Antwoord op Hans se kommentaar

  • 0

Hans, ek verwys na jou brief gister aan my en Varkspek.

Hoe werk jy uit dat ek aan ontkenning ly as ek sê die owerhede is verantwoordelik vir padveiligheid? Die owerheid is daarvoor verantwoordelik dat narre en narinne lisensies kry. Die owerheid is verantwoordelik vir die instandhouding van die paaie. Die owerheid is verantwoordelik vir die feit dat spoorvervoer gestaak is en vragmotors gevolglik reise onveilig maak.

Om Kers- en Paasfees af te skaf sal wees soos om simptome te dokter en die volgende stap sal dan wees om motorverkope te beperk en dan uiteindelik te verbied. Niks maak so dronk soos mag nie.

Ek sien jy praat van christelike bevoordeling. As jy nou mooi dink, sal dit nie wonderlik wees as die land weer 'n christelike land is nie, en almal christene is nie? 'n Ou sal dan nie eers kwaad word as iemand voor hom indraai en aankruie nie, jy weet, daardie beginsel van die ander wang draai soort van ding.

Christenpolisie sal ook nie hierdie twak soos renosterstropery duld nie; onthou jy hoe effektief was hulle destyds toe ons nog 'n christenland was? Christenpolisie was ook in staat om verkeersreëls af te dwing. Christeningenieurs het ook goedkoper elektrisiteit opgewek en christenamptenare het getrou gesorg vir vullisverwydering en watervoorsiening.

En al die vakansiedae is christenvakansiedae. As jy van 'n ander geloof is en jou ghoeroe of druïedpriester of wat ookal wil hê jy moet 'n sekere dag afsonder vir jou geloof dan sit jy verlof in of jy four cough (verskoon die Engels) na 'n ghoeroe- of druïedeland toe of so-iets. Slegs kerke met orrels in en loodglasvensters en ordentlike houtpreekstoele word goedgekeur sodat daardie ambagsmanne vir 'n slag weer werk het.

Ja-nee dit sal weer lekker wees. Intussen, wat die slagting op paaie betref, sal dit help as die bestaande reëls net toegepas word soos Johannes Comestor sê.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top