Antwoord vir Angus op sy brief van 10 April 2017

  • 6

Beste Angus

Soos ek al voorheen vir jou gesê het, linguistiek is die studie van taal, alle aspekte van taal wat natuurlik grammatika kan insluit MAAR dan die grammatika van ’n spesifieke taal of tale (vir vergelyking ens).  Jy kry nie ’n aparte vak ‘Grammatika’ soos byvoorbeeld ‘Meetkunde’ nie; grammatika is taalspesifiek.  Jy kan wel ’n paar tale se grammatikas vir sekere doeleindes bestudeer maar dan is jy besig met ‘linguistiek’.

Om ’n taal korrek te praat moet jy die woordeskat hê EN die grammatika ken anders kan jy nie die taal praat nie.  Of die kleuter waarvan jy praat dit self “... gegenereer [het] uit die taalsisteem wat hy onbewustelik baasgeraak het met blootstelling” om jou nou aan te haal, of wat ook al, hy het die grammatika onder die knie want hy praat die taal korrek (myns insiens is hierdie genereer- en blootstellingstorie maar net ’n ander manier om te sê ‘aan moedersknie geleer’).

As jy ’n vreemde taal wil aanleer, sê Engels, dan gaan soek jy nie ’n Engelse moeder en sit vir byna ’n dekade aan haar knie om die taal te leer nie nee, jy kry ’n grammatikaboek wat ’n samevatting is (met gepaardgaande nomenklatuur natuurlik) van wat die Engelse kindjie in agt of nege jaar opgetel het.  Die kind self is nou wel nie vertroud met die nomenklatuur nie maar hy het die woordeskat en die grammatika wat hom dan in staat stel om die taal te praat.

Wat Chomsky se status in die linguistiek betref:  Ek hoor maar net (onder andere by jou) van die wonderlike nuwe aardskuddende rigting wat hy teweeggebring het gedurende sy studie van Hebreeus maar wat dit is het jy nog nie vertel nie.  Einstein het op ‘n kol gesê as jy nie iets aan die gewone man kan verduidelik nie, verstaan jy dit self nie.  Ek sal nie sê dat ek dit heeltemal eens met hierdie stelling is nie, maar daar steek tog iets van die waarheid daarin.  So, vertel my in leketerme presies wat dit is wat Chomsky gedoen het wat sy portuurgroep en die linguiste vóór hulle misgekyk het.

Aangaande ‘teorie’:  In een van jou briewe het jy gesê ‘teorie’ is die hoogste vorm van wetenskaplike kennis en in ’n ander brief het jy, nadat jy ‘teorie’ genoem het, in hakies gesit ‘die wetenskaplike betekenis, nie die populêre een nie’ of so iets.  Ek het jou daarop gewys dat jy dalk ‘theory’ (wat as ‘teorie’ vertaal word) verwar het met ‘theorem’ (wat verkeerdelik as ‘teorie’ vertaal word). Laasgenoemde is ‘teorema’ of ‘stelling’.  Dis maar al.

Jy sê “aan Engelse woorde of watter taal se woorde in Afrikaans gebruik word, kan niemand iets doen nie.”  Verkeerd want dit is juis IEMAND wat die woord verkeerdelik gebruik. As iemand sê ‘...jy’t gemention dat daar nie ’n future vir ons is nie’ het hy ‘mention’ en ‘future’ gebruik in plaas van ‘noem’ en ‘toekoms’ en dis gewoon verkeerd.  Woorde is abstrakte entiteite en kan hulself nie met geweld in die spreker se taal in forseer nie; die spreker kies bewustelik om hulle te gebruik.

Om dieselfde rede dan kan jy ook nie praat van ‘n “beteuterde taaltjie” nie; taal is abstrak en kan nie swem of bergklim of beteuterd wees of sterk wees nie.  Die sprekers kan wel beteuterd wees en swak taalgebruik handhaaf soos jy in, onder andere, die sepies sien en op radio hoor.  Vreemde woorde wat wel inslag vind is wanneer ’n woord aan ’n ander taal ontleen is omdat in die spreker se taal daar nie ’n woord vir daardie begrip is nie.  Sodanige woorde is leenwoorde en vul ’n gemis in die taal wat dit aanneem.  Woorde uit ander tale wat ’n geldige woord vervang verteenwoordig verkeerde en slordige taalgebruik.

Net ’n regstellinkie.  Op 17 Maart skryf jy “Natuurlik is Afrikaans, om jou taal te gebruik, vervalle Nederlands.”  Dit mag die indruk skep dat ek gesê het Afrikaans is vervalle Nederlands wat nie korrek is nie.  Ek het gesê Afrikaans is NIE vervalle Nederlands nie; Afrikaans het vertak van 17de eeuse Nederlands (Nederlands is ook lank nie meer dieselfde as toe nie).  Op dieselfde wyse is Nederlands nie ’n vervalle weergawe van wat ook al sy brontaal of –tale was nie en Portugees, Frans en Italiaans is nie vervalle Latyn nie.

In die slotopmerking van jou brief sê jy jy “sien Afrikaans as ʼn florerende taal met ʼn ryk woordeskat” maar op 23 Februarie sê jy die rede hoekom ons net sommer Engelse woorde ‘vat’, om nou jou uitdrukking te gebruik, is omdat “ons woordeskat ... nog te arm [is] en ... verryk [moet] word.”  Nou hoe nou?  Verder, oor die Engelse woorde in Afrikaans sê jy, op 23 Maart, “Vir my taalgevoel is dit lelik om so te praat, maar dis my eie persoonlike gevoel.”  In ’n ander brief het jy selfs gesê dis vir jou “afskuwelik lelik” maar op 23 Februarie sê jy hierdie sommer net vat van Engelse woorde "maak ons taal actually meer streamlined.’  Dit kan twee dinge beteken, of jy’s deurmekaar of ’n ‘streamlined’ taal is ‘afskuwelik lelik’.  Watter een is dit?

Wat die ‘sommer net vat van Engelse woorde’ betref:  Dis slordig en verkeerd.  Mens kan verkeerd eet, verkeerd stap, verkeerd slaap, verkeerd sit, verkeerd drink, verkeerd reken, verkeerd kook, verkeerd saag en boor, verkeerd bestuur en verkeerd stem om nou maar net ’n paar goed te noem.  Wat laat jou dink mens kan nie verkeerd praat nie; dat alles wat jy praat nou maar net reg is want dit is soos JY dit wil sê en basta met die res?

Ek sluit af met wat ek aan die heel begin vir jou gesê het:  Die swak en slordige Afrikaans in onder andere die sepies is ‘afskuwelik lelik’ (daar stem jy saam) en is tekenend van die besmetting van Afrikaans deur Engels; met ander woorde die agteruitgaan van Afrikaans.

Groetnis

Jan Rap   

  • 6

Kommentaar

  • Beste Jan Rap,

    Om op 3 Mei te "antwoord" (repliek te lewer) op Angus se brief van 10 April is, om die minste te sê, bekruip-taktiek op sy allerbeste. Hit-and-run soos die Engelse sou sê.
    Jy is mosterd na die maal Jan, mosterd na die maal...
    So terloops, Angus se brief van 10 April het op 'n eenvoudige beredeneerde wyse jou argumente oor grammatika en linguistiek aan flarde geskiet en jy het dit nie eers agtergekom nie.
    Laastens: My buurman se dogter is twee jaar gelede, na matriek, Frankryk toe en sy praat Frans nou vlot. En weet jy wat? Sy het nog nooit 'n Franse grammatikaboek van naby gesien nie!

  • Beste Dirk,
    Óf Jan lees nie wat ek geskryf het nie, όf hy vergeet wat ek geskryf het, όf hy wil nie verstaan wat ek geskryf het nie. Jou buurman se dogter is ʼn voorbeeld van hoe taal geleer word regoor die wêreld.
    Jou kommentaar maak dit eintlik vir my onnodig om Jan te antwoord, maar ek sal dit maar doen, want miskien stel hy wel belang in Linguistiek. Dit mag miskien ook net wees dat hy sommer net wil stry omdat stry stry is.
    Groete,
    Angus

  • Beste Dirk Rigter
    Daar's 'n goeie rede hoekom ek op 3 Mei eers reageer het: Ek het die aand na ek Angus se brief gelees het begin met my repliek maar toe onthou ek het nog nie die kar in die garage getrek nie; ek beter dit eers gou doen. Die kar ingetrek sien ek daar lê nog die stukkies hout wat ek die middag voorberei het om te lym en toe gee dit 'n soektog af na die gepaste klampe. Teen die tyd wat die goed gelym en geklamp was, was dit redelik koel en om effens op te warm skink ek toe maar 'n skeutjie whisky en ontdek toe daar's die rissies en uie en knoffel nog steeds in die bottel asyn wat ek al die vorige aand moes verpulp het (ek maak my eie rissiesous) wat ek toe onverwyld aanpak (die verpulpstorie nou). Dit afgehandel voel ek die koue bekruip my weer en na nog 'n skeutjie whisky kom ek agter daar is 'n heruitsending van die oggend se Praatsaam-program wat ek misgeloop het en ek luister toe daarna. Die stilsit na die byna uurlange program laat die koue weer toeslaan wat ek toe periodiek moes teëwerk met nog 'n paar binnebaadjies as jy volg wat ek bedoel. So het ek toe nie by my brief uitgekom nie, want ek het toe maar gaan slaap.
    Die volgende paar aande het soortgelyke 'kettings' van gebeurtenisse veroorsaak dat ek weer nie by my repliek kon uitkom nie en toe is dit skielik langnaweek waar mense na ons toe gekom het en weens die aandag wat 'n gasheer genoop is om aan mense te gee is die repliek toe nog steeds agterweë.
    Met die herstelperiode na die langnaweek is daar toe skielik weer 'n langnaweek waar ons toe weer na mense is waarna daar weer soortgelyke kettings van aktiwiteite my daarvan weerhou het om te skryf tot 3 Mei. Ek is jammer as dit jou ontstig het; ek sal probeer sorg dat dit nie weer gebeur nie.
    Maar, aan die ander kant nou weer en buitendien, wat maak dit saak? Hoekom is dit nou volgens jou tref-en-trap- en bekruiptaktiek? Dink jy Angus kan nie onthou wat hy drie weke vantevore geskryf het nie? Jy beledig nou sommer maar net omdat beledig beledig is.
    Dit mag wees dat Angus my argument aan flarde geskiet het soos jy beweer maar hoe, waar was ek verkeerd? Jy praat weer sommer net omdat praat praat is, want ek kan dan net so maklik sê EK het Angus se argument aan flarde geskiet.
    Angus sê 'n taal het nie 'n grammatika voor iemand dit vir hom geskryf het nie. Ek sê enige taal HET 'n grammatika wat jy moet ken voordat jy die taal kan praat. Iemand stel slegs die BESTAANDE grammatika ten boek; daar's nie sprake van 'n grammatika skryf vir die taal nie.
    Jou buurman se dogter is 'n sprekende voorbeeld: Sy praat Frans vlot omdat sy die woordeskat het en die grammatika ken. As sy sê 'je suis' en nie 'je as' nie beteken dit sy praat korrek want sy gebruik die korrekte grammatika. Die feit dat sy nie 'n Franse grammatikaboek van naby gesien het nie beteken bloot sy het die taal, in twee jaar, mondlangs, deur blootstelling, geleer. As ek die taal wil leer sal 'n grammatikaboek nodig wees want ek kan nie bekostig om twee jaar in Frankryk te gaan bly nie.
    Waar ek op skool was (Nelspruit) was heelwat Portugese outjies wie se ouers hulle daar ingeskryf het om, vermoed ek, Engels te leer. Die koshuis was egter hoofsaaklik Afrikaans en teen matriek kon daardie outjies Afrikaans en Engels vlot praat maar jy moet in aanmerking neem hulle was vir 5 tot 8 jaar blootgestel aan Afrikaans (en het natuurlik ook Afrikaans as vak gehad al was hy in 'n Engelse klas). As 'n volwasse Portugees Afrikaans wil leer kan hy nie Nelspruit-koshuis toe gaan nie; hy gaan 'n grammatikaboek aanskaf.
    Jy kan byvoorbeeld brug leer speel deur bloot net dop te hou hoe mense dit speel maar jy sal dit baie vinniger leer as iemand vir jou die 'grammatika', die reëls, verduidelik of dit self opswot deur 'n boek daaroor aan te skaf. Dis tog nie so moeilik om te verstaan nie of hoe?
    Groetnis
    Jan Rap

  • Beste Jan,
    Dit is so dat 'n mens 'n taal kan aanleer deur die grammatikametode, alhoewel dit nie die beste metode is nie. Ek het Duits so geleer en kon dit nie praat nie.

    Watter grammatikaboek het jou ouers jou gegee as kleuter om Afrikaans te leer?En hoe het jy Engels geleer? Ook deur middel van 'n grammatikaboek?

    Sê nou daar was nie taalkundiges wat Afrikaanse en Engelse grammatikaboeke geskryf het nie? Dan sou jy mos nie kon praat nie, want volgens jou moet jy kennis van grammatika hê om 'n taal te kan praat en verstaan.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Afrikaans, soos bykans alle kinders hulle tale leer, het ek geleer aan die spreekwoordelike moedersknie (en dit sluit grammatika in). Engels het ek op skool geleer dmv onder andere 'n grammatikaboek. As ek dit nie mis het nie was die naam 'English Grammar'. In die laer standerds het ons wel nie grammatikaboeke gehad nie maar die onnie het wel.
      Duits het ek geleer ook dmv 'n grammatikaboek (Moderne Duitse Grammatika) was die boek se naam. Ek het egter geen oefening gehad nie maar het redelik reggekom in Duitsland met my Matriekduits. Ek is seker as ek drie maande in Duitsland bly sal ek redelik vlot wees daarin.
      Jy sê volgens my moet 'n mens 'n kennis van grammatika hê om 'n taal te kan praat. Halfpad reg want ek het gesê jy moet die grammatika onder die knie hê EN die woordeskat. Die grammatika van die taal is hoe jy die woorde inspan, verbuig ens en daarsonder (grammatikakennis) kan jy die taal nie praat nie. Jy kan die grammatika optel deur bloot na die taal te luister maar dit vat lank - jy kan 'n grammtikaboek aanskaf en dit vinniger onder die knie kry. Die grammatika plus die woordeskat IS die taal.
      Groetnis
      Jan Rap

  • Beste Jan,
    Ek sal graag wou weet watter grammatikaboek die eienares van die moedersknie gebruik het om jou grammatika ta leer. Dit kon dalk nog Ponelis se "Grondtrekke van die Afrikaanse Sintaksis" gewees het.

    Ek is glad nie beïndruk met jou taalonderwysers nie. Hulle mag wel vakkennis gehad het, maar van die metodiek van taalonderrig het hulle niks geweet nie.

    Dis te verstane dat jy sal regom met jou matriekkennis van Duits in Duitsland. 'n Duitssprekende huisvriend van my skoonouers het met sy kennis van Afrikaans hier goed reggekom, en na 'n jaar het hy dit vlot gepraat. Hy het nooit onderrig in Afrikaans gehad nie. Ek het Matriekduits plus twee jaar op universiteit en ek moet eers 'n Duitse sin neerskryf en uitpluis, voordat ek dit kan sê.
    Woordorde,sintaksis, woordfleksie, is grammatika, soos jy sê, maar dis verkeerde metodiek om dit kunsmatig aan te leer uit grammatikaboek. (En wat maak jy as niemand nog so 'n boek geskryf het nie, of jy kan nie een in die hande kry nie?) Dit is waar blootstelling aan 'n taal die beste manier is om 'n taal te leer. Jou taalgevoel sê vir jou dat dit nie 'lelik huis' is nie, maar 'lelike huis'. Jy hoef dit nie uit 'n grammatikaboek te leer nie.
    Terloops, ek dink jy verwar taaloefeningboeke met grammatika. Grammatika is die sinchroniese studie van taal (nie 'n spesifieke taal nie.) Grammatika is die studie van taal met die doel om taal te verstaan, en omdat Engels deesdae die wetenskapstaal is, kom voorbeelde in Engels. Natuurlik kan spesifieke tale se strukture ook bestudeer word, en dan kom die voorbeelde uit daardie tale, maar die grammatika van taal is universeel.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top