Beste Angus,
Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 25 deser.
Ek probeer geen taalreël invoer, soos jy beweer, wanneer ek sê jy moet twee tale magtig wees as jy iemand wil verstaan wat daardie twee tale meng nie. Dit het niks met taalkunde, linguistiek of grammatika te doen nie; dit is bloot logies.
Jy reken my Afrikaans/Hongaars-analoog is ‘n strooipop omdat ons Afrikaans/Engels bespreek. Dit is juis jou probleem; jy regverdig mengeltaal omdat almal kwansuis Engels móét verstaan in Suid-Afrika. Volgens jou, lyk dit my, is taal X gemeng met taal Y mengeltaal BEHALWE waar X=Afrikaans en Y=Engels, dan is dit nie mengeltaal nie want dit kan deur Afrikaanssprekendes verstaan word (omdat Engels in ons kele afgedruk word). Dis mos absurd.
Vergeet dan maar die Hongaars/Afrikaanse analoog as dit jou deurmekaar maak. Neem die geval waar ‘n groot persentasie Afrikaanse woorde in Engels gebruik word: Die meeste Engelssprekendes verstaan dit nie omdat die meeste Engelssprekendes, veral die jonger geslag, GEEN Afrikaans verstaan nie.
My een seun het ‘n Engelse vriend, nogal met ‘n Afrikaanse van, wat niks Afrikaans verstaan nie (skoolgegaan hier in Johannesburg). Dis geen aansitterigheid nie (soos baiemaal die geval met Engelssprekendes), hy verstaan nie eers kort grappies as ons almal saam drink nie (wanneer alle inhibisies en pretensies verdwyn).
Dus, also en met ander woorde: In ‘n tweetalige opset sal die onderdanige groep hulle taal meng met die taal van die dominante groep, nooit andersom nie. Die gewraakte sin wat ek vir jou as voorbeeld gebruik het, met die Afrikaans en Engels omgeruil, word nie deur Engelssprekendes verstaan nie waar die oorspronklike Afrikaanse sin, deurspek met Engelse woorde, vir jou doodgewoon is, jy verdedig dit selfs en noem daardie soort taalgebruik Kaaps.
Jy praat van my Russiese en Finse strooipoppe. Ek het juis Russies en Fins gekies want die Finne was vir lank onder Russiese heerskappy. Ek moes eintlik Pools en Russies gebruik het want ek weet eerstehands dat die Pole daardie soort onderdaanweersin jeens Russies het. Miskien geld dieselfde ten opsigte van Vlaams en Frans; die onderdaangroep (nie noodwendig onderdanige groep nie alhoewel in ons geval dit lyk of dit wel die geval is) se taal is deurspek met die dominante groep se taal en nie andersom nie (indien wel in ‘n ordegrootte mindere mate).
So, jou vraag of ek Kaaps as ‘n mengeltaal beskou is oorbodig; jy kan dit self uitwerk. As jy ‘n Afrikaanse en Engelse woordeboek nodig het om Kaaps in ‘n derde taal te vertaal dan is Kaaps ‘n mengeltaal, hoe anders? Jy beweer ek beskou nie mengeltaal as taal nie – verkeerd, natuurlik is dit taal maar nie ‘N (of sal ek sê HIN taal soos baie deesdae maak) taal nie. Dis nie Afrikaans nie ook nie Engels nie. Die feit dat hierdie mengsel ‘Kaaps’ genoem word maak dit nie ‘n afsonderlike taal nie. Myns insiens verwys ‘Kaaps’ na die manier wat die Kapenaars Afrikaans met Engels meng, dis nie ‘n ander taal nie, dis Afrikaans met Engels vermeng, so eenvoudig soos dit.
Groetnis
Jan Rap

