Antwoord op Angus se kommentaar onderaan my brief ‘Woordeboeksamestellers’

  • 2

Beste Angus

Baie dankie vir die interessante stukkie geskiedenis oor onder andere die Suid-Afrikaanse Akademie van Wetenskap en Kuns.  Dit het egter niks met die prys van eiers te doen nie; ek wou weet waar woordeboeksamestellers die mandaat kry om woorde op te neem in ’n woordeboek.  Dit is bekend dat, as ’n verkeerde woord dikwels gebruik word, dit uiteindelik in die woordeboek opgeneem word en dan voortaan as korrek beskou word.

Hierin lê ‘n teenstrydigheid – ‘n woordeboek word geraadpleeg wat betref korrekte taalgebruik maar verkeerde taalgebruik word uiteindelik reg as genoeg mense verkeerde taalgebruik beoefen. 

Dit is dus eintlik ’n retoriese vraag Angus.  Die antwoord daarop is dat daar geen antwoord is nie, of dat jy self ook wonder, of ’n uitleg van presies wat die kwantifisering is, byvoorbeeld k opgetekende gevalle in l koerante/tydskrifte deur m  outeurs oor n  jaar, of so iets.

Dieselfde geld wat betref die fietsryers wat eksklusief met sekere tye openbare strate en paaie gebruik.  Wie besluit, die burgemeester, die hoof verkeersbeampte, wie? En op grond waarvan?

Ek is nie ‘gaande’, soos jy beweer oor die woord ‘braaf’ nie; dit was net ’n voorbeeld van verkeerde gebruik.  Daar is nog baie; ‘sondebok’ (ipv ‘belhamel’), ‘vir dit’ (ipv ‘daarvoor’), ‘doen’ soos die Engelse ‘do’, ‘wat maak jy van dit’ (gereeld op RSG) ipv ‘wat sê jy daarvan’,  ‘jy en jou’ ipv ‘u’ (verval van die hoflikheidsvorm, volop op RSG), ‘kliënt’ ipv ‘klant’ (volop op RSG) ens ens.

Wat betref die woord ‘huidiglik’; ek het presies die vraag wat jy vra ook hier op SêNet gevra naamlik wat is nou eintlik verkeerd daarmee en Helmien Roux (slim meisie, hoekom hoor ons nie meer van haar hier op SêNet nie?) het verduidelik.  Ek is al baie op hierdie werf oor verkeerde gebruik oor die vingers getik (deur jou ook) waarvoor ek dankbaar is; mens is nooit te oud om te leer nie. Terloops, FC Boot gee onderaan jou kommentaar die rede hoekom ’huidiglik’ verkeerd is.

Wat jy sê oor ‘ons’ in die onderwerpposisie is oorbodig; ek het jou mos laas gewys dis niks vreemds nie veral as jy kyk na Engels wat ‘you’ gebruik waar die Duitsers en selfs ons verskillende woorde voor het. In Engels kan jy dan slegs uit die konteks sien watter naamval of vorm ‘you’ nou eintlik is en dit pla hulle (of jou) nie so ek weet wat kweel jy so gedurig oor ‘ons’ nie.

Terloops, woordeboeke, net soos grammatika, IS voorskriftelik. As jy anders spel as wat die woordeboek sê, of anders praat as wat die grammatikaboek sê, is dit gewoon verkeerd.

So, laat ek voor begin:  Dit is ’n teenstrydigheid dat woordeboeke, wat korrekte betekenis en spelling voorskryf, verkeerde spelling en betekenis kan opneem en sodoende verkeerde gebruik as korrek verklaar.

Groetnis

Jan Rap

 

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Ek kan sommer sien jy verstaan nie ʼn woord wat ek skryf nie. Daar is ʼn verskil tussen Woordelys en spelreëls en ʼn verklarende woordeboek. Dit verskil ook van ʼn vertalende woordeboek.
    Dit staan enigeen vry om ʼn woordeboek te skryf; elke Jan Rap en sy maat kan dit doen. Dit kos egter ʼn hoop geld om dit gepubliseer te kry, en as Jan Rap en sy maat nie behoorlike navorsing gedoen het nie, kan ek jou verseker, hulle het ʼn hele spul geld in die water gegooi, want dit sal nie verkoop nie.
    Ek verstaan nie wat jy met ‘verkeerde woord’ bedoel nie. ʼn Woord kan slegs verkeerd wees as dit binne sinsverband sintakties en/of semanties verkeerd gebruik word. Aangesien ʼn verklarende woordeboek slegs woordverklarend is, kan geen woord in ʼn woordeboek verkeerd wees nie. Die samestellers mag dalk ʼn fout begaan deur ʼn woord wat nie deur die sprekers van daardie taal gebruik word nie, op te neem. Hulle mag dalk ook ʼn woord verkeerd verduidelik, maar sal gou hulle fout agterkom.
    Jy braak egter gal oor die verkeerde woorde wat in woordeboeke opgeneem word. Ek wil graag weet wat jy daarmee bedoel; dus moet jy vir my sê wat jy onder die term verkeerde woord verstaan. Verder moet jy asseblief in woordeboeke naslaan en die verkeerde woorde opteken. Vergeet vir eers die wiskunde, fietsryers en burgemeesters.
    Jy sê jy is gaande oor die verkeerde gebruik van ‘sondebok’, ‘vir dit’, ‘u’ ens. Laat my weet in watter woordeboek kom dit voor.
    Wat ek verduidelik het ivm ‘ons’ is nie oorbodig, soos jy beweer nie. Dit is ʼn afwyking van die Germaanse taaltradisie en het destyds ʼn groot herrie laat losbars. Feit van die saak is, dit is nou korrekte Afrikaans om ‘ons’ in die onderwerpsposisie te gebruik, en grammatici moet dit so beskryf in hulle grammatikas, want grammatika is ʼn beskrywing van ʼn taal se struktuur.
    FC Boot gee geen verklaring waarom ‘huidiglik’ nie in Afrikaans ʼn bestaansreg het nie. Ek wil by jou weet wat jy teen die woord het?
    So, laat ek ook voor begin. Teken asseblief verkeerde spelling en woorde in woordeboeke aan, en laat my ook weet in watter woordeboeke jy dit gekry het.
    Groete,
    Angus

  • Beste Jan,
    Die enigste rede waarom 'n woord in die woordeboek beland, is gebruik. Samestellers van woordeboeke het dit nog deur al die eeue heen toegepas. Hulle sit elke dag ure lank en lees koerante, tydskrifte, ens, om nuwe woorde op te spoor vir die volgende hersiene druk van hulle woordeboek. 'n Taal se woordeskat groei daagliks, want hy moet hom aanpas by omstandighede, anders sterf hy uit. Woorde verander ook van betekenis na gelang van hoe dit deur die sprekers gebruik word. Engelse woorde wat dikwels in Afrikaanse konteks gebruik word, moet deur die samestellers van die woordeboek in ag geneem word.
    Samestellers van 'n woordeboek neem die spelreëls in ag wat deur die Taalkommissie saamgestel is. Hulle het die mandaat om dit die spelreëls vir Afrikaans te maak, want hulle doen dit in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. As jy enige klagte het oor die spelreëls, moet jy hulle laat weet; hulle sal dit verwelkom. Vergeet darem liewer jou eenbetekeniseenwoordreël. Dit sal nooit werk nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top