Antwoord vir Varkspek

  • 1

Dag Varkspek, ek reageer op jou brief van 5 deser.

Jy lees nie mooi nie wat ek sê nie. Jy sê "Aan die ander kant stem ek ook saam met Angus dat die taal gaan verander ... " en as voorbeeld noem jy daar " ... is bv baie Franse woorde in Engels opgeneem." Dit dui daarop dat jy dink ek is teen die opneem van vreemde woorde en dit is nie waar nie.

Ek het dit nie teen die opneem van vreemde woorde nie (ek het trouens self al 'n klomp voorbeelde genoem); dit is onvermydelik en gebeur in alle tale. Maar die Engelse praat nie nou Frans nie maar die mense wat eers Iers en Skotse Gaelic gepraat het, praat nou Engels, hulle tale is oorgeneem deur Engels. So verdwyn daar jaarliks tale wat oorgeneem word deur veral Spaans, Portugees en Engels.

Dus, leenwoorde is nie te verwar met 'n taal wat verarm word deur mengeltaal nie, deur woorde van die dominante taal in die omgewing lukraak in te gooi nie. Dit is wat op die oomblik met Afrikaans aan die gebeur is en voorbeelde daarvan het ek al male sonder tal in hierdie bespreking genoem.

Jy sê "Eerder as om oor die veranderings in Afrikaans te sit en weeklaag, moet ons positiewe stappe doen om dit te bestuur." Wel, Varkspek, vertel my wat is die verskil tussen weeklaag en die uitwys van 'n gemis? As jou vrou byvoorbeeld vir jou vertel die petrolnaald wys "leeg" gaan jy aanvoer dat sy weeklaag, of gal braak soos jy my ook van beskuldig, as sy jou attent maak op iets wat binnekort 'n krisis gaan wees?

Jy vra ook wat ek doen om Afrikaans op te hef. Niks; ek wil nie Afrikaans "ophef" nie, ek wys op verskynsels wat 'n manifestasie is dat Afrikaans besig is om agteruit te gaan, ek wil hê Afrikaanssprekers moet bedag wees hierop. Wat ek wel doen om die agteruitgaan van Afrikaans te keer is om mense daarop te wys (en waar ek kan mense en instansies korrigeer waar hulle verkeerd praat, iets waarmee die Engelse byvoorbeeld baie goed is). Ek het byvoorbeeld groot moeite om ouens soos Angus te oortuig dat geradbraakte taal NIKS met ontwikkeling of aanpassing te doen het nie.

Jy het 'n paar goeie voorstelle maar dis genesende aksies. As Afrikaanssprekendes bloot Afrikaans praat soos die Engelse Engels praat en die Belge Vlaams praat is voorkoming die heersende toestand en herstel of genesing is nie nodig nie.

Jou positiewe voorstelle dui daarop dat jy ook bekommerd is oor Afrikaans en ek sal aanbeveel dat jy ook begin weeklaag en gal braak. Jy kan dit 'fluitjieblaas' noem as dit jou beter sal laat voel maar dis nodig; dis beter as wat jy maar gods water oor gods akker laat loop en gedienstig aanvaar, soos Angus, dat verengelsing 'n linguistiese realiteit is.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan, Ek het darem nie bedoel dis net vreemde woorde wat in Engels opgeneem is nie, Engels verskil vandag heelwat van die ander Germaanse tale omdat sy grammatika en sinskonstruksie so baie verander het.

    Die deursnee Engelsman praat waarskynlik nie sulke skoon Engels as wat jy dink nie, veral hier by ons, waar hulle saamleef met ander tale. Die "elite" in enige taalgroep sal altyd hul taal suiwerder praat as die gepeupel. Verskoon maar die gewone man, hy probeer net gelukkig leef en hy lees nie jou briewe hier nie.

    Skryf aan RSG en Nuus24 as jy wil kla oor taalgebruik. Laasgenoemde het 'n paar maande gelede geskryf oor 'n renjaer wat van span verander het, en gesê dis 'n "meesterstrook". Kan jy nou meer...

    Varkspek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top