Beste Angus
Jy sê jy haat dit as iemand Engelse woorde gebruik as hy Afrikaans praat maar terselfdertyd verdedig jy ’n sinsnede soos “. . . usually as ek vir myself goals geset het achieve ek hulle”; jy’t selfs gesê dit kommunikeer beter. Nou hoe nou; wat is jou standpunt nou eintlik?
Jy sê ek is “ ’n klaagliedere van Jeremia” terwyl jy, aan die ander kant, wil “. . . uitvind waarom dan hierdie Engelsrigheid . . .” Wel, ek het jou mos al lankal gesê, hierdie Engelsrigheid is simptomaties van die agteruitgang van Afrikaans en wel deur die verdringing van Afrikaans deur Engels. Of, meer akkuraat gestel, die omhelsing van Engels deur Afrikaanssprekendes (aangesien ‘n taal abstrak is en op sigself niks kan ‘aanval’ nie).
Jou stelling “Om iets te verafsku, en op grond daarvan dit te wil verbied deur reëls, regulasies en wetgewing, is ʼn subjektiewe benadering wat buitendien nie sal slaag nie” is sinneloos om verskeie redes. Eerstens, niemand verbied geradbraakte Afrikaans, of Engels of Duits of watter taal ook al, statutêr nie; die grammatika- en spelreëls skryf voor wat regte of verkeerde gebruik is.
Tweedens, ‘verafsku’ en ‘haat’ kom maar min of meer op dieselfde neer; jy kan dus nie kritiek uitspreek teenoor ouens wat geradbraakte taal sou verafsku en dan, terselfdertyd, verklaar dat jy sodanige taalgebruik haat nie.
Derdens, ‘verafsku’ is ’n sterk woord en as jy impliseer dat ek hierdie soort van wangebruik van Afrikaans ‘verafsku’ is jy verkeerd; ek wys maar net op die agteruitgang van Afrikaans. ’n Werktuigkundige wat karre se enjins herstel ‘verafsku’ nie stukkende enjins nie.
Vierdens, ek het nuus vir jou – daar ís goed wat deur almal verafsku word en wat dan wel deur wette, reëls en regulasies verbied word naamlik, onder andere, moord, roof en korrupsie. Jy’s darem reg in een opsig; dit help nie altyd nie.
Afrikaans en Engels beïnvloed mekaar wedersyds soos jy sê maar, miskien vanweë ’n groter taaltrots van die Engelssprekende, en miskien vanweë die apatiese houding van die gemiddelde Afrikaner teenoor sy taal, en definitief as gevolg van die vyandige houding van die regering jeens Afrikaans, is die Engelse invloed op Afrikaans oneindig groter as andersom. Dink jy jy sal ooit die Engelse ekwivalent van “jy moet ‘n relationship develop met die vendor”? Soos, “you must ontwikkel a verhouding with the verkoper”? Nooit as te nimmer.
Die Engelse invloed kry ook stukrag deur middel van die Afrikaanse mediakanale. Op RSG en KykNet is dit, lyk dit my, beleid om Engelssprekende gaste te nooi en dan ’n groot deel van die betrokke program in Engels uit te saai. Op RSG gaan hulle so ver as om mense te nooi om maar Engels te praat as dit lyk of hulle sukkel met Afrikaans (hoe ontaktvol; die persoon doen sy bes om Afrikaans op ’n Afrikaanse stasie te praat en hulle sê effektief vir hom hy kan nie Afrikaans praat nie). Terloops, bel in na ’n Engelse stasie toe en vra om Afrikaans te praat en kyk hoe ver kom jy.
Dit lyk my jy verstaan nie die begrip ‘lukraak’ nie of dan ten minste wat ek met lukraak bedoel nie. Jou verduideliking van “kanse . . . kleiner [sal] wees as om die lotto te wen” sal geld as so ’n spreker ENIGE woord uit die Engelse woordeskat ingooi en dit is tog godsonmoontlik – watter spreker het nou in sy kop die totale Greater Oxford Dictionary as databasis? Dis tog duidelik dat ek bedoel sprekers van geradbraakte Afrikaans sal, sonder enige vaste patroon, Engelse woorde gebruik.
Ek kan nie onthou dat ek ooit die woord ‘slapgattig’ gebruik het nie maar ja, die grootste gros Afrikaanssprekers vertoon definitief ’n slapgathouding wat taalgebruik betref. Kommunikasie op so ’n geradbraakte manier toon dan ook duidelik ’n gebrek aan taalvaardigheid teweeggebring deur hoofsaaklik ’n apatiese houding teenoor Afrikaans terwyl, terselfdertyd, hierdie einstes met groot ywer sorg dat hulle korrek Engels praat. Die grootste gros Afrikaanssprekendes is nie slapgatte nie MAAR die grootste gros Afrikaanssprekendes het definitief ‘n slapgathouding wat hulle taal betref.
Ek sê weer, jy was reg as jy sê dat, as Afrikaans deur Engels verdring word, Engels die spreektaal sal wees; jý is die ou wat gepraat het van verdringing (sien my vorige brief). Engels het Afrikaans al so verdring op universiteit (en skole) dat Afrikaans daar al VERVANG is deur Engels. Die gebruik van Engfrikaans, of Afrengels, geradbraakte Afrikaans dus, is simptomaties van hierdie verdringing wat dan uiteindelik gaan lei tot vervanging (soos reeds besig is om te gebeur).
Jou storie oor Maleis-Portugees hou nie water nie. Maleis-Portugees se juiste naam dui op ’n vermenging van Portugees en Maleis en, sou Afrikaans, soos jy beweer, uit ’n pidgin van Nederlands en Maleis-Portugees ontstaan het, sou Afrikaans deurspek gewees het met Portugese, Maleise en/of Maleis-Portugese woorde wat nie die geval is nie. Verder, lyk dit ook vir my, of jy beweer Afrikaans het toe ontstaan nadat hierdie mengsel met Engels in aanraking gekom het. Hoe absurd.
Die sodanige vreemde woorde wat wel in Afrikaans voorkom is maar bloot ingeburgerde leenwoorde wat al eeue in gebruik is. Om die waarheid te sê, baie van die woorde wat van Portugese oorsprong sou wees, is hulle nie eers seker van of dit uit Spaans of Italiaans is nie of, indirek, uit hierdie twee tale via Nederlands in Afrikaans ingevoer is nie.
Ek sien jy verstaan nog steeds nie die begrip ‘taalvermenging’ nie. Ek het nou al oor en oor aan jou verduidelik, met voorbeelde, van gemengde en geradbraakte Afrikaans maar die begrip ontwyk jou steeds. Die maklikste, dink ek, wat nou vir jou mag werk, is die volgende: As die Engelsklinkende of Engelslykende woord in die Afrikaanse verklarende woordeboek voorkom is dit ’n leenwoord, ’n woord wat al lankal dalk in die taal opgeneem is omdat daar nie ’n gepaste Afrikaanse woord daarvoor bestaan het nie.
As die woord NIE in die verklarende woordeboek is nie maar in die Engelse deel van ’n tweetalige voorkom is dit ’n Engelse woord, NIE ’n Afrikaanse woord nie en die gebruik daarvan in Afrikaanse teks is gewoon verkeerd. Voorbeelde van hierdie wanpraktyk is volop in die Afrikaanse sepies soos Binneland, Sewende Laan en Villa Rosa, daar is selfs hier op LitNet (ek dink onder Menings of Rubrieke) ’n klomp voorbeelde. Ek hoop hierdie raad sal jou help om die storie van gemengde Afrikaans beter te verstaan.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Miskien het ek dit te sterk gestel om te sê ek haat die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans. Dis in elk geval vir my lelik. Ek kan egter nie sê omdat dit vir my lelik is, mag mense nie Engelse woorde in Afrikaans gebruik nie. Vir hulle kommunikeer dit goed, anders sou hulle nie so praat nie, en buitendien, nie ek of jy kan voorskryf hoe ʼn taal gebruik moet word nie. Spelreëls is mensgemaak en kan verander word. Grammatikareëls hang af van die menslike taalvermoë en taalgevoel. Dit kan ook verbreek word; ʼn goeie voorbeeld is die gebruik van ‘ons’ in Afrikaans.
My stelling: “Om iets te verafsku, en op grond daarvan dit te wil verbied deur reëls, regulasies en wetgewing, is ʼn subjektiewe benadering wat buitendien nie sal slaag nie” is nie sinloos soos jy beweer nie. Dis 'n feit soos 'n koei. Jy wil mense probeer voorskryf hoe hulle moet praat, en it sal jy in der ewigheid nie regkry nie.
Dit is so dat Engels 'n groter invloed op Afrikaans het as andersom, wat te verstane is. Engels is 'n veel ouer taal as Afrikaans wat nog steeds nie sy babaskoene ontgroei het nie. Engels is ook ʼn taal wat maklik kommunikeer en wêreldwyd kan aanpas. Afrikaans kan maar net hier aan die suidpunt van Afrika funksioneer. Selfs met die diaspora van die Afrikaners, sal Afrikaans nooit die mas opkom in ander lande nie. Die boere wat Argentinië toe getrek het na die Engelse oorlog, het dit al bewys.
Nog verstaan jy die gebruik van ‘lukraak’ nie. Om die waarheid te sê, ek glo nie jy verstaan die gebruik van enige woord nie. Laat ek dit tog maar aan jou verduidelik. As ons die woord ‘huis’ gebruik wanneer ons deur middel van taal kommunikeer, dan moet spreker en hoorder ooreenkom wat die woord ‘huis’ beteken. Onder andere moet spreker en hoorder verstaan dat ‘huis’ beteken ʼn gebou as woning vir die mens. As jy die woord ‘lukraak’ gebruik, moet ek en jy ooreenkom wat die betekenis daarvan is. Ek kan onmoontlik verstaan wat jy daarmee bedoel. Ons moet ooreenkom dat dit beteken ‘wat van die toeval afhang’, ‘sommer wildweg’ en ʼn woord vir die Engels ‘random’.
Iemand wat ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik, kies die woord nie lukraak nie – hy kies die woord volgens die betekenis daarvan. As ʼn Engelse woord in Afrikaans gebruik word, veroorsaak dit ook nie patroonloosheid aan die sin nie.
As Afrikaanssprekendes ʼn slapgathouding tov Afrikaans het, moet daar ʼn rede voor wees. Miskien kommunikeer hierdie slapgattige taal beter. Ek merk dat FC Boot praat van ‘updates vir sagteware’. Miskien moes hy gesê het: “tot opdatumgebringde programmatuur.” (Besluit maar self watter een die maklikste kommunikeer.)
Jan, jou probleem is, jy dink tale funksioneer in ʼn blik met 'n deksel op. Tale is nie so begrens dat niks oorloop na ʼn ander taal nie. Dit is nie dieselfde as een taal ʼn ander verdring nie. Engels is besig om Afrikaans te verdring, maw te vervang. Die invloed wat Engels op Afrikaans het, is heeltemal ʼn ander saak. Dit sal uiteindelik lei tot ʼn nuwe taal, wat nie Engels of Afrikaans is nie. So iets het feitlik voor ons oë afgespeel met die totstandkoming van Afrikaans.
Om te beweer dat my “storie” van Maleis-Portugees hou nie water nie suig jy sommer uit jou duim. Het jy al ʼn studie van Maleis-Portugees gemaak? Dis ʼn heel nuwe taal, nie Maleis of Portugees nie. Hierdie nuwe taal was die moedertaal van oa die slawe aan die Kaap. Hoe dink jy miskien het die Nederlanders en die slawe met mekaar gekommunikeer as dit nie ʼn soort pidgin-taal was nie? Natuurlik was Nederlands die taal van die meester, en daarom is slegs Maleis-Portugese woordeskat opgeneem met so hier en daar ʼn taalstruktuur wat verander het. Afrikaans het ook sy verdere ontstaan te danke aan kontak met die Engels ongeveer vanaf 1700. As die ou Oom kerk toe ry “dan zit hij die twee voor perde van die span op die punt. Sjoe! en dan rij hij juts.” (Hy ry deftig soos ʼn juts of ʼn regter.) (Zuid-Afrikaan, 6 Maart 1890).
Jy ken Afrikaans maar net nadat dit ʼn taalsuiweringsproses deurgemaak het.
Ewe skielik gee jy die mandaat aan woordeboekmakers om te bepaal of ʼn woord ʼn leenwoord is al dan nie. (Ek vind jou skrywe heel amusant.) Iemand wat Afrikaans praat, moet met ʼn woordeboek (wie s'n nogal?) onder die arm loop. Voordat hy ʼn woord gebruik wat nogal na Engels klink, moet hy eers naslaan of dit in die woordeboek is. Staan dit daar, kan hy maar daarmee lostrek. Dit mag miskien vir Jan Rap werk, maar wat van my huishulp wat ook Afrikaans praat? Sy kan nie lees of skryf nie.
Verstaan jy die woord ‘vermenging’? Dit wil nie so voorkom nie. Vermenging van tale is die begin van ʼn nuwe taal. Dit is hoe Afrikaans, en trouens elke ander taal, ontstaan het.
Dit is nou vir my duidelik waarom jy nie verstaan wat ek skryf nie, want taal is vir jou abstrak. Miskien kommunikeer jy dan dmv ʼn sesde sintuig met jou medemens.
Groete
Angus
Beste Angus
Daar is 'n rede waarom ek die woord 'updates' gebruik het in my kommentaar en nie
“tot opdatumgebringde programmatuur” nie, want jy sal sukkel om die woord op Microsoft se webblad te vind. Die woord “web” is eintlik internet “slang”, tog is webblad
en die meervoud tans aanvaarbaar. Jy is dus reg dat ons woorde uit Engels neem en saamvoeg met 'n Afrikaanse woord om 'n nuwe woord te vorm. Soos webblad.
Beste FC Boot,
Eintlik trek ek maar Jan Rap se Anglisistiese been.
Groete
Angus
Beste Angus
Hoekom vra jy waarom FC Boot nie 'tot opdatumbringende programmatuur' gebruik het nie ipv 'updates vir sagteware'? Jy moes gevra het hoekom hy nie 'bygewerkte programmatuur' gebruik het nie.
In Nederland is daar ongeveer 260 dialekte, waarvan Fries nou 'n amptelike onderwystaal is. Is so iets plaaslik moontlik?
"Fryske taal beskikber yn Google Translate
De Fryske taal is de nijste taal dy’t tafoege is oan Google Translate. It is no mooglik om yn de oersettsjinst teksten yn bygelyks it Nederlânsk, Ingelsk of Japansk oer te setten fan en nei it Frysk. De ôfrûne moannen hawwe tûzenen Friezen hurd wurke oan it beskikber meitsjen fan it Frysk yn Google Translate. Yn de hjerst fan 2015 organisearre de provinsje Fryslân de ‘Fryske Google Translate Wike’. Yn dy wike waarden mear as in miljoen wurden oerset fan it Ingelsk nei it Frysk.
Wichtige stap foar takomst Frysk
Deputearre Sietske Poepjes: “It is geweldich hoefolle minsken yn septimber 2015 yn de Fryske Google Translate Wike meidien hawwe oan it oersetten fan Ingelske wurden nei it Frysk. Meigean yn digitale ûntwikkelingen is hiel wichtich foar in taal. Dat it Frysk no beskikber is yn Google Translate is in tige wichtige stap foar de takomst fan it Frysk. Ik hoopje dat in soad minsken troch Google Translate it skreaune Frysk mear brûke sille.”
Deputearre Sietske Poepjes jout Fryske les oan Coen en Sander fan Radio 538. Harkje hjir it fragmint: https://www.youtube.com/watch?v=G_wWO447OlY. "
Beste Jan Rap,
"Bygewerkte programmatuur" sou jy nog miskien van gehoor het in lesings op US toe dit nog US was. Die gewone gebruiker van die rekenaar sal nie weet wat dit beteken nie. Gaan toets dit deur mense te vra wat "bygewerkte programmatuur" is. Daarna vra jy hulle wat "updates" is en vergelyk dan watter die beste kommunikeer. Lees FC Boot se rede hierbo.
Groete,
Angus
Beste Angus
Daar verkas jy nou weer tangensiaal in 'n heel ander rigting. Jy sê FC Boot moes miskien 'tot opdatumgebringde programmatuur' gebruik het ipv 'updates vir sagteware; en ek wou weet hoekom JY nie liewer 'bygewerkte' ipv die absurde 'tot opdatumgebringde' gebruik het nie. Dis al.
Wat die 'beter kommunikeer' betref: Vir 'n kleuter kommunikeer 'lekker vleisie' beter as 'voortrefliike bredie'. So, indien, as gevolg van omhelsing van Engels sekere Afrikaners taalgestremd geraak het ten opsigte van hulle eie taal, beteken dit glad nie die verskraalde Afrikaans is nou beter want dit is 'nuwer' nie en almal moet maar daal tot daardie vlak nie. Dis mos logies, of hoe?