Beste Angus
Soos jy sê (in jou kommentaar op my brief van 19/6), laat ons nie verder stry nie; ek wil net een en ander oor jou opsomming sê.
Jy het wel gesê Afrikaans moet aanpas om te oorleef maar jy het te kenne gegee dat die lukrake ingooi van Engelse woorde hierdie aanpassing verteenwoordig. Dit is natuurlik verkeerd. Herman Toerien sê in 'n paar woorde wat ek in boekdele probeer sê het naamlik dat ons "... maar konserwatief moet omgaan met die krakies in die damwal."
Raak gesê; die krakies is wel verandering maar verteenwoordig geensins groei nie, inteendeel ...
Jy is verkeerd waar jy sê Afrikaans kan nie verengels nie want die Afrikaans wat oor die algemeen deesdae gepraat word is reeds halfpad verengels, luister maar na die inbellers op die radio (en baie van die omroepers). Afrikaans met 'n klomp onnodige Engelse woorde en sintaks kan nooit 'n dialek van Afrikaans wees soos jy beweer nie (wat nog 'n nuwe taal word), dit bly gewoon geradbraakte Afrikaans.
Op 'n kol het jy laat blyk (nou nie in die kommentaar waarna ek in hierdie brief verwys nie) dat tale groei (aanpas) as gevolg van aanraking met ander tale. Dit mag wees maar dit is in 'n mindere mate; 'n taal sal verander en aanpas al is dit heeltemal geïsoleerd. Indien ek 'n fout maak, met ander woorde jy het nooit so-iets beweer nie, vra ek om verskoning.
Laastens, taal is 'n kommunikasiemiddel in der mate wat argitektuur beskerming teen die elemente is, kleredrag bedekking van skaamte is en motorkarre bloot daar is om jou van A na B te vervoer. Volke is trots op hulle eiesoortige argitektuur, mense neem mode ernstig op en die keuse van 'n motor is is 'n ernstige saak, so ernstig dat die meeste mense motors ry wat hulle nie eintlik kan bekostig nie. So is taal ook baie, baie meer as bloot 'n kommunikasiemiddel.
Groetnis
Jan Rap

