Antwoord vir Ontleder

  • 0

Dag neef

Van wetenskap, godsdiens en daai dinge weet ek ook maar min maar dis lekker om daaroor te praat en te besin, so kan 'n ou dalk iets agterkom.

Jy's reg as jy sê daar is verskille tussen glo, raai, vermoed, hoop, verwag en die soort van ding. Dit maak egter nie eintlik saak nie, die een ou glo omdat sy onderwyser dit vir hom vertel het en die ander ou glo omdat hy oortuig is sy wiskunde is reg. Newton het op 'n stadium bewys 'n ding swaarder as lug kan nie vlieg nie en net daarna sweef Lilienthal teen die hang 'n heuwel af.

Ek het reageer op jou brief ook maar om bloeddrukke op te jaag. Om George hier maan almal om bewyse te vra voor hulle iets glo, vermoed, verwag of wat ookal en daar glo 'n klomp van hulle, en ek vermoed, glo en/of raai oom George ingesluit, in parallelle heelalle, die gebrek aan bewyse ten spyt. Terselfdertyd probeer ek wys dat wetenskaplikes nie viskoppe is nie, die meeste van hulle is ondersoekende lateraal-denkendes wat nie summier iets afskiet net omdat dit nog nie wetenskaplik bewys is nie.

En ja, jy's reg, dit sal heerlik wees om na 'n ander heelal te skuif as hierdie een te warm word. Tog net 'n 'n parallelle een nie asseblief; ek wil nie op 'n plek land waar 'n klomp liberaal-demokrate, of ultraregses soos Malema, besig om alles op te donner nie.

Dis tog jammer dat jy nie met die oom wil korrespondeer nie; daar't ons dan nou amper elkeen by mekaar iets geleer. Maar dis soos jy wil; moet net nie ophou om klippe in die bos te gooi nie want dit is 'n goeie ding om mense bietjie aan die dink te sit.

Nou-ja, op die manier dan, jou oom

Jan Rap
(en groete vir jou pa-hulle)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top