Antwoord op Thomas se 'Afrikanergesprek'-brief

  • 0

Hallo Thomas

Óf jy lees half, óf ek druk myself lomp uit. Ek is bereid om jou die voordeel van die twyfel te gee, so ek sê weer:

Ek kry die gevoel hierdie 'inklusiewe' neiging gaan hand aan hand met die versoeningsmode wat nou so allesoorheersend is en in die lig hiervan lyk dit vir my geforseerd en meewarig (mooi woord wat ek nou by jou gesien het). Ek bedoel dit dus nie op jou spesifiek nie, dat jý nou meewarig sou wees nie. 

Laat ek dit anders stel: Thomas, dink jy nie dit is meewarig van ons om nou die bruines as Afrikaners te wil klassifiseer nie? Is dit nie verdag dat die inisiatief van ons kant af kom nie? Indien jy voel dat die antwoorde op hierdie twee vrae 'nee' is, gee dan jou redes. Dit is mos glad nie debatvoering as jy my uitkryt as 'skuim-om-die-mond', of dat ek 'vroom' stellings maak nie? Jy doen nou presies waarvan jy my beskuldig, naamlik 'toedigsels' aan my skrywes heg.

En selfs al is die antwoorde 'nee', wat dink jy is die bruines se siening hiervan? Is so'n definisie nie aanmatigend uit hoofde van die eensydigheid daarvan nie?

Jy wonder oor die 'hekke' maar dit is maar net 'n ander manier om jou inklusiefbegrip uit te druk. Die 'waarheen?' van jou is dan mos voor-die-hand-liggend naamlik na die Afrikanerkamp of –dom of wat jy dit ookal wil noem. 

Maar, soos ek gesê het, indien die persoon, enige persoon, homself as Afrikaner beskou is uitnodiging en definisie oorbodig; hy is dan mos reeds daar. 'n Vriend van my was in die laat 50's (midde-in die sogenaamde apartheidsjare) op universiteit en een van sy studentemaats se bynaam was 'Ben Ghandi' en ek gee jou drie raaie hoekom. Daar was egter geen twyfel of Ben 'n Afrikaner was of nie want hy en almal om hom het hom as sodanig beskou.

So, skei uit met jou toedigsels; ek is NIE traag om vir jou te sê wat 'n Afrikaner is nie; ek het dit al oor en oor vir jou gesê. Wat ek OOK al vele male vir jou gesê het is dat jou definisie, naamlik dat almal wat Afrikaans praat Afrikaners is, nie water hou nie want almal wat Engels praat is nie Engelse nie.

Jy sê ' ... kom ons bespreek rustig 'n paar aspekte van die onderwerp en kyk of ons iewers kom." Man, ek is so rustig jy kan met my toor maar ja, kom ons maak so. Ek sê hoekom wil jy 'n definisie hê as jy en almal reeds weet wie en wat 'n Afrikaner is?

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top