Antwoord vir Angus oor sy 'Lewende Taal'-brief

  • 0

Dag Angus, ek reageer op jou brief van 9 April, paragraaf per paragraaf.  Die nommers dui op jou paragrawe.

  1. Ek stem saam
  2. Dis nie dat ek saamstem, of nie saamstem nie; dis 'n voldonge feit.  Tale, Afrikaans inkluis, verander.  Ek het tog al male sonder tal gesê dat, soos byvoorbeeld Russies, Engels en Duits, Afrikaans ook nie meer dieselfde is as wat hy in 1857 was nie.  Wat toelaatbaar is om nie as vermenging gesien te word nie, is dat Engelse woorde nie lukraak in plaas van Afrikaanse woorde ingegooi moet word nie.
  3. Dis nou al seker die derde keer wat ek vir jou sê (en vir wie ookal met vorige besprekings van hierdie aard):  Die oordra van inligting en/of kommunikasie is NIE die enigste doel van taal nie, dit is maar een aspek van taal. Kleredrag byvoorbeeld beskerm jou teen wind elemente maar dis nie die enigste doel nie; jou keuse van klere sê baie van jou persoonlikheid, so ook jou kar.  So is taal deel van jou kultuurgoed, deel van jou identiteit.  'n Veeldoelfunksie dus soos baie liggaamsdele – ek het nog die voorbeeld gebruik dat mens praat en eet met dieselfde orgaan.
  4. Baiemaal kom 'n woord uit taal, sê A, in beide Afrikaans en Engels maar weens omgewingsfaktore, kultuurverskille ens kry die woord 'n effens ander betekenis, soos byvoorbeeld 'wyf', 'waif' en 'wife'.  Kyk maar ook na die twee woordjies wat in Afrikaans en Engels byna dieselfde klink waarvoor die Duitsers "Mädel" of "Mäd'" sê (ek gee maar nie die oorspronklike Hollands nie).  En weer eens:  Leenwoorde word geleen wanneer daar nie gepaste woorde in 'n taal is nie; 'n woord uit 'n ander taal wat gebruik word in plaas van 'n bestaande woord is nie 'n leenwoord nie, dis 'n gevry na die populus.
  5. Ek stem nie saam dat dit nogal dink kos om jou eie taal te praat nie.  Wanneer dit wel nogal dink kos is wanneer jy uit oefening is en wanneer jy uit oefening is is wanneer jy gedurig 'n ander taal moet praat.  In ons geval moet ons gedurig Engels praat want die swartes wil dit hê; hulle praat dan heeltyd Engels.
  6. Dis soos jy sê: "Wat evolusie betref: aanpassing word deur mutasie bewerkstellig, en indien die aanpassing werk, word niks weggegooi nie."  Die logiese uitvloeisel is dan indien dit NIE werk nie word dit uitgegooi deur natuurlike seleksie.  So, 'n foutiewe mutasie is 'n fout en word weggegooi – wat oorleef is nie 'n fout nie.
  7. Jy maak 'n fout.  Keltiese tale is wel Indo-Europese tale en onder die Indo-Europese tale kry jy, onder andere Germaanse tale (wat Engels en Skots insluit) en Keltiese tale waaronder Skotse Gaelic en Ierse Gaelic resorteer (al wat laasgenoemde tale met Engels te doen het is dat hulle deur einste versmoor is).  Kyk maar weer na die taalboom wat jy vir my gestuur het en jy sal sien.
  8. 'Hou van' of nie is nie die kwessie nie; dit was vals want dit is nie waar dat ek wil hê die taal moet gepraat word soos hy deur ons voorvaders gepraat is nie (sic).  Ek het dan tog by herhaling gesê Afrikaans soos alle ander tale is nie meer dieselfde as wat hy in 1857 was nie.
  9. Die krag van 'n taal lê in sy sprekers; taal is abstrak en het op sigself geen krag nie.  Indien die sprekers die taal verwaarloos gaan hy agteruit en dit is waarteen ek probeer waarsku.  Praat die taal soos jou gat en hy gaan verdwyn, laat gods water oor gods akker loop, met ander woorde aanvaar gedienstig dat jy hom nie by die werk MAG praat nie,  nie in die kafee, belastingkantoor, aanklagkantoor, munisipaliteit of poskantoor kan praat nie en jy as spreker versuim jou plig. Kyk na die brief wat ek vir F Marx (Willie) geskryf het.
  10. Afrikaans is sterk en gespierd in soverre sy sprekers sterk en gespierd is.  Hoe meer flapdrolagtig hulle gaan optree hoe swakker gaan hulle uitdrukkingsvermoë in die taal wees en uiteindelik gaan die taal dood.  Alreeds is die taal hewig verarm as jy na baie van die sprekers luister.
  11. Was die dametjie nie dalk Afrikaans nie?   Die feit dat sy 'van' sê dui tog sterk daarop, ook 'Familiename' in plaas van 'Familienname'.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top