Antwoord vir Jaco op sy brief van 25 deser

  • 1

Dagsê Jaco

Net eers 'n vragie: Jy wat so maklik gebelgd voel vir wat jy as ad hominem beskou praat gedurig van gekkegrens-Afrikaners? Wie is hulle; ouens wat nie jou sienings deel nie?

'n Paar dinge wat jy in gedagte moet hou:

1) As in Engeland Engels nie die amptelike taal is nie is hy by verstek die amptelike taal (op dieselfde manier verskyn die land se naam nie op hulle posseëls nie want hulle is die uitvinders van die posseël, dit sou net nie sin maak om die land se naam op die seëls te skryf nie). Wat het dit in elk geval met die prys van eiers te doen?
2) Soos in Engeland, verstaan die Nederlanders ook nie al die dialekte in hulle land nie en ek sou reken dieselfde geld in Duitsland, Frankryk, trouens, seker die meeste van die Europese lande. Wat het dit in elk geval met die prys van eiers te doen?
3) Jy sê ek " ... maak 'n gross veralgemening dat die Engelsman sy taal puristies praat of skryf." Nou goed, maak dit meer puristies as ons; 'n Engelsman sal byvoorbeeld nooit sê "you are making a growwe generalisation" nie.
4) Wie is die Afrikaners wat jy van praat wat ander Afrikaners voorskryf om hulle kinders in Afrikaanse skole te sit? Indien jy skimp dat dit ek is maak jy 'n fout – wat ek wel sê is dat die stuur van Afrikaanssprekende kindertjies Engelse skole toe 'n manifestasie van 'n ongesonde gedienstigheid is. Buitendien, soos Afrikaanse skole verdwyn, soos die heksejag op Afrikaans toeneem, sal ouers naderhand verplig wees om hulle kinders in Engelse skole te sit; kyk maar na wat onlangs daar in die Kaap gebeur het.
5) Die feit dat ek vir jou gesê het jy is verplig om jou besigheid in Engels te doen was EEN van die redes aangevoer as 'n bewys dat jy nie vry is nie. Wat van die ander? Ook sê jy jy staan onder geen verpligting nie. Onsin, jy MOET Engels praat anders verstaan hulle jou nie en kan jy nie gehelp word nie – die kans dat jy by die bank, poskantoor, munisipale kantoor of enige staatsdepartement met jou eie taal gaan regkom is uiters skraal.
6) Jy reken dis kleingeestig om te verwag die Zoeloe of Xhosa wat jou bedien met kan Afrikaans praat. Hoekom? Afrikaans is mos een van die amptelike tale en 'n amptenaar is verplig om jou in jou taal te help of hoe? Daar is buitendien meer Afrikaanssprekers in die land as Engelssprekers. Ek sal jou sê hoekom jy moet Engels praat, of dit nou die Vaaldriehoek, die Vrystaat of die Wildtuin is: Engels is die amptelike taal; dis net die naïwes wat glo daar is 11 amptelike tale. Ons is nie 'n demokrasie nie; ons is 'n Anglo-Amerikaanse kolonie.
7) Jy's reg, individualisme is 'n goeie ding. Ons Afrikaners oor die algemeen hier is 'n klomp konformiste; ons stuur ons kinders Engelse skole toe om te konformeer, ons aanvaar gelate dat ons skole en universiteite verengels, ons kyk gedweë toe hoe ons straat- en plekname verander word en, skandelik, doen ons niks aan die feit dat ons plaasmense met eentonige reëlmaat uitgemoor word nie.
8) Jy reken ek sou nou so ongelukkig wees oor ek ander hulle geluk ontsê en vir hulle voorskryf. Jy verwar my met iemand anders; ek skryf vir niemand voor nie en ek ontsê niemand hulle geluk nie. Wys my waar jy reken ek dit doen.

Groetnis

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan

    Alles deur jou hierbo geskryf, is volgens die evangelie van Jan Rap, gekleur deur jou idiologiese bril. Lees maar my ander brief, "die agterste voor Jan", en miskien sal jy verstaan hoe, nie net ek maar ander soos Thomas, jou vorm van redenasie waarneem

    Jaco Fourie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top