Antwoorde en regstellings vir Hans Richardt

  • 3

Jy hou aan praat van die ABO. Dit is 'n term (blykbaar rassisties) wat die Australiërs vir die inboorlinge daar gebruik. Die regte term is die 'Engelse Oorlog'; 'n oorlog word na die vyand vernoem. Dink net aan die verwarring as die Engelse, byvoorbeeld, na al hulle oorloë as Engelse oorloë verwys het.

Jy hou ook aan met Anglikaners; wat vir 'n ding is dit?

Jy praat nog steeds van guerilla-/terroriste-oorlog. Hoe goed is jóú militêre kennis (jy sê mos myne is nie goed nie)? Laat ek dit weer vir jou verduidelik: Terroriste saai terreur, hulle val sagte teikens soos vrouens en kinders aan. Guerillataktiek behels die slaan en terugtrek deur klein gevegsgroepe teen 'n formele militêre mag (uit nood gebore).

Jy sê nasionalisme is met die Rebellie gevestig. Verkeerd, nasionalisme het al met die Vryburgers begin. Teen die tyd van die Eerste Engelse Oorlog was nasionalisme al diep ingetrek in die Boerepsige. Of praat jy van die Nasionale Party?

Jy beweer CR de Wet se boek was nooit in Afrikaans vertaal nie. Hy is, maar uit die oorspronklike Hooghollands. Afrikaans was, ten tyde van die Engelse Oorlog, nog nie 'n skryftaal nie; die Eerste Taalbeweging was toe skaars verby. So, vir jou inligting, Generaal de Wet het nie die boek in Engels geskryf nie, die Engels is ook 'n vertaling uit die Hooghollands.

Jy reken die "... Kruger-miljoene was dalk eerste grootskaalse regeringkorrupsie deur 'n diktator." Kan nie wees nie want Krüger was nie 'n diktator nie (dink jy die Boere, wat kwansuis so dwarstrekkerig was, sou 'n diktator geduld het? Miskien baie van vandag se Afrikaners ja; jy sien mos hoe inskiklik is die Pieter Redelinghuyse en Thomas'e van hierdie wêreld). Buitendien, die Krügermiljoene is weggesteek vir die Engelse buiters – 'n praktyk wat hulle al van voor Lord Nelson se dae intens beoefen – dit was nie vir Krüger se plaashuis bedoel nie.

Wat praat jy van infrastruktuur wat Paul Krüger moes ontwikkel het? Infrastruktuur-ontwikkeling is 'n funksie van ekonomiese aktiwiteit en die tempo waarteen dit plaasvind sal natuurlik as faktore bevolkingsdigtheid en samewerking insluit. Natuurlik was daar infrastruktuur, weliswaar nog aan die ontwikkel dog tot so 'n mate dat die magtige Empire 'n gevoelige slag deur die Boere toegedien is.

Hoekom kan die ouens nie spog oor hulle voorouers op Ceylon of Sint Helena nie? Jy vra hoe hulle daar gekom het? Per skip swaer. As hulle lammetjie-mak die wapens neergelê het en die Engelse omhels het (soos jy, skyn dit my, beweer tussen die lyne), hoekom dink jy sou dit nodig wees vir die Engelse om hulle so ver weg te stuur?

Jy praat van onderwys in die Transvaal: Die Boere het 'n hoë premie op onderwys geplaas; selfs met die Groot Trek het Hollandse onderwysers (die welbekende 'meesters') saam getrek. Verpligte onderwys in Engeland het eers hier van 1870 begin en kinders wat verder as 'n myl van die skool gewoon het was vrygestel. Eers hier in die 1890's rond het die moderne onderwysstelsel daar sy beslag gekry. Ek dink, kind vir kind, yl infrastruktuur ten spyt, was die Transvaalse kinders beter af as die Engelse s'n.

Jy praat van die De Wet-broers, beweer dat Piet 'n hensopper was. Ek dink hy was meer van 'n oorloper; hy was blykbaar 'n ryk perdeteler en die Boere sou 'n klomp perde by hom konfiskeer vir die oorlogspoging en hy was erg die moer in daaroor. Indien die Engelse sy perde konfiskeer het was hy dalk ook 'n bittereinder.

Wat die Breytenbachbroers betref vra jy of hulle in verskillende kampe was as gevolg van persoonlike keuse. Natuurlik as gevolg van persoonlike keuse, hoe anders? Ek glo beide se motivering was dieselfde naamlik lewensgehalte; die een het geglo as iemand jou lewensgehalte bedreig keer jy hom en die ander een het geglo as jy hand-om-die-blaas met jou bedreiger is word hy jou maatjie vir ewig.

Wat bedoel jy met 500 000 penisse en volksplanting? Bedoel jy dat elke Engelsman 'n Boervrou bygekom het? Daar was wel gevalle van verkragting, miskien ook onwillige gewillige, as mens dit so kan stel, seks maar die vrouens was gedompel in geweldig moeilike omstandighede, daar het dit letterlik om lewe en dood gegaan. Wie weet wat van hulle moes deurmaak om van hulle kinders aan die lewe te hou. Om leedvermakerig oor so-iets te wees is, om nou jou uitdrukking te gebruik, 'laer as slakkak op die seebodem'.

Waar en wanneer was 'De Wet en sy generaals celebs' in Engeland terwyl jou oumas gely het? Buitendien, ek kan jou verseker, dis nie net jou oumas wat gely het nie. En wat is fout met 'n patriotiese liedjie soos 'De la Rey De la Rey'? Die hele Europa is vol liedjies oor helde nog verder terug in die geskiedenis as De la Rey.

Jy sê: "Brittanje se amptelike standpunt was dat Transvaal en Vrystaat selfregerende kolonies van die Britse koninkryk was." Wat de donner het hulle amptelike standpunt met die prys van eiers te doen? Wat sal jy sê as ek jou vertel dat, volgens die amptelike standpunt van Transvaal, was die hele VK selfregerende kolonies van die Transvaal? Absurd? Presies. Buitendien, die Sandrivierkonvensie het die onafhanklikheid van die Transvaalsche Republiek erken, maw die gebied noord van die Vaalrivier.

Jy vra of die 9-maande bootrit die met die beste gene laat oorleef het en die antwoord is natuurlik 'ja'. So van gene gepraat; is dit die Duitse en Hollandse gene wat jou so laat graviteer Engelse kant toe (waar sg Anglikaner vandaan kom)? Die Duitsers en die Hollanders vrek mos oor 'n Engelsman; die Duitsers seker maar vanweë die laaste oorlog (hulle sê mos as jy iets uit 'n Duitser wil kry vra jy hom "Wer ist dein Vorgesetzter?" of so-iets) en die Hollanders sommer maar net omdat vrek oor 'n Engelsman vrek oor 'n Engelsman is. Ek verstaan dat daar al Hollandse universiteite is wat kursusse aanbied in Engels kan jy glo. Dalk gebeur dieselfde al in Duitsland ook.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan

    "Much ado about nothing."  Dit verstom my elke keer wanneer ek sien hoeveel energie, emosies en woorde jy kan insit op onbenullige kleinlike detail, mbt. taal, geskiedkundig of andersins, ook soos hierbo als voorbeeld.  My reaksie elke keer is "So What?"

    Kyk liewers na die groter prentjie in die samelewing as om te top oor on-akkurate feite en weergawes deur ander hier op die werf geskryf. En dit is werklik nie lelik teenoor jou bedoel nie.

    Jaco Fourie

  • Jaco, jy's nie lelik teenoor my nie, jy's lelik teenoor Hans. As sy feite onakkuraat is volgens jou, hoekom lig jy hom nie in nie?  Die moontlikheid is daar dat sy feite wel akkuraat is en dan is dit weer Hans se beurt om ons reg te help en op die manier het ek en jy weer iets geleer; mens is nooit te oud om te leer nie.
    Buitendien, vir elke wat, by wyse van spreke, pen op papier sit is daar tientalle wat dieselfde dink en as mens die persoon antwoord is sodanige antwoord eintlik teen die tientalle gemik wat ook die pad byster is en, op die manier, word hulle blootgestel aan die lig.
    So, uit my antwoord aan Hans is daar vir jou ook baie inligting.  Jy kan byvoorbeeld, soos Max, een van die wees wat verkeerdelik glo dat die een se vryjheidsvegter die ander ou se terroris is en dan was jy nou reggehelp.  Jy kan dalk ook een wees wat na die Engelse Oorlog as die ABO verwys en dan was jy in hierdie verband ook reggehelp.  Of, soos Hans, kon jy ook dalk dink 'n guerillakryger en 'n terroris is dieselfde ding en dan, weer eens, is jy reggehelp.  Of, ook soos Hans, kan jy onder die indruk wees dit is nou goed om Engels te omhels, jou kinders in Engelse skole te sit, die soort van ding en dan is jy nou dalk daarvan genees.
    Dink aan die skaakgrootmeester wat gesê het moet nooit nalaat om jou opponent skaak te sit nie want dit mag dalk mat wees.  Of, anders gestel, moet geen geleentheid ooit laat verbygaan nie.

  • Jan

    Aangesien jy jouself als leermeester beskou, leer jy  my nou omtrent jou siening wat is die Afrikaner se heil vir sy toekoms.  Het jy iets van my geleer rakende Afrikaner Selfstandigheid in Opsie 3 van my skrywes, want jy was tjoep stil? Indien nie, wat is jou voorstel? In al die jare wat ons twee skryf, het jy nooit enige daadwerklike alternatiewe ter tafel gelê nie. Dit sien ek as die groot prentjie vir Afrikanerdom, eerder as twee wat kibbel oor kleinlikhede oor wie se non akademiese  vertolking van die geskiedenis juis is.

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top