Antwoord vir Jeanette

  • 1

Jeanette, ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van gister.

Wat jy sien as oordrewe reklame is in werklikheid ’n wekroep. Ek kla nie (soos wat baie my van sal beskuldig), ek lewer bloot verslag oor die benarde toestand waarin Afrikaans hom bevind.  En die toestand word benarder.

Ook, wat jy sien as “fanaties vasklou aan suiwerheid” is maar net ’n uitwys van verval.  Dit gaan nie soseer oor “suiwerheid” nie (want wie praat nou 100% suiwer?) maar die benadeling van Afrikaans op alle terreine.  Met die koms van die nuwe SA is gesorg dat Afrikaans van sy hoër funksies ontneem word en die verval as gevolg daarvan is maar al te duidelik op die radio, televisie, koerante, trouens, ORAL waar voorheen Afrikaans gebruik was.

Die verskonende houding van ons-moet-tog-net-nie-mense-afskrik-nie is teenproduktief. Die idee of konsep van “taal van die onderdrukker” is ’n kunsmatige konstruk wat gedurig deur ons versterk word met ons eierlopery. Afrikaans was nog nooit die taal van die onderdrukker nie; Engels was, maar juis deur reklame en propaganda is Engels nou kwansuis die taal van die bevryder en Afrikaans dié van die onderdrukker.

My betoog is nie, soos ek reeds gesê het, soseer vir suiwer Afrikaans nie, maar dat Afrikaans darem die regte veroorloof word soos bepaal in die grondwet. Ook, natuurlik, dat ons moet waak teen geradbraakte Afrikaans en dit darem so suiwer praat as wat die Engelse Engels praat.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Neem kennis van jou uitstekende antwoord. Ja, skandalig as Afrikaans deur radio en koerante, om nie eens van advertensies te praat nie, vermink word. Het self al, toe ek simultaan van Engels na Afrikaans getolk het by Ingenieurswese aan US, besef dat onskatbare Afrikaanse tegniese woordeskat, wat oor baie jare opgebou is, gaan verdwyn met verengelsing. Weet nie of ouers taaltrots genoeg aanwakker by kinders nie en of selfs Afrikaans lees nie. Om te oorleef, sal Afrikaans op baie terreine vrye teuels moet geniet. Die doodleef van vooroordele is egter is ’n groot uitdaging. Daar is nog te veel mense wat die taal gebruik, maar nie die voorbeeld stel wat noodwendig respek afdwing nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top