Antwoord vir Dirk Rigter oor sy brief “Wat is Rassisme?”

  • 1

Dirk jy raak al weer uiters kreatief met die waarheid; vertel ’n halwe waarheid om die reine waarheid te verdoesel.

Die volle waarheid is dat daardie bordjies al van die dae van die Britte se bewind af kom en al verdwyn het sedert die onderskeie demokrasieë ingestel is: Venda’s in Vendaland, Tswana’s in Tswanaland, Swazi’s in Swaziland, Basoeto’s in Basoetoland ens. Net soos Europa: Duitsers in Duitsland, Engelse in Engeland, Pole in Poland, Russe in Rusland, Spanjaarde in Spanjaardland, daardie tipe van storie.

Dieselfde maar met die ontugwet – kom al doer van die Engelse af, maar het saam met die bordjies verdwyn. Alhoewel, ek dink trou oor die godsdienslyn word nog steeds deur die Jode verbied en hulle is nie die enigste nie; ek vermoed as mens bietjie rondkrap gaan jy nog vele nasies kry wat ondertrouery met ander nasies verbied of, op die minste, ’n afkeur daarvan het.

Jy verwar “rassisme” met snobisme. Jy is nie rassisties as jy op ’n ander neerkyk nie, jy’s bloot oningelig en dom. Rassisme in die ware sin van die woord spruit uit jaloesie – jy is afgunstig op die wat anders as jy is se sukses en maak vir jouself ’n saak uit dat dit slegs kon gebeur het as hulle jou uitgebuit het.  Die Jode en die Indiërs het, deur die geskiedenis, hierdie verskynsel baie ondervind.

Jy sluit af met nog ’n kulkunsie: “Kyk om jou heen,” sê jy, “en kyk wat het rassisme aan die land gedoen.”  Jy kon netsowel gesê het “ek is reg want dit reën.”  Niemand kan betwis dat dit reën nie, maar wat betref jou betoog is dit ’n disjunkte gebeurtenis. Die toestand in die land het niks te doen met wat jý onder “rassisme” verstaan nie. Rassisme is egter wel ter sprake wanneer na die toestand in die land gekyk word, die uit-jaloesie-voortspruitende rassisme – boere wat nie meer kan boer nie met die gevolglike werksverliese, wittes wat sekere poste ontsê word omdat hulle wit is en, weens die aanstel van onbevoegdes, die gevolglike agteruitgang van munisipaliteite, Eskom, Waterwese, SAA, gesondheidsdienste, die spoorweë, polisiëring, onderwys ens ens; daar’s nog baie voorbeelde.

Jan Rap

 

  • 1

Kommentaar

  • Jan,
    Waar in my brief het ek 'n halwe waarheid verkondig? Ek het nêrens in my brief gesê dat die apartheidsborde eers na die Britse bewind ingestel is nie. Jy praat mos nou totale nonsens!
    Maar jy weet net so goed soos ek dat Apartheid eers na 1948 sy volle momentum verkry het. En nou keer jy vir jou paaltjies deur my van halwe waarhede te beskuldig. Jan, voel jy skuldig oor die geïnstitusionaliseerde rassisme van ná 1948, en nou blameer jy die Britte daarvoor?
    Nog ’n ding Jan. Trou en die Ontugwet het niks met mekaar te doen gehad nie. Die Ontugwet het wit mense verketter as hulle met swart of bruin mense seks gehad het. Nie rassisties nie? Jan? Hoekom moes ’n wit/bruin/swart man of vrou in die tronk slaap omdat hy/sy met iemand van ’n ander ras/kleur seks gehad het? En van wanneer af het dit iets te doen met trou oor die godsdienslyn?
    Terloops, die Ontugwet en die Wet op die Verbod op Gemengde Huwelike was twee aparte stukke wetgewing. Verder sien ek jy is nogal breedsprakig oor nasies wat trou oor geloofsgrense verbied. Wie is hulle? Weet jy hoeveel Jode is met mense buite hulle geloof getroud?
    Verder, Jan, hoeveel Engelse woon in Spanjaardland, soos jy sê, en hoeveel Spanjaarde woon in Duitsland, byvoorbeeld? Geen probleem nie, want hulle is mos almal wit. Maar Vendas en Tswanas mag, volgens vele, nie in die ou “wit” Suid-Afrika woonreg gehad het nie, ten spyte daarvan dat hulle hier gebore is nie.
    Laastens, ek het nêrens in my brief enigsins direk, of tussen die lyne beweer dat rassisme nét ’n wit teen swart ding is nie. Natuurlik gebeur die omgekeerde. My punt is juis dat die wittes in SA nou die prys betaal vir die verlede.
    Nog iets, gaan slaan die verskil tussen rassisme en snobisme in die woordeboek na, asseblief.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top