Angus en Jan oor Afrikaans: My stuiwer in die armbeurs

  • 1

Ek volg Angus en Jan se heen-en-weer-skrywery die afgelope tyd oor Afrikaans/Engels/Kaaps met belangstelling. Ten spyte van Angus se deurdagte en stawende argumente, tokkel Jan voort op sy een snaar: Afrikaans is so te sê in sy/haar maai agv die Afrikaners se slapgat houding, asook RSG en KykNET wat “... aktief besig is om Afrikaans te ondermyn ...” soos hy onlangs hier geskryf het.

Hiermee ’n paar opmerkings van my kant af: Angus gaan altyd by Jan verbypraat, want hy wil eintlik (doelbewus) nié hoor wat Angus sê nie. Die probleem is dat Angus histories en linguisties na die ontwikkeling van Afrikaans kyk sedert 1652 tot die hede, terwyl Jan uit ’n streng ideologiese en emosionele hoek daarna kyk.

Jan ly aan klassieke simptome van magsverlies. Gedurende die jare 1960 tot die laat 1980’s ongeveer, het Afrikaans as taal gedomineer in Suid-Afrika. Dit was die magstaal. Na ‘94 het die posisie van Afrikaans radikaal verander - uit 55 miljoen inwoners deesdae is daar so 7 miljoen wat Afrikaans as eerste taal het. Hiervan is minder as die helfte wit (of blank soos Jan graag sê). Dit spreek dus vanself dat toe Afrikaners die politieke mag verloor het, Afrikaans ook sy taal-magsposisie sou verloor.

As ek Jan se skrywes bekyk, sien ek die volgende: Jan verwag Afrikaans behoort nog steeds die dominante taal te wees. Lank terug het hy hier gekla oor die brosjures van die Krugerwildtuin wat nie Afrikaans as dominante taal het nie. Hy het verwag dat Afrikaans die dominante posisie op die brosjure moet inneem en daarnaas Engels en ander inheemse tale. Geen begrip daarvoor dat baie anderstalige besoekers die Kruger besoek nie.

Onlangs skryf Jan: “... Vandag is daar geen Afrikaanse universiteite nie … In die semi-staatsinstansies word kommunikasie in Afrikaans VERBIED …” Nou toe nou. Elke Afrikaanssprekende student aan Tukkies, Maties, Potch en wie ook al wat wil gradueer kan dit gedeeltelik (soms hoofsaaklik) in Afrikaans doen, geen beletsel nie. Buitendien kan die Afrikaanssprekende studente almal goed in Engels kommunikeer. Die wat nie kan nie, hoort nie op universiteit nie. Ek het reeds in die 1970’s byna al my navorsing uit Engelse bronne gedoen en niks daarvan oorgekom nie. Daarbenewens het ek en my vrou onlangs vir ons paspoorte by Binnelandse Sake aansoek gedoen en is in Afrikaans bedien, behalwe die papierwerk wat in Engels was. By die plaaslike owerhede in my omgewing word ek in Afrikaans bedien en by die supermarkte kom ek reg in Afrikaans. En as dit nie kan nie, dan praat ek Engels sonder om daaroor te kla, want dis al manier hoe ons hier as minderheid respek gaan verdien.

Jan Skryf verder: “… in die hof word Afrikaans nie meer gebruik nie en alle besigheidstransaksies, kontrakte ens is in Engels, selfs al is dit Afrikaanssprekendes …” Dis onwaar. Onlangs het ek die Hoërhof in Kaapstad besoek en regspleging aanskou in suiwer Afrikaans. Verder, ek bespreek en doen al my persoonlike finansies in Afrikaans. By die plaaslike owerhede in my omgewing word ek in Afrikaans bedien en by die supermarkte kom ek reg in Afrikaans. En as dit nie kan nie, dan praat ek Engels sonder om daaroor te kla, want dis al manier hoe ons hier as minderheid respek gaan verdien.

Onlangs maak Jan die volgende stelling: “… Gepaardgaande hiermee is KykNET en RSG aktief besig om Afrikaans te ondermyn.  As jy die radio aansit is die kans baie goed dat jy Engels hoor, een of ander minister of ’n ding met ellelange kommentaar oor een of ander onbenullige NSA-aangeleentheid …”Jan wys sy ware kleure hier. Hy is só geïrriteer met die nuwe Suid-Afrika dat hy ’n kabinetslid gelykstel aan ’n “ding” en “onbenullighede”. En nou word RSG en Afrikaans aan die hare bygesleep. Sy verwysing na KykNET wat Afrikaans aktief sou ondermyn is eenvoudig sonder enige substansie. Wat is die feite? Mnet het in 1985 begin uitsaai en in 1999 KykNET as Afrikaanse kanaal geloods wat nuus, aktualiteit en vermaak aanbied in Afrikaans, 24 uur per dag. Sedertdien is nog drie Afrikaanse kanale bygevoeg nl KykNetNou, KykNet&Kie en Via wat ook in Afrikaans uitsaai, 24 uur per dag. Hoe op dees aarde kan dit Afrikaans “aktief ondermyn”? Die dan en wan se Engelse gas op ’n program verbreed tog elke Afrikaanssprekende kyker se horison. As Jan Rap nie belangstel wat hierdie Engelsprekendes te sê het nie, ja well no fine vir hom. Die res van ons leef in 2017 en bly nie op ’n Afrikaanse eiland nie. Een voorbeeld: Onlangs was adv Madonsela, die vorige OB, ’n gas op Karin Zoid se program. Dit was heerlik om ’n kykie te kry in die lewe van die informele Thuli Madonsela wat tuis ook maar net ’n ma en huisvrou is. As Jan sy sin sou kry, sou ons niks van hierdie of soortgelyke geleenthede te sien en te hoor kry nie. Jan se stelling dat Engels deur KykNET “… in ons kele afgedruk …” word, getuig van een of ander wrewel wat waarskynlik niks met Afrikaans te doen het nie.

Jan verstaan blykbaar nie dat taal oor tyd verander nie. Hy blameer die omroeper op RSG dat hy/sy nie die “harmansdrup-idioom” ken nie. Twee dinge hieroor: Eerstens twyfel ek of een uit ’n honderd Afrikaanse matrieks hierdie uitdrukking nog ken, en tweedens, harmansdrup dateer uit die dae voor telefone en karre. Dit het eenvoudig gebruikswaarde, ook as idioom verloor. Hoekom ’n omroeper hieroor kasty?

Jan se idee van Standaardafrikaans (SA) is vir my onduidelik. Staan SA in ’n kampie met ander weergawes van Afrikaans daar buite? Is SA vir Jan gelykstaande aan die SAUK Afrikaans van die 1970’s? Dink Jan alle wit Afrikaanssprekendes het in 1970 hierdie weergawe van SA gepraat? In 1966 verhuis ons gesin uit die groot Karoo na ’n Noord-Bolandse dorp. My mond het oopgehang vir die “anderster” Afrikaans wat hiér gepraat is. Byvoorbeeld: Ons buurman soek sy vrou en vra my, “Boeta, het jy nie vi ant Annie gesien ie? Sy was v’êffe nog hie byrie hys.” Duidelik nié SAUK Afrikaans van destyds nie. Ek kan tientalle voorbeelde noem. Niemand het gedink dis “onstandaarde Afrikaans” nie. Vriende verhuis destyds uit die Boland Transvaal toe. Die kinders het ’n heerlike Bolandse bry (bggy). Daar aangekom word hul deur die skool vir spraakterapie verwys! My punt is dit: Afrikaans lê op ’n kontinuum en dis onmoontlik om weerskante bakens in te slaan en te sê dat alles daarbinne SA is en die res nie.

Jan beweer die “sepiespraat is kunsmatig en aangeplak”. Jan ken nie Kaaps nie. Punt. Ons hoor dit daagliks in die Kaap, net so.

Hoekom is “baing kirislam by die hys se kant” vir Jan mooi, maar “jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie”, is nie vir hom mooi nie? Alle Afrikaanssprekendes verstaan tog laasgenoemde, terwyl slegs Bo-Kaapse mense eersgenoemde verstaan?

Afrikaanssprekendes moet maar elke weergawe van die taal omarm. Jan se Standaardafrikaans op sy/haar eie gaan dit nie maak nie.

 

  • 1

Kommentaar

  • Beste Dirk,
    Dankie vir jou ondersteuning. Jy het my en Jan se gesprekke raak opgesom, en ek hou van jou gesonde taalbeskouing. Jan is baie pessimisties oor die voortbestaan van Afrikaans, en ek kan net nie insien hoe dit kan verdwyn nie. Vir hom beteken verandering natuurlik ook vernietiging.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top