Antwoord op Pieter Redelinghuys se kommentaar

  • 0

Beste Pieter

Dankie vir jou kommentaar onderaan my brief van 9 deser.  Jy vertolk wat ek jou probeer vertel verkeerd.  In die eerste plek, ek haat glad nie Engels of die Engelse nie; my ma is 'n direkte afstammeling van die 1820 setlaars (alhoewel Skots).  Sommige van my beste vriende (genuine), en die meeste van my beste boeke, is Engels.  Nee, ek het dit teen die agteruitgang van Afrikaans spesifiek en die agteruitgang van die land in die algemeen.

Jou verskoning vir jou louwarm gevoel teenoor Afrikaans en Afrikaners is, myns insiens, NIE as gevolg van 'n ander geskiedenis soos jy beweer nie maar die resultaat van indoktrinasie.  Jou hele brief spreek van defeatisme in die ergste graad.  Ek glo egter jy is in daardie toestand in geboelie; dit kan eenvoudig nie die resultaat van logiese denke wees nie.

Ek het jou gewys waar ek reken jy mistas.  Byvoorbeeld, jy glo 80% van die bevolking was uitgesluit en dis gewoon nie waar nie.  Ek het jou ook vertel dat die sogenaamde onderdrukking deur ons voorouers 'n mite is en dat Jan Smuts geen messias vir die Afrikaner of die swart bevolking was nie.  Ek het ook beweer julle Kapenaars oor die algemeen (beslis nie almal nie) het 'n beheptheid met, en dus misplaaste agting vir, Engels wat dan by implikasie bydra tot die agteruitgang van Afrikaans (en dit in sy bakermat nogal).  Ek het ook my redes vir hierdie stellings verskaf.

Ek mag natuurlik heeltemal verkeerd wees maar jy het nie een van die bewerings probeer weerlê nie.  Jou antwoord was maar net weer dat jy my 'pyn' verstaan en dat jy hoop ek eendag berusting sal vind.  Jy beveel dus eintlik aan laissez gods water oor gods akker faire en dit is, soos ek gesê het, defeatisties.  Dis 'n gaan-lê-houding Pieter, wat dink jy sou Danie Theron daarvan gesê het?  Nee man, staan op, Afrikaans kan nog gered word as ons bietjie meer moeite doen, bietjie vingertrek, veral julle Kapenaars.

Laat ek opsom:  Die verskil in ons geskiedenisse het bitter min te doen met ons verskillende aanslae; jy word 'n rat voor die oë gedraai dat alles nou na 'bevryding' klopdisselboom daaraan toe gaan en al gaan dit sleg, kan dit nie anders nie want 80% van die bevolking was uitgesluit en onderdruk.  Dit is 'n leuen; niemand was onderdruk nie, inteendeel, nóú is daar onderdrukking – niemand is 'bevry' nie.  Buitendien, 80% is in elk geval verkeerd; jy kan nie mense in hul duisende uit die 'bevryde' lande invoer en beweer hul grondgebied is hier gebuit nie.

Intussen, benewens die feit dat Afrikaans as gevolg van ons ongeërgdheid kwyn, is die land besig om te brand, die infrastruktuur verval, ons bronne (renosters, perlemoer, Karoogas, erts) word geaas en misdaad en korrupsie is totaal en al buite beheer.  Terloops, jy beveel aan ek moet die Economist koop om hierdie goed te lees ... dis nou kole dra na Newcastle toe; ek vertel dan hierdie goed vir julle vanaf die tyd wat die land aan Mandela geskenk is (eintlik vanaf 1969 al).

Pieter, gaan sit nou en besin.  Jy sal verbaas wees waarop jy afkom as jy bietjie dink vir 'n slag.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top