Antie Bella

  • 1

Antie Bella

Ek wonder in hoeveel permutasies
met ’n soppy kinkel iewers op die end
kan storieverse nog verstrik –
bonsai-prosa spot ’n vriend

Hieronder staan so een

Antie Bella ratel al jare in die kombuis    
klinkende metale en luidende simbale
haar skottelgoedorkes
die borde en glase spat
in skerwe  op die vloer  
ek kom uit ’n gebroke huis
lag antie Bella, maar dis nie ’n grap
toe sy op die vetkol gly
o gotta help my ek lê vir dood
hulle dra haar na die ambulans
op ’n palankyn sonder ’n dak
en sy wuif met ’n slap pols
naels laasweek pers geverf

Sy’t geweet dit gaan gebeur
sy sien al jare in die volgende week
voorbodes by die klank van kitare
met die helm gebore is haar kruis
en dit is stil sonder antie Bella
voorprater en agterprater in ons straat
toe kom sy terug
met haar staalpen op ’n X-straal
en ’n hink in elke tree
oeuvre aansienlik verbreed
sy brei nuwe stories:
van bloed teen die mure
nagvuil op die lakens
en matrones wat blaf
en die Here hoor vir my, knor en byt
na jy vyf mense sien doodgaan
dan is jou jammerte opgebruik 
en bid jy vir jou eie lewe

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top