Annelie Ferreira het guts

  • 0

Titel: Dit vat guts
Skrywer: Annelie Ferreira
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798157018

 

Koop Dit vat guts by Kalahari.com.

Jy’s ’n meisiekind, ’n tienermeisiekind wat wens jou boobs wil groei. Die een ou van wie jy hou, is gay, of altans dis wat sy sussie sê. Die ander ou is nogal sexy, maar hy is baie slim en neem aan debatte deel.

Jou tienersussie, Isabel, is erg besig met haar kerk waar hulle hande oplê en siek mense gesond bid.

Jy het boonop ‘n snotneus-kleinsus wat nog nie eens op skool is nie.

Dan kyk jy ’n fliek oor perde, maak jou groot bek oop en sê dit sal cool wees om ook te ry, en, flippen heck, voor jy jou oë uitvee het jou vriendin, Annika, alles gereël en jy staan langs hierdie moewiese perd, soos in, die ding is gróót, oukei?

Ja-nee, die lewe is nie maklik as jou naam Mia is nie.

Gelukkig het jy ’n pa wat kameras bou wat in satelliete gebruik word. Dit lyk of jou pa en ma nogal lief is vir mekaar. Jou pa het nogal ’n goeie sin vir humor en hy daag jou uit, soos toe hy jou vertel dat sy gunstelingslape saam met jou ma was, al het dit beteken dat hulle nie té veel geslaap het nie. Oukei, gross, dis nou nie jou probleem nie. Ook nie jou pa se hoofpyne, wat hy PMS noem, nie.

Dan kom jy en jou sus van die skool af en die hele flippen huis ruik na Panarotti’s Pizza – salamipizza om presies te wees. Selfs Rakker, julle hond, kan nie ophou kwyl nie.

Oukei – dís freaky, want kyk, julle is nou nie arm nie, maar jou pa het sy eie besigheid begin en julle eet nie elke dag pizza nie. En hoekom is Pa én Ma by die huis?

Wel.

Die lewe is op pad om moeiliker te word. Jou pa het breinkanker, sê hy. Dis nie PMS nie.

Stop die musiek. Stop die bus. Sit neer die pizza. Hallo toiletbak.

Hoe nou? Jou sussie se pastoor wil kom bid. Jou pa sê nee. Jou ma wil die beste chirurg kry om die ding uit te sny. En Harry, die perd, word nie kleiner nie.

Tussen dit alles deur moet jy nog die blerrie debatskompetisie ook inpas, want Thomas raak nie minder sexy nie.

Tienerromans met skop

Ek het in 2013 drie tienerromans gelees waarin die dood ’n baie belangrike rol speel.

Jaco Jacobs se boek met die sonderlinge titel Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word handel oor ’n seun wat terminaal siek is met kanker. Vir oulaas doen hy ’n wow ding saam met sy buurseun, met die bynaam Hoender. Hulle maak ’n zombiefliek. Natuurlik is daar ’n paar mooi meisies ook betrokke. (My opsomming van Jacobs se boek is effens vlak, maar ek is doodbang om die storie te verklap.) Jacobs kry dit reg om ’n speurverhaal te maak wat ook diep, moeilike en donker goed aanspreek.

Lesers, ook in die klaskamer, kan gerus Dit vat guts en Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word naas mekaar lees en notas vergelyk.

Interessant genoeg doen beide Mia en Hoender wiskunde wanneer dinge vir hulle te veel word, maar struktureel is die tekste baie anders.

Die derde 2013-tienerroman wat die dood betrek, is Sally-Ann Partridge se briljante Sharp edges.

Van die drie is Partridge se Sharp edges struktureel die mees komplekse, met ’n aantal verskillende vertellers. Jaco Jacobs is ’n tradisionele whodunnit. Annelie Ferreira kies om te gaan delf in die psige en in die godsdiensbeskouing van jongmense.

Al drie hierdie tekste is uitstekend en word sonder skroom aanbeveel.

Ferreira delf diep

As die naam Annelie Ferreira op ’n boek staan, gaan dit die leser laat dink.

Aanvanklik skryf sy niefiksie. Daar’s ’n mens binne verskyn in 1995 by Queillerie en die daaropvolgende jaar Die dag toe ons god gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin. Oor laasgenoemde werk skryf Sakkie Spangenberg (2011):

Annelie se boek het my laat regop sit. Hier was 'n vrou met geen teologiese opleiding nie aan die woord. Sy het egter die spanning wat baie lidmate tussen die kerklike leerstellings en hul algemene kennis ervaar, duidelik verwoord.

In 1998 verskyn Ferreira se eerste roman, Hoekom honde nie kan sing nie. Dit vertel die verhaal van ’n huisvrou, Marna, wat nogal sukkel om sin te vind in haar doen en late tussen die kinders deur – totdat sy begin uitreik.

Daarop volg Eenmaal iets dappers (2000), wat haar persoonlike soeke na ’n dieper spiritualiteit verwoord.

In 2005 publiseer sy Eva Ontmoet Einstein, ’n interessante reis van die oerknal af tot by Einstein se wetenskap.

In 2012 verskyn Ferreira se bekroonde jeugverhaal Tot siens, koning Arthur. Dit handel oor Sylvia wat met onwettige middels betrap word, uit die skool geskors word en dan deur die hof tot gemeenskapdiens gevonnis word.

In 2013 verskyn drie boeke uit Ferreira se pen: ’n geïllustreerde kinderboek, 'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie, die enigmatiese roman Maar Tintin in Tibet, en dan Dit vat guts. (Lesers kan gerus kyk na my resensie van Maar Tintin in Tibet.)

Op ’n manier is daar raakpunte tussen al Annelie Ferreira se boeke. Telkens is daar ’n soeke na iets hoër, iets beter as dit wat oog kan sien.

Die dinge van ’n kind

Daar is nogal ooreenkomste tussen die titels Eenmaal iets dappers (2000) en Dit vat guts (2013), hoewel ek nie seker is dat dit noodwendig so bedoel is nie. Albei delf egter diep in die psige en albei ondersoek ’n wordingsproses wég van kindwees, nader aan ’n geestelike volwassenheid – wat laasgenoemde ook al mag beteken.

Eenmaal iets dappers was ’n uitdagende boek. As motto het Ferreira Paulus se woorde in 1 Korintiërs 13:11 gekies:

Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind. Maar noudat ek ’n man is, is ek klaar met die dinge van ’n kind.

Wat die vrome Paulus van Ferreira se boek te sê sou gehad het, is nogal iets waaroor ’n mens maar net kan wonder. Onder geen omstandighede skiet sy egter ander se godsdiens af nie, maar sy trek baie duidelik die eng siening van God, wat so deel is van ons kollektiewe, evangeliese psige, in twyfel.

Sien byvoorbeeld Ferreira se oorvertel van die briljante Lars Von Trier-film Breaking the waves (1996). In die film trou die kinderlike Bess (Emily Watson), wat in ’n bitter konserwatiewe gemeenskap grootword, met Jann (Stellan Skarsgård), ’n buitestander wat op ’n olieboor werk. Bess verlang vreeslik en smeek God om Jann terug te stuur – wat dan wel gebeur wanneer Jann in ’n ongeluk verlam word. Bess dra natuurlik nou bittere skuld, want God het haar gebede waar gemaak, dan nie? Wanneer Jann, nou ook met ’n effense hoofbesering, haar dwing om met ander seks te hê, doen sy dit – omdat sy skuldig voel.

Nee, Dit vat guts is nié so donker nie, maar dit spreek ook die kwessie van gebed aan. Isabel, Mia se sussie, is erg kerklik en behoort aan ’n evangeliese, charismatiese gemeenskap waar die pastoor alles reg bid. Isabel en Mia se ouers is egter nie gelowig nie en haar pa weier om deur die pastoor onder hande geneem te word. Isabel is egter seker haar eie geloof is sterk genoeg om die kanker te oorkom.

Ek wil nie die storie verklap nie, maar Isabel se gebede word nie waar soos sy beplan het nie, en daarmee verval sy in ’n geloofskrisis. Anders as Bess, dink sy aanvanklik dat sy óf nie hard genoeg probeer het nie, óf dat dit moontlik is dat haar geloof nutteloos is.

Ferreira verkleineer nié die kerk, of gebed, in haar boek nie. Let byvoorbeeld op hoeveel die dominee, Gerrit, vir Mia beteken. Let ook op hoe versigtig Gerrit is om nie sy eie idees op Mia af te dwing nie.

In Dit vat guts soek Mia die hele tyd na die “transendente”. Sy begin dit verstaan – so op ’n manier – ná ’n ervaring op Harry, die enorme perd, se rug. Van belang is egter dat die insig in die transendente nie ’n eureka-oomblik is nie. Haar insig neem ook nie haar probleme weg nie, maar dit gee haar wel die vermoë om onder moeilike omstandighede diep in haarself te delf en “guts” te hê. In hierdie opsig is Dit vat guts baie anders as Maar Tintin in Tibet, waar daar ’n wesenlike Damaskuservaring teenwoordig is.

Teilhard de Chardin

Dit vat guts se motto kom van Teilhard de Chardin. Dit lui:

Some day, after mastering the winds, the waves, the tides and gravity, we shall harness for God the energies of love and then, for the second time in the history of the world, man will discover fire.

Nota bene: “We shall harness for God ...” Dit is ’n aktiewe soeke na diens aan God.

Pierre Teilhard de Chardin was ’n besonderse mens. John Grim en Mary Evelyn Tucker se bondige internetbiografie is te lees op die webruimte van die vereniging wat sy naam dra: http://teilharddechardin.org/index.php/biography. (Daar is ook ’n redelike Engelse Wikipedia-inskrywing oor hom, maar soos alles in die Wiki moet ’n mens maar baie huiwerig wees en alles eers verifieer.)

De Chardin was ’n wetenskaplike en ook ’n godsdienstige mens. Hy het dit gewaag om die Kerk, en veral die Roomse Kerk, uit te daag, maar hy was ook ’n Jesuïetpriester. Vir hom was dit nie nodig om wetenskap en godsdiens te skei nie.

Ek het hierdie resensie genoem “Annelie Ferreira het guts”. Deels is dit natuurlik ’n woordspeling op die titel van die boek, maar dan sien ek ook telkens in haar werk hoe sy die bestaande orde uitdaag – sonder om dit belaglik te wil maak, presies soos dit die geval was met Teilhard de Chardin.

De Chardin het taamlik moeilikheid gekry van die Kerk. Lesers kan gerus die briljante Michael Anderson-film The shoes of the fisherman (1968) kyk. Nie net is die fiktiewe pous profeties nogal verblydend baie soos die huidige pous Franciskus nie, maar daar is ook ’n karakter in die film, vader Telemont, wat sterk geskoei is op die karakter van De Chardin.

’n Paar dekades gelede sou Ferreira ook in die sop gewees het by die kerkvaders, en ’n paar eeue gelede sou ’n brandstapel waarskynlik haar einde gewees het. Gelukkig is die samelewing vandag meer verdraagsaam, want Ferreira se vrae, van haar eerste werk af, is belangrik.

Die feit dat sy ’n tuiste in fiksie gekry het, is verblydend, want teologie en verwante werk verkoop nie baie goed in Suid-Afrika nie. In haar fiksie “preek” Ferreira nie, maar sy vra steeds vrae, al vertel sy lekker stories.

Dit vat guts word beslis aanbeveel.

Bronnelys

Anderson, Michael. 1968. The shoes of the fisherman. Metro-Goldwyn-Mayer.

De Vries, Izak. 2013. Maar Tinten in Tibet. 27 Desember 2013. http://blogs.litnet.co.za/izak/2013/12/27/maar-tintin-in-tibet-2.

Grim, John en Mary Evelyn Tucker. Gd. Biography. The American Teilhard Association: http://teilharddechardin.org/index.php/biography (26 Januarie 2014 geraadpleeg).

Ferreira, Annelie. 1995. Daar's 'n mens binne. Kaapstad: Queillerie.

—. 1996. Die dag toe ons god gevang het: 'n Persoonlike soektog na sin. Kaapstad: Queillerie.

—. 1998. Hoekom honde nie kan sing nie. Kaapstad: Queillerie.

—. 2000. Eenmaal iets anders. Hermanus: Pyramid.

—. 2005. Eva ontmoet Einstein. Pretoria: Protea.

—. 2012. Tot Siens, Koning Arthur. Kaapstad: Tafelberg

—. 2013a. Dit vat guts. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2013b. ’n Kameel, ’n sprinkaan en ’n vrot tamatie. Kaapstad: Human & Rousseau.

—. 2013c. Maar Tintin in Tibet. Kaapstad: Tafelberg.

Jacobs, Jaco. 2013. Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word. Lapa: Pretoria.

Partridge, S-A. 2013. Sharp edges. Kaapstad: Human & Rousseau.

Spangenberg, Sakkie. 2011. Wat kom in die plek van die staatsreligie van die Romeinse ryk, oftewel – kan ons ‘n nuwe singewende verhaal ontwikkel?. Sentrum vir Spiritualiteit. 1 Augustus 2011. http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-wat-kom-in-plek-van-staatsreligie-van-romeinse-ryk.php.

Von Trier, Lars. 1996. Breaking the waves. Argus Film Produktie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top