in isolasie, in die geslote terme van ’n paartjie se lewe saam, en dus: waar en onwaar gelyktydig.

Opvallend in die bundel is ’n spanning tussen ’n religieuse oorgawe deur die outeur en ’n (teenstrydige) oorgawe aan ’n besef van ’n heersende Niet. Hierdie teenstelling word nie opgehef nie, dit bly in navrante spanning, en dit kan as soort “geding met die goddelike” beskryf word. Die literêre gegewe uit Afrikaans van die geding met God (’n beskrywing van ’n tema van die Dertigers) word op ’n plek of wat opgeroep, en aktiveer sodoende die outeur se eie geding met God. Laasgenoemde bly oortuigend sowel as paradoksaal in die bundel aanwesig – en onteenseglik spiritueel. Kyk byvoorbeeld na die volgende gedig, “afwagting”:

En toe dit donker word die aand gee jy die gees:
jy hou, eenvoudig, asem op; dis klaar met kees
en gegewe dié gegewe waarom sou jy
daarbuite iets van jou, nou ’n hiaat, wou lees?

Die gebruik van cliché-frases soos hier bo en soos in “as is verbrande hout” kom deurgaans voor. In bostaande gedig is dit beslis steurend en emosioneel onoortuigend; die twee clichés volg te gou op mekaar in ‘n bestek wat te klein is. Ja, die oomblik is eenvoudig te groot vir woorde, die digter “smeer” sy eie doek in radeloosheid. Maar dit bly onoortuigend.

Maar, soms is hierdie gebruik wel oortuigend, hoewel vir my meestal nie baie aantreklik nie. Dit lyk of die digter ’n spanning tussen versletenheid (van uitdrukking, van taal in bostaande geval), en dus van vergetelheid, en gemeenskaplikheid – wat is meer so as ’n cliché? – en dus gedenking wil oproep met sy gebruik van clichés. Daar is ’n implisiete gelykstelling hierin: van sy persoonlike verlies met die moontlike vergetelheid wat Afrikaans as taal in die gesig staar.

Daar is pragtige reëls en beskrywings wat in hierdie gedigte voorkom wat van die meer memorabele momente van gravitas in die poësie van die afgelope paar jaar verteenwoordig. My twee gunsteling-gedigte is “afstand” en “jou dogter pak jou kaste leeg”.

Helaas, daar is die gevalle van onafheid wat nié bydra tot die positiewe effek wat ek aan die begin van hierdie resensie beskryf nie. Soms lyk dit of die digter rym bo metriese vlotheid stel, en dit steur. Daar is enkele instansies wat vra om beter redigering: ’n woord wat weg is, of stram woordorde. In heelparty reëls het ek gevoel sommige woorde kon weggelaat gewees het sonder dat betekenis of tekstuur gekompromitteer sou word.

Maar oorkoepelend beskou, is Apostroof ’n heuglike en baie leesbare bundel wat handel oor een van die mees diepsnydende menslike ervarings, die verlies van ’n nabye geliefde.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top