..............
Annie wie? Dit was die vraag op menige se lippe toe dié 82-jarige Franse skrywer op 6 Oktober 2022 aangekondig word as die wenner van die mees gesogte literêre prys ter wêreld.
..............
Annie wie? Dit was die vraag op menige se lippe toe dié 82-jarige Franse skrywer op 6 Oktober 2022 aangekondig word as die wenner van die mees gesogte literêre prys ter wêreld. Ernaux, die eerste Franse vrou om die Nobelprys vir letterkunde te ontvang, is goed bekend in haar eie land. Sedert die publikasie van haar monumentale Les Années (2008) /The Years (2017) geniet sy ook internasionale erkenning, maar om verstaanbare redes (soos die beskikbaarheid van vertalings), nie juis in Suid-Afrika nie.
Op die vraag oor wie sy nou eintlik is, kan ’n mens antwoord met die oënskynlik-alledaagse biografiese inligting: Annie Ernaux is in 1940 gebore in Lillebonne in Normandië en getoë in die nabygeleë Yvetot. Haar ouers, beide uit ’n werkersklasomgewing, maak hier ’n lewe deur ’n klein kafee-cum-kruidenierswinkel te bedryf. Tog is hierdie gegewens allesbepalend vir die skep van ’n unieke oeuvre: die tydsgewrig tussen 1940 en die hede, wat sy as dogtertjie, tiener, vrou en bejaarde belewe; die klas waarin sy gebore word en die pynlike bewuswording van sosiale ongelykheid omdat haar opleiding aan haar ’n hoër sosiale status gee as dié van haar ouers; dit alles vorm die kern van ’n nuwe rigting, naamlik dié van outo-sosio-biografie, ’n term geskep deur Ernaux self,[1] binne die breër genre van outobiografiese tekste.
Ernaux gee graag erkenning aan skrywers en denkers wat haar eie skryfstyl beïnvloed het.[2] Sy verwys onder andere na Georges Perec en Simone de Beauvoir. Perec se roman, Les Choses (1965) / Things: A Story of the Sixties (1967) bied ’n noukeurige inventaris van die besittings van ’n paartjie in die jare sestig as ’n wyse om ’n sosiologiese beeld van die verbruikerskultuur van daardie jare te skep. Hierdie skryfstyl vind sterk neerslag by Ernaux. Sy vermeld ook Simone de Beauvoir se Le Deuxième Sexe (1949) / The Second Sex (1953) as ’n werk wat sy as bevrydend ervaar het. Die lees daarvan het nie alleen die pad vir haar oopgemaak om beheer oor haar eie lewe as vrou te neem nie, maar ook die siening by haar tuisgebring dat kuns nie “’n doel op sigself is nie [...] maar ’n vorm van betrokkenheid [...]”[3] gerig daarop om die wêreld te verander. In Ernaux, ’n feminis in eie reg, se werke is die ervarings wat die lewe van vroue kenmerk, ’n belangrike fokuspunt.
Ernaux se sosiale betrokkenheid vind sy wortels in die werk van die filosoof Pierre Bourdieu. Michael Sheringham som hierdie invloed as volg op: “Ernaux found illumination in Pierre Bourdieu’s work on class distinction, the self-perpetuation of elites, and the enduring divisions between ‘dominants’ and ‘dominés’” (2012:2). Hierdie insig laat Ernaux Sartre se eksistensialisme kwalifiseer: sy vind aansluiting by die gedagte van immanensie, dat die mens die vryheid het om sy eie essensie te skep, maar bly daarenteen diep bewus van hoe geslag en sosiale klas onlosmaaklik ’n lewe kan bepaal en beperk. Vandaar ook haar reaksie op haar Nobelprys-toekenning dat dit ’n groot eer is maar ook ’n groot verantwoordelikheid: deur aan te hou skryf, sal Ernaux bly veg vir geregtigheid en teen onderdrukking.
.............
Vanuit ’n literêre oogpunt is Ernaux se belangrikste bydrae die nuwe rigting wat sy aan die genre van outobiografie en lewensjoernale gee.
................
Vanuit ’n literêre oogpunt is Ernaux se belangrikste bydrae die nuwe rigting wat sy aan die genre van outobiografie en lewensjoernale gee. Om hierdie vernuwing te kan verduidelik, is dit nodig om te verwys na Jean-Jacques Rousseau se Les Confessions (1782), wat as die eerste moderne outobiografie in Frans beskou word. In die sentrum van hierdie teks staan die unieke individu, sy binne-wêreld, sy geskiedenis, sy soeke na selfkennis en sin. Daarenteen is Ernaux se beste geskrifte middelpuntvliedend: sy streef na die skep van ’n “transpersoonlike ‘ek’”,[4] weliswaar steeds die sentrale bewussyn waardeur die noukeurige biografiese en sosiale waarnemings van haar tekste vloei, maar die klem is nou elders, in die besonder op die sosiale konteks waardeur die individu as een onlosmaaklike onderdeel van ’n groter kollektiwiteit leef, bepaal en gevorm word.
’n Kort oorsig oor Ernaux se belangrikste werke[5] maak hierdie wending duidelik. Sy debuteer met drie outobiografiese romans wat vroulike ervarings verwoord waarvan sommige pynlik intiem is. In Les Armoires vides (1974) / Cleaned out (1990) wroeg die hoofkarakter oor ’n onwettige agterstraat-aborsie, terwyl Ce qu’ils disent ou rien (1977) / Do what they say or else (2022a) ’n ontleding is van die eerste seksuele ervaring van ’n 15-jarige meisie. La femme gelée (1981) / A Frozen Woman (1997) gaan oor ’n huwelikskrisis en die verwerping van die tradisionele rol van die vrou. Die publikasie van La Place (1983) / A Man’s Place (1992) dui ’n belangrike wending in die oeuvre van Annie Ernaux aan: sy besluit om weg te beweeg van fiksie en openlik die outobiografiese pakt (sien Lejeune 1975) met haar leser te sluit: die karakter Annie in haar daaropvolgende geskrifte en die outeur Annie Ernaux is een en dieselfde persoon.
Ernaux skryf La Place ná haar pa se dood. Ná sy begrafnis is die skrywer weer eens intens bewus van die verwydering wat daar tussen haar en hom gekom het sedert haar adolessensie, “’n klasseverskil” skryf sy (1983:23). In ’n poging om hierdie distansiëring, wat sy as ’n soort verraad van haar kant beleef het, onder woorde te bring, besef sy ’n roman is “onmoontlik” (1983:24). Sy neem haar voor om eerder ’n noukeurige biografie te skryf oor haar pa en ’n repertorium te maak van haar waarnemings van hom: sy woorde, gebare, voorkeure, die feite wat sy lewe bepaal het, “al die objektiewe tekens van ’n bestaan wat ek gedeel het”[6] (24). Ernaux word nou die getroue getuie, vir wie geen detail, hoe banaal of selfs kras ook al, nie verdien om opgeteken te word nie. Sy word nie net gedryf deur ’n skuldgevoel nie; sy is ook in verset teen die klassebewustheid in die samelewing wat haar op ’n stadium skaam laat voel het vir haar ouers. Soos sy dit self stel, laat haar studies haar “stilletjies na ’n klein-burgerlike bestaan immigreer” (1983:79). Wanneer sy later ook met ’n bourgeois man trou, is die verwydering voltrek: sy word ’n “transfuge de classe” (’n term wat Ernaux dikwels in onderhoude gebruik), oftewel ’n oorloper na ’n klas waarvan sy geensins die waardes deel nie. Aan die einde van die teks merk sy met skrynende ironie op dat haar pa se “grootste trots of miskien selfs die regverdiging van sy bestaan [is] dat ek aan ’n wêreld behoort wat hom geminag het” (1983:112).
La Place word in 1987 opgevolg deur Une femme (1987) / A Woman’s Story (1991a), ’n soortgelyke volume oor haar ma, ná dié se dood aan Alzheimer’s. Die generiese, universele titel is sprekend: dit gaan oor die lewe van ’n vrou, een voorbeeld tussen baie ander wat aan dieselfde sosiale klas behoort. Nogmaals is Ernaux as dogter die biograaf en argivaris van een van haar ouers se bestaan, uitgebeeld as ten diepste beïnvloed deur ’n bepaalde sosio-ekonomiese tydsgewrig. Alhoewel Ernaux nie in die sentrum van hierdie tekste staan nie, onthul die opgetekende ervarings wat sy met hulle gedeel het, ook haarself.
...........
Alhoewel Ernaux nie in die sentrum van hierdie tekste staan nie, onthul die opgetekende ervarings wat sy met hulle gedeel het, ook haarself.
............
Die gegewens word afgewissel met metadiskursiewe passasies waar die skrywer haar nadenke oor die skryfproses met die leser deel: “Wat ek hoop om te skryf, is iets wat op die kruispunt lê van ’n familie-geskiedenis en ’n sosiale geskiedenis, van mite en geskiedenis. My projek is literêr van aard, gerig daarop om ’n waarheid oor my ma te vind wat slegs deur woorde bereik kan word [...]. Maar ek hoop om op ’n manier op ’n vlak onder dié van letterkunde te werk te gaan” (1987:23).
Wanneer Ernaux oor haar ouers skryf, kies sy ’n styl gestroop van enige mooiskrywery, “plat” volgens haar, ’n styl wat hulle lewens getrou probeer weergee as ontdaan van enige luukse. Die meestal kort sinne konstateer in plaas van redeneer. Dit is dieselfde taal waarin sy vir hulle moes skryf toe sy as student in die koshuis was, om seker te maak dat hulle haar briewe verstaan. Ernaux is intens bewus daarvan dat die styl waarin sy skryf so getrou moontlik aan die waarheid moet wees wat sy probeer oproep. Gevolglik noem studies oor haar werk dat sy sosiologiese beginsels toepas in die letterkunde. Journal du dehors (1993a) / Exteriors (1996) toon ’n verdere ontwikkeling in hierdie styl wanneer onpersoonlike waarnemings oor ander lewens, meestal dié van gemarginaliseerde mense in die samelewing wat Ernaux se pad kruis, in kort fragmente neergepen word.
...............
Hierdie stylontwikkeling, tesame met ’n skuif weg van fiksie, maar tog onteenseglik steeds outobiografies, word tot ’n hoogtepunt gevoer in Les Années / The Years. Die verteller gebruik nooit die persoonlike voornaamwoord ek nie, hoogstens mens, ons of sy, wat die leser later dan aflei Ernaux self is. Haar eie lewe is slegs ’n vertrekpunt vanwaar daar lig gewerp word op die gebeure van al hierdie dekades.
..............
Hierdie stylontwikkeling, tesame met ’n skuif weg van fiksie, maar tog onteenseglik steeds outobiografies, word tot ’n hoogtepunt gevoer in Les Années / The Years. Die verteller gebruik nooit die persoonlike voornaamwoord ek nie, hoogstens mens, ons of sy, wat die leser later dan aflei Ernaux self is. Haar eie lewe is slegs ’n vertrekpunt vanwaar daar lig gewerp word op die gebeure van al hierdie dekades. Haar uitgewer Gallimard kondig die koms van ’n “nuwe vorm van outobiografie aan, onpersoonlik en kollektief”.[7] Herinneringe aan gesprekke rondom die tafel met familiebyeenkomste en die beskrywing van foto’s, wat die leser nie kan sien nie, vorm steunpunte in die verloop van die teks. Hoe onpersoonlik ook al, dui die seleksie van feite op die outeur en verteller se politieke betrokkenheid by linkse denke in Frankryk, haar anti-establishment-ingesteldheid en haar stryd vir vroueregte. Met hierdie werk neem Ernaux haar posisie in as etnograaf van die Franse samelewing van haar tyd waarvan sy ’n integrale deel is.
’n Veel korter soortgelyke sosiologiese eksperiment word in 2014 gepubliseer, gebaseer op ’n dagboek wat Ernaux hou van haar besoeke aan ’n supermark tussen November 2012 en Oktober 2013, onder die titel Regarde les lumières mon amour (2014), wat losweg in Afrikaans vertaal sou kon word as Kyk na die liggies, my liefie. Hierdie joernaal bied waarnemings oor die verbruikersamelewing, onder wie Ernaux, se inkopiegewoontes wat ook hulle klas en inkomste weerspieël.
’n Ander sy van Ernaux se werk, merk Michael Sheringham op, is die verband tussen outobiografiese skrywe, selfonthulling en die doelbewuste neem van ’n risiko om sosiaal gebrandmerk te word (2012), soos haar voorloper Jean-Jacques Rousseau van die 18de eeu. Voorbeelde hiervan is haar memoires oor haar eie onwettige aborsie opgeteken in L’Événement (2000) / Happening (2001) en tevore gefiksionaliseer in Les Armoires vides, oor ’n buite-egtelike verhouding met ’n getroude Russiese diplomaat (Passion simple 1991b / Simple passion 1993b), en oor ’n verhouding tussen haar en ’n man, 30 jaar jonger as sy self (Le jeune homme 2022b). Soos Simone de Beauvoir stel Annie Ernaux duidelik nie belang in die etiket van “’n ordentlike vrou” nie. Haar styl bly direk, onsentimenteel en amper klinies.
Die Sweedse Akademie se motivering vir die toekenning van die Nobelprys aan Annie Ernaux lui as volg: “Her work is uncompromising and written in plain language, scraped clean. And when she with great courage and clinical acuity reveals the agony of the experience of class, describing shame, humiliation, jealousy or inability to see who you are, she has achieved something admirable and enduring”. ’n Juiste evaluering inderdaad.
Bibliografie
Annie Ernaux. https://www.annie-ernaux.org/ (21 Oktober 2022 geraadpleeg).
De Beauvoir, S. 1949. Le deuxième sexe. Parys: Gallimard.
─. 1953. The Second Sex. Vertaal deur H.M. Parshley. Londen: Jonathan Cape.
Ernaux, A. 1974. Les armoires vides. Parys: Gallimard.
─. 1977. Ce qu’ils disent ou rien. Parys: Gallimard.
─. 1981. La Femme gelée. Parys: Gallimard.
─. 1983. La Place. Parys: Gallimard.
─. 1987. Une femme. Parys: Gallimard.
─. 1990. Cleaned out. Vertaal deur C. Sanders. Funks Grove, Illinois: Dalkey Archive Press.
─. 1991a. A Woman’s Story. Vertaal deur T. Leslie. New York: Seven Stories Press.
─. 1991b. Passion Simple. Parys: Gallimard.
─. 1992. A Man’s Place. Vertaal deur T. Leslie. New York: Seven Stories Press.
─. 1993a. Journal du dehors. Parys: Gallimard.
─. 1993b. Simple Passion. Vertaal deur T. Leslie. New York: Seven Stories Press.
─. 1996. Exteriors. Vertaal deur T. Leslie. New York: Seven Stories Press.
─. 2000. L’Événement. Parys: Gallimard.
─. 2001. Happening. Vertaal deur T. Leslie. New York: Seven Stories Press.
─. 2003. L’Écriture comme un couteau. Entertiens avec Frédéric-Yves Jeannet. Parys: Stock.
─. 2008. Les Années. Parys: Gallimard.
─. 2014. Regarde les lumières mon amour. Parys: Seuil.
─. 2017. The Years. New York: Seven stories Press.
─. 2022a. Do what they say or else. Vertaal deur C. Beach en C. Noland. Lincoln, Nebraska: University of Nebraska Press.
─. 2022b. Le jeune homme. Parys: Gallimard.
Lejeune, P. 1975. Le Pacte autobiographique. Parys: Seuil.
Perec, Georges. 1965. Les Choses. Parys: Julliard.
─. 1967. Things: A Story of the Sixties. Vertaal deur H.R. Lane. New York: The Grove Press.
Rousseau, J. 1952 [1782]. Les Confessions. Parys: Garnier.
Sheringham, M. 2012. Annie Ernaux, homing in on herself. Times Literary Supplement. http://www.thetls.co.uk/tls/public/article1143694.ece (21 Oktober geraadpleeg).
Voetnote:
[1] Sien Ernaux, A. 2003. L’Écriture comme un couteau: entretien avec Frédéric-Yves Jeannet, bl 21.
[2] Sien die webblad https://www.annie-ernaux.org/ wat deur die Universiteit van St Andrews met steun van die skryfster geskep is. Klik op die afdeling “Texts” en dan op “The art of writing”.
[3] Sien die afdeling “Texts” en die artikel “The ‘running thread’ connecting me to Simone de Beauvoir” op die webblad https://www.annie-ernaux.org/.
[4] Sien die afdeling “Texts” en die artikel: “Towards A transpersonal ‘I’”.
[5] Vir ’n volledige lys van haar publikasies, sien https://www.annie-ernaux.org/.
[6] Alle Afrikaanse vertalings in die teks is myne.
[7] https://www.gallimard.fr/Catalogue/GALLIMARD/Ecoutez-lire/Les-annees#
- Elisabeth Snyman is ’n afgetrede professor in Frans en onafhanklike navorser.
Kommentaar
Baie dankie hiervoor.
Baie dankie vir hierdie insiggewende plasing en die lig wat op 'n besonderse outeur gewerp word.