Antwoord vir Angus op sy kommentaar van 30 September 2015

  • 3

Beste Angus

Ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 29 September 2015.

Jy sê jy ken Afrikaanssprekendes wat weet wat ’n sambreel is sonder dat hulle ’n woord Maleis of Portugees ken. Ek weet, dit is dan juis ek wat jou dit vertel het toe ek aan jou die verskil tussen leenwoorde en vreemde woorde verduidelik het. Ek het vir jou gesê ’n leenwoord is so ingeburger in die taal dat jy dit gebruik sonder om te weet waar dit vandaan kom waar ’n vreemde woord, aan die ander kant, nie verstaan word as jy nie daardie vreemde taal ken waaruit die woord kom nie. Wat jy ‘Kaaps’ noem is so vol Engelse woorde dat ’n Afrikaanssprekende wat nie Engels ken nie dit glad nie sal verstaan nie.

Jy reken dis futiel om die begrip ‘grammatika’ aan my te verduidelik. Angus, jý is die ou wat, lyk dit my, die begrip nie verstaan nie. Grammatika is tot taal soos meganiese aandrywing – die enjin, ratkas, dryfas, wiele die toetie – tot ’n motorkar. Daarsonder is dit nie ’n kar nie.

Jy praat van grammatika asof dit ’n aspek van taal is; so asof jy die taal kan praat (besig) sonder ’n kennis van grammatika. Dit werk nie so nie; jy, skyn dit my, beskou grammatika tot taal soos verf tot die motor om nou verder met bogenoemde analoog te gaan. Die motor kan nog ry ongeag of hy geverf is of nie maar ’n taal kan jy nie praat sonder grammatika nie want saam met woordeskat en sintaksis IS dit die taal. Jy kan wel met gebrekkige grammatika wegkom maar dan praat jy die taal gebrekkig, net soos ’n kar kan wegkom as net vier van die ses silinders vuur. Wat wel ‘n aspek van taal is is aksent; jy kan byvoorbeeld goed Afrikaans praat as jy Engels is maar met ’n Engelse aksent; niks fout daarmee nie – as jy die grammatika onder die knie het praat jy die taal, nou wel nie soos ’n boorling nie maar 100% korrek.

Dit is dus onsin om te beweer ‘grammatici ontdek die struktuur van ’n taal en skryf dan ’n grammatika wat aan die kinders geleer word’. Jou bewering dat taal op twee maniere aangeleer word moet eintlik lui GRAMMATIKA word op twee maniere aangeleer naamlik blootstelling (Berlitz was ’n voorstaander van hierdie manier) of, soos meestal deur volwassenes (as ’n tweede of derde taal) uit ’n grammatikaboek.
Wat Elsassies betref, wie sê vir jou dit is 19de eeus? Mag wees, maar is dit oor Goethe se ballade? Hier is vir jou ’n stukkie teenswoordige Elsassies:

Wenn’r mien Büechel lese, noo wundere n Ihr Ejch viellicht e manichs Mol un schüttle mit’m Kopf un saaue: „Warum isch denn des Wort esoo g’schriewe un sell Wort esoo? Soo redt m’r doch gar nit!“ — Un doo han’r ganz ereecht. Ich hab’ oft nit esoo g’schriewe, wie m’r redt, un ich will Ejch au saaue, warum.

Maar weer terug tot mengeltaal, waaroor ons gesprek eintlik gaan. Een taal word met ’n ander vreemde taal gemeng wanneer ’n spreker van die taal dit nie kan verstaan as hy nie ook die vreemde taal ken nie. Ek het dit nou al op baie maniere verduidelik. Indien dit nog onduidelik is laat maar weet dan vertel ek jou op ’n ander manier.

Groetnis
Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Jou Jan-Rap-reël vir ʼn leenwoord sal nooit werk nie. Daarvolgens kan ek volgens jou, bv nie die volgende woorde gebruik nie, want ek weet van watter taal hulle afkomstig is: parlement, speaker, establishment, minister, advokaat, ad hoc. Jan Rap verbied my om dit te gebruik, want volgens sy definisie, is dit mengeltaal vir my. My buurman, daarenteen, weet nie waar hierdie woorde vandaan kom nie, dus kan hy hulle maar gebruik, want volgens Jan Rap is hulle leenwoorde vir hom.
    Wat Kaaps betref, is jy gedeeltelik in die kol. Die Afrikaanssprekende sal dit nie verstaan as hy nie Engels ken nie. Al ken hy Engels, sal hy dit nog nie mooi verstaan nie, want Kaaps het ook heelwat eiegoed. Die Kaapssprekende sal dit egter goed verstaan, want dis sy moedertaal, al kan hy nie Engels praat of verstaan nie.
    Jou verfstorie op ʼn motor om my begrip van grammatika te beskryf, is ʼn bewys dat jy deur al die korrespondensie heen nog nie weet wat grammatika is nie. Ek sal maar weer verduidelik.
    Elke mens is gebore met ʼn taalvermoë, of die gevoel vir taal. (Dis die naaste waaraan ek kan kom om Chomsky se "deep structure" aan jou te verduidelik. ) Dit stel hom in staat om betekenislose spraakklanke so te verbind dat hulle betekenisvolle woorde vorm. Hierdie woorde kan hy dan in ʼn gestruktureerde sin verbind. (Sin – wat sin maak, wat betekenis het.) Elke taal, of dit nou Kaaps of Kreools is, het so ʼn struktuur. Die mens hoef nie hierdie struktuur doelbewus aan te leer nie, dit word onbewus gedoen deur slegs blootstelling aan die taal.
    Linguiste, mense wat taalstruktuur bestudeer en heel waarskynlik al Latyn en/of Grieks, of Hebreeus se struktuur bestudeer het, en kennis gemaak het met ander linguiste se werk oor hierdie tale, neem ʼn taal waarin hulle belang stel, en beskryf die struktuur daarvan. Hierdie beskrywing is die grammatika van daardie taal. Grammatika is iets wat geskryf is, soos die naam aandui: gramma (Grieks) = letter.
    Grammatika is net bedoel vir die persoon wat daardie besondere taal bestudeer, nie vir die sprekers daarvan nie. ʼn Vriend van my en sy vrou is Duitssprekend. Hulle huistaal is Duits, maar hy het nooit Duits op skool gehad nie. Hy kan ʼn geselskap voer deur middel van Duits, maar weet niks van die grammatika daarvan af nie. Al Duitse grammatika wat hy ken, is dat dit selfstandige naamwoorde en werkwoorde het, want dit het hy deur middel van Engels en Afrikaans geleer op skool. Hy weet nie van naamvalle nie, en sy taalgevoel sê vir hom wanneer om der, die of das te gebruik. Ek het vier jaar Duits gehad op skool en ʼn verdere twee jaar op universiteit. Ek ken die Duitse grammatika redelik goed, en tog kan ek nie Duits praat nie. Ek kan net Duits skryf, nadat ek mooi gedink het, en die vermoë begin ek ook verloor. Nog ʼn voorbeeld. My huishulp het by Harrismith grootgeword. Sy kan Sotho praat, en Afrikaans wat sy by die kinders op die plaas geleer het. Sy het Durban toe getrek en was getroud met ʼn Zulu-man. So het sy Zulu geleer, en toe sy by Engelse gewerk het, het sy Engels geleer. Sy het nie skoolgegaan nie, en kan nie lees of skryf nie. Van grammatika weet sy absoluut niks, en tog kan sy vier tale praat en verstaan.
    Grammatika is dus deskriptief, maw dit beskryf slegs hoe ʼn taal daar uitsien. Dit word egter preskriptief aangewend om bv skrywers, digters, onderwysers, dominees, joernaliste, ens se taalvermoë te verskerp. Die grammatika-vertaalmetode kan ook aangewend word om ʼn nuwe taal te leer, alhoewel dit nie so suksesvol is as die luister-en-praat metode, of nog beter, die direkte metode nie.
    Om saam te vat: Grammatika is die studie en beskrywing van hoe spraakklanke verbind tot woorde, woorde verbind tot sinne en hoe sinne verbind. Grammatika is die studie en beskrywing van strukturele verhoudings in ʼn taal, en dit sluit fonologie, semantiek, en soms ook linguistiese geskiedenis, in. Dit is dus DESKRIPTIEF.
    Daarna kan dit deur middel van grammatikareëls, PRESKRIPTIEF aangewend word.
    Dit was eens mode by linguiste om vreemde lande te besoek, die taal daar se struktuur te bestudeer, en dan die grammatika daarvan te skryf. Deesdae bestudeer hulle die universaliteit van taal, en die ooreenkomste tussen tale. Daar is nog baie tale in die wêreld waarvan die strukture nog nie grammatikaal beskryf is nie.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Jou aanhaling wat jy beskou as teenswoordige Elsassies is toe ook nie so teenswoordig as wat jy dink nie. Dis ʼn voorbeeld van Elsassies uit die 18de eeu, en die beginwoorde van ʼn voorwoord wat Rose Woldstede-Lauth vir haar boek D’Schӧenmattmȕehl ,, D’G’schicht vun ere Elsasser Famili (1927) geskryf het.
    As jy belang stel in die taalsituasie in Elsas, kan jy gerus https://en.wikipedia.org/wiki/Alsace probeer.
    Die mense daar praat nou hoofsaaklik Frans, en skaam hulle vir Elsassiesditch, wat min of meer dieselfde taalstryd voer as Afrikaans. Hieronder volg so ʼn stukkie “teenswoordige” Elsassiesditch wat ek uit ʼn blog gekry het. Let op die Engels daarin.
    Münstertäler Alsatian Liawi frend,
    For twenty Johr ham'r us s'Zil un ideal gsetzt: alsatian Sproch d'un kültür Zù ferdaidiga UN ferdera. Mer han already Ales Meiliga gmacht: Bettschrefda, Mànifestationa en Strossborìg, Kolm'r, Melhüsa, Unterschrefta gsàmmelt, gspelt Theàd'r, Vortraj àn Stàmmdesch organisi (ea) rt, en Fiarùnga Derf'r UN Staadt, Dechd'rowa, even Radiosandùnga Tele-Sandunga, 10 Johr làng jedi weekend a Elsass'r stub em College vu Engersa, even Strossasang'r en Kolm'r met the Schnetzelbànk etc.
    Ala dana Persona, d'r fergàngena WIA since jetziga Komiteemetgled'r, Sowia alli "Heimetsproch" - Metgliad'r, bsonders calibration liawi Frend where emmer so zàhlrich to ùnseri Generàlfersàmmlùnga comma: a large mersi UN fergalt's d'r God! Merci fielmol, merci that Ehr Alli Kumma sen, from St. Louis to Hojianoï!
    Selestat Alsatian Liewi Frend,
    Already 20 Johr han mer a target un an ideal: to defend the un Ferderung vu unsera elsasserditsch Sproch un culture.
    Mer han it all Megliga made: Bettschrefta, Manifestationa en Strossburg, Colmar, Melhüsa, Unterschrefta gsàmmelt, gspelt Theater, Vortraj un Originates Esch organisi (ea) rt, Fierunga en village un city Dechterowa, Radiosandunga even telephoto Sandunga, 10 Johr làng each Wuch a Elsasser stub em College vu Ingersheim, even Strossasänger en Colmar met the Schnetzelbànk etc.
    Alla dana Persona because vergàngena WIA since jetziga Komiteemetglieder and alla "Heimetsproch" - Metglieder, particularly calibration liawi Frend where emmer so zàhlrich to unseri General Assembly comma: a grossa thanks un requited's God! Merci vielmol, merci that Ehr Alli kumma sen, from St. Louis to Haguenau!
    Dialect Kaiserstuhl Liewi Freind,
    Schu 20 Johr hämmr ei target un ei Ideal: d 'defense and d' Ferderig vu unsera elsässerditsch Sproch un Küldür.
    Mr hän scatterbrained alls meglige gmacht: Bittschrifde, Manifeschdatione in Schdroosburg, Colmar, Milhüse, Underschrifde gsammlet, Theader gschbield, Vorträg and Schdammdisch organized Fierige in village un Schdad, Dierchderowene, Radiosändige even in Färnseh simmer scho gsi. 10 Johr long jedi Wuch ne Alsatian Schdube in college vu Ingersheim, jo even Schdroosesänger in Colmar with nere Schnitzelbank un so Aries.
    Allene dane passengers, dr freijere WIA dr current Committee members, as Allene "Heimetsproch" members, bsunders calibration liebi Freind, wu alliwiil so zahlriich kumme to unsri Generalversammlig: ne great thanks and vergäld's Godd! Thanks Scheen viemol thanks Scheen, dass'r alli kumme sin, vu St. Louis to Hagenau!

    Bogenoemde voorbeelde skep egter nie die ware toedrag van sake nie. Na 1945 het Elsas Franse besit geword, en die omgangstaal is Frans. Hierdie voorbeelde is geskryf deur kampvegters vir die behoud van Elsassies en sal dus Frans beveg en vermy in hulle geskrifte.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Jy skryf: “Maar weer terug tot mengeltaal, waaroor ons gesprek eintlik gaan. Een taal word met ’n ander vreemde taal gemeng wanneer ’n spreker van die taal dit nie kan verstaan as hy nie ook die vreemde taal ken nie. Ek het dit nou al op baie maniere verduidelik. Indien dit nog onduidelik is laat maar weet dan vertel ek jou op ’n ander manier.”
    Hierdie Jan-Rap-reël sal nie werk nie.
    Wie se kennis van die taal gaan jy as norm gebruik, en hoe en waar gaan jy dit toepas? Jy het George Orwell se Big Brother met spesiale apparaat nodig om om hierdie Newspeak te kan afdwing.
    Ek weet nie of jy dit by patriotiese taalsuiweraars gehoor het, en of dit jou eie maaksel is nie, maar dis ver van die werklikheid verwyder. Die werklikheid is dat enige woord wat vreemd is vir ʼn taal, as leenwoord beskou kan word. Jy kan nie vir ʼn taal grense voorskryf nie.
    Kaaps is ʼn mengeltaal, maar volgens jou definisie is dit nie. Mense wat Kaaps praat en dit van kleins af geleer het, het nie noodwendig ʼn kennis van Engels nodig om hulle taal te verstaan nie. Kleuters en kinders wat Kaaps praat het beslis nie eers Engels (met sy grammatika nogals) geleer om hulle moedertaal te kan verstaan en praat nie.
    Buitendien wat is verkeerd met ʼn mengeltaal? Dit kommunikeer uitstekend, want dit trek die voordeel uit twee of meer tale, en oor 100 of 200 jaar sal niemand meer neus optrek vir die nuwe taal wat so ontstaan nie. Kyk maar na Afrikaans, wat sy Kaapse skoene deur ʼn suiweringsproses uitgetrek het om ʼn volwaardige taal te word wat op alle gebiede kan meeding. Ons moet net nie die fout begaan om hom op te piep en te beskerm nie, want dan gaan hy nooit bestand raak teen al die kieme en virusse van buite nie.
    Groete
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top