Dagsê Thomas
Ek is nogal beïndruk met jou brief, nie omdat jy mooi stadig geskryf het nie – dankie daarvoor in elk geval – maar omdat jy nou ook openlik kak en kerm oor die ANC (ek wou sê 'oor die swart regering' maar jy sal weer sê dis rasgedrewe; jy's nog nie ver genoeg op die Damaskuspad om so-iets te hanteer nie. Laat ek weer sê, en soos jy tik ek dit ook stadig sodat jy mooi kan lees: Ek sê nie swartes oor die algemeen sal nie kan regeer nie, ek sê in die onnatuurlike opset hier in Afrika, die saamgooi van verskillende volke en kulture in deur Europees bepaalde grense, sal geen regering werk nie, nie swart nie, nie bruin nie en nie wit nie. Al wat sal werk is demokrasie).
Eventwil, waar was ek. Ja, ek moet erken ek was onder die indruk dat jy en George apologete vir die NSA is met dié dat julle nou kort-kort so neerhalend en smalend na die ou bedeling verwys het en baie vyandig optree teenoor ouens soos Dan en Steve (terloops, jy sê Dan en Steve is bekrompe; wat laat jou so sê?) wat hulle misnoeë uitspreek teenoor die stief behandeling wat die Afrikaner in die huidige bedeling kry. Jy het op 'n kol selfs jou tevredenheid met die NSA uitgespreek want daar word byvoorbeeld nie meer in jou snippermandjie deur die veiligheidspolisie gesnuffel nie.
Ook het julle, en ander 'demokraat-liberales' hier, soos Jaco byvoorbeeld, vir my voorgekom dat die voortslepende plaasaanvalle en –moorde julle koud laat met die nou dat julle my van 'kak en kerm' beskuldig het elke keer as ek dit aanroer. Maar jy het darem nou jou bona fides in hierdie opsig getoon. Van George en Jaco weet ek nou nog nie so mooi nie; veral George want Jaco weet ek werk met plaasmense en ek dink hy sal simpatiek teenoor hulle wees. Hy't nog egter niks gesê sover ek kan onthou nie; seker bang dis nie PK nie. Indien hy wel iets daarteen gesê het vra ek om verskoning.
Ek maak ernstig beswaar teen jou gebruik van die woord 'boerelogika' wat jou sou lei om te glo dat, indien godsdiens uit die skole verwyder word, daar skielik denkende kinders gekweek gaan word wat tot gevolg gaan hê dat hierdie land uitnemend ontwikkel gaan word. In die eerste plek, is godsdiens nie al klaar uit die skole nie? Hoe dit ookal sy, boerelogika sê vir my dat die land se agteruitgang te wyte is aan wat jy die 1994-oorgang noem en dat dit net mooi niks met godsdiensonderrig te doen het nie. Boerelogika was die oorsaak dat baie Boere (en so spatsel Ingelse, swartes en bruines hier en daar) teen die oorname deur die ANC was. Logika het dikteer dat die waarskynlike gevolg 'n herhaling gaan wees wat ten noorde van ons aan die gang was (en steeds is).
Jou stelling dat die oorgang onvermydelik was is verkeerd; dis 'n verskoning. Ek stem saam met jou, ons sit nou met die gebakte pere en kan nie teruggaan in tyd om die fout reg te maak nie maar iets sal ons moet doen want so kan dit nie aangaan nie. 'n Intensifisering van gholftipe landgoedontwikkeling, Oraniatipe plase (tog net met rolbalbane waar mens Sondae kan speel), die soort van ding maar die uitskuif of verban van godsdiens gaan niks aan die heil van die land doen nie. Inteendeel ...
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap
Ek druk my dalk sleg uit of jy interpreteer wat ek sê opsetlik skeef – kom ons aanvaar eersgenoemde.
Ek stem saam dat dit absurd sou wees om te beweer dat die gemors in die onderwys uitsluitlik te wyte is aan godsdiensonderrig. Die oorsaak lê by ’n disfunksionele onderwysdepartement en minister wat slegs deur ideologie gedryf word. Godsdiens dra niks by om denkende kinders te skep nie, vertroebel die aanbied van wetenskaplike vakke en is bloot ’n struikelblok.
Ek tik weer stadig. Terwyl ons die onderwys drasties moet hervorm, kom ons skaf sommer bog soos godsdiens in skole ook af. Ek het met my eie oë die verwoestende effek van godsdiens op menslike denke en ontwikkeling in Noord-Afrika gesien. Kom ons vervang die drukplaat én die koppelaarplaat terwyl ons nou die enjin oop het!
Groetnis
Thomas
Jan Rap, jy het jouself weer oortref. Uitmuntend – en elke punt ’n trefpunt.
Net een opmerking: ek het so ruk gelede vir enkele ure saam met Dan en Steve in ’n klein gespreksgroep gesit. Hulle is alles behalwe bekrompe – selfs oor die politiek is hulle oopkop en realisties, maar onverskonend Afrikaners.