Hallo Thomas
Ek het nie spesifiek jou optrede analiseer nie en as dit so oorgekom het is dit omdat ek myself weer lomp uitgedruk het. Ek vra om verskoning daarvoor.
Thomas, jy moet definitief meer konsentreer. Jy vra:
"Doen jy nie maar lustig mee aan die ANC se rasbenepenheid met jou aandrang dat wit, bruin en swart Afrikaanssprekende as drie duidelik verskillende groepe gesien moet word nie?", terwyl ek duidelik gestel het, en ek haal aan uit my brief (net die kursief nou bygesit),
"As hy sê ’nee' is hy nie ’n Afrikaner nie, as hy sê 'ja' dan is hy een, ongeag kleur, geloof, credo, politieke verbintenis, oriëntasie, domicilium (daar is byvoorbeeld baie op die oomblik in Australië) of wat ookal."
Wat verstaan jy hier nie onder "kleur" nie? Dieselfde geld vir jou, Jaco; "credo" en "geloof" dui daarop dat jy ’n Afrikaner kan wees, soos ’n Engelsman ’n Engelsman kan wees, of ’n Rus ’n Rus kan wees, sonder dat jy lid is van die hoofstroomgeloof, of -ongeloof dan. Skandeer julle ouens net as julle lees?
Op die manier dan, toe ek van Afrikaanse kerk gepraat het, het ek maar net bedoel dis is onder andere ’n ding wat ’n tipiese Afrikaner doen. My eie pa en my skoonpa weet ek was agnostici en ek vermoed my oupa ook en al drie van hulle was Afrikaners.
Laat ek dit weer sê: Ek sien hierdie aanhoudende poging van sommige Afrikaners om die bruines as Afrikaners te definieer as ’n soort van ’n verootmoedigende gebaar van hulle kant af, ’n soort van ’n toegewing en ek beskou dit as uiters aanmatigend. Selfs Pieter Redelinghuys dink ook so (sien sy opmerking onderaan my brief van 11 deser). Sy beweegredes is net anders. Ek vermoed hy, sy pa en sy oupa het vreeslike dinge in die verlede teenoor anderskleuriges aangevang; die man is op van skuldgevoel en hy en sy kinders se voorland is boetedoening tot in lengte van dae. Ek vermoed sy tuinboukundige assistent en sy vrou se huishulp vermy hom soos pes want hulle voete is al op gewas.
Sou die pous, of een of ander groot wêreldleier, nou ’n dekreet uitvaardig wat bepaal dat, van nou af, is almal wat Afrikaans praat, per definisie Afrikaners gaan dit my nie in die minste pla nie. Ek kan jou egter waarborg dat dit die bruines gaan pla, want hulle het steeds ’n appeltjieskil-houding teenoor Afrikaners en met wie gaan hulle dán ’n appeltjie skil? Ook gaan die ANC omgee want hoe gaan regstellende aksie nóú toegepas word?
Jy is dus verkeerd (aspris?) as jy sê mense soos ek " ... beskou die naam as die eksklusiewe eiendom van die blankes ..." Ek het dit nooit gesê of eers impliseer nie. Inteendeel, kyk weer na my aanhaling in kursief hierbo.
Jy kla oor jy Kennis van die Aand skelm moes lees. Daar gee ek jou gelyk; dit was absurd om mense te verbied om sekere goed te lees. Dit vergelyk amper met die wet op verspreiding van inligting wat die regering nou wil instel. Ook het dit aan André Brink publisiteit verleen wat hy, glo ek, nie verdien het nie, soort van veroorsaak dat mense hom simpatiek gesind was en die goed miskien met half ’n dowe oor gelees het, as jy volg wat ek bedoel.
Terloopse nota: Eendag, lank gelede, het iemand met hom ’n onderhoud oor die radio gehad en een van die inbellers het gevra hoekom in sy stories is die swartes viriel en die blankes impotent (so iets). Hy het dit nooit geantwoord nie.
Ook kla jy oor die veiligheidspersoneel jou aangetree het oor jou bande met die WRK. Hoekom sou hulle so iets doen? Was die WRK ons dan vyandiggesind? Indien wel, is dit mos nie snaaks nie; deesdae, byvoorbeeld, is dit ’n risiko om met kakieklere gesien te word: Die regering mag jou as ’n bedreiging beskou en in die tronk smyt terwyl hulle getuienis teen jou fabriseer.
Buitendien, hoeveel van ’n troos dink jy is dit vir die agtergeblewe gesins- en familielede van vermoorde plaasboere (as daar nog ’n gesin oor is) dat hulle nou Kennis van die Aand mag lees en dat hulle snippermandjies nie meer in gekrap word nie (wat in elk geval te betwyfel is)? Geen troos nie, sou ek sê. Beskou jy die verdwyning van jou straat- en plekname, die verdwyning van jou taal, skole en universiteite, die diskriminasie teen jou kinders en die moorde op plase as redelike betaling vir die feit dat jy nou Kennis van die Aand kan lees en niemand (vermoedelik) meer in jou snippermandjie krap nie? Selfs al sê jy ja, sal ek jou nie glo nie.
Ek het al verskeie male gesê dit was verkeerd van die Nasionale Party destyds om die bruines van die kiesersrol af te haal. Daardie fout kan nie meer deur die NP reggemaak word nie, want hulle bestaan nie meer nie maar, as jy nou mooi dink, was die driekamerparlement ’n herstelling (die NP van daardie tyd was lank nie meer die ou NP nie). Die fout gaan beslis nie herstel word deur van wit kant af aan te dring dat die bruines Afrikaners is nie, hulle wil dit buitendien nie hê nie. Dit gaan ook nie die fout herstel deur ons kinders te straf deur universiteitstoelating of werk te weier nie.
Thomas, daar is Pelargoniums en daar is Geraniums en die een word nie beledig, of ’n guns gedoen, deur by die ander ingesluit te word nie.
Groetnis
Jan Rap

