Dagsê Yuri
Altwee jou briewe van Vrydag het betrekking.
Jy sê ek is ’n kampvegter vir Afrikaans en dus skiet ek myself in die voet oor ek van Stoute Boudjies hou terwyl hulle Engelse woorde daarin gebruik, soos byvoorbeeld "virgin". Ek moet erken, dit het my gepla maar die twee ouens kon beswaarlik "maagde" wees.
Jy is egter meer van ’n kampvegter vir Afrikaans as wat ek is want jy het Unisa gepak en jy spreek mense aan wat die woord "actually" gebruik. Dit grief my net so, amper net so veel as die woord "even" en die gewoonte van so baie mense om telefoonnommers, die tyd en getalle in Engels gee maar ek hou my maar meestal in waar jy sover gaan as om hulle aan te spreek. Bravo.
En tog, hier is jy vol lof vir die klopse en sover ek weet het nie een van die groepe ’n Afrikaanse naam nie en jy rep nie ’n woord daaroor nie.
Ek lei af uit jou briewe dat dit volgens jou die bruines is wat die taal aan die lewe hou en uiteindelik gaan red. Dit is goed om te hoor en dit sal wonderlik wees as dit die geval is; Afrikaans het deesdae mense nodig om hom te verdedig.
Maar nou moet ek jou sê, ek sit so’n rukkie terug en luister na ’n radioprogram waar die omroepster met ’n bruin dame van die National Youth Development-iets ’n onderhoud voer. Haar gesprek is deurspek met Engelse woorde en anglisismes, sy praat van hulle offices, ’n projek wat hulle hardloop, hulle operating hours, counselling, annual campaigning ens ens. Dit klink nie vir my na iemand wat die taal lewendig hou nie.
Net daarna het die omroepster ’n onderhoud met ’n groep keramiekkunstenaars van sewhammics-iets, almal blankes klink dit my en hulle taal is nou éérs deurspek met Engelse woorde. Hulle praat van design, mould, hoe hulle daarvan hou om te create, iets wat ’n drag is, goed wat hulle cast en nog vele meer. Daar is omtrent nie ’n sin wat nie ’n Engelse woord in het nie. En hoekom is hulle naam nie keramiek-iets nie in plaas van sewhammics-iets.
Dis nog ’n ding, hierdie uiters irriterende gewoonte van Afrikaners om Engelse woorde met die Engelse ’r’ uit te spreek, eintlik alle vreemde woorde om die waarheid te sê, selfs Franse en Italiaanse woorde soos Renault, paparazzi, teatro ens. Dit klink uiters kok soos Casper sou sê.
Net daarna, op ’n ander program, word ’n onderhoud met Jack Parow gevoer en dit moes jy hoor. Kyk, ek hou van Jack Parow se musiek maar die man kan definitief nie meer Afrikaans praat nie. ’n Engelse woord hier en daar is seker onvermydelik maar wanneer dit my belg is wanneer Afrikaans op ’n gedienstige manier met Engels deurspek word. Anders as die siening dat dit modern, lewendig en kreatief is, is sulke besmette Afrikaans vir seker ’n teken van verrotting en dus dood. Dit is taalgebruik van mense wat verloor het, ’n manifestasie van anglofilisme (as daar nie so’n woord is nie is daar nou een).
Nog is dit het einde niet; net na die onderhoud met Jack sê die kontinuïteitsaankondiger dat Chwis Chameleon nou gaan sing. En dis Afrikaanse radio!
Nou kan jy nie vir my sê "pê julle wittes praat tog ook so gemeng" nie want dit is juis wat ek heeltyd sê, hierdie storie van dink en droom in Afrikaans is ’n klomp twak want ALREEDS kan die mense nie meer Afrikaans praat nie. Jy vertel my die bruines gaan die taal red (want ek sê vir jou die wittes gaan beslis nie) maar ek wonder, as ek so na bruin gaste op die radio luister is daar maar min hoop.
Wat my bekommer van jou is dat jy dink Afrikaners word beledig as daar te kenne gegee word dat hulle swak Engels praat. Hoekom is dit ’n prestasie om goed Engels te praat? Dink jy daar is ’n Engelsman wat in die verleentheid is as hy van sy taalgenote swak Afrikaans hoor praat? Jy sê " ... die twee karakters [wat] ’n powere poging aanwend om Engels te praat. Dit is van die duiwel wat uit die taal geroei moet word." Dit maak nie sin nie. Wat moet uit watter taal geroei word?
Terloops, American Pie is ’n fliek, hy was so populêr dat hulle ’n American Pie II ook gemaak het.
Groetnis
Jan Rap

