Angus en FC Boot se historiese Jesus

  • 25

Angus maak in sy skrywe geen geheim daarvan dat hy dink dat Jesus bloot ’n mitiese figuur was en dus nooit regtig bestaan het nie. Soos enige wetenskaplike het ek geen probleem om te sê: “Ek weet nie of Jesus as geskiedkundige persoon wel bestaan het nie,” en daarom verlaat ek my maar op navorsing wat gedoen is deur bybelwetenskaplikes en geskiedkundiges. Volgens dié navorsers was daar waarskynlik ’n persoon soos Jesus maar hy was ’n Joodse profeet wat Jahweh aanbid het en gehoop het dat ’n Joodse teokrasie weer in Palestina tot stand sal kom. Wat wel soos ’n paal bo water staan is dat dié Jesus waarin so baie van ons SêNet-vriende onwrikbaar glo, beslis nie bestaan het nie.

Met groot erkenning aan Prof Sakkie Spangenberg gaan ek so bietjie steel uit sy artikel oor die Belhar Geloofsbelydenis wat op LitNet beskikbaar is om my standpunt te stel.

“Die meesterverhaal van die ortodokse Christelike godsdiens begin met die verhaal van ’n perfekte skepping wat in duie gestort het vanweë die ongehoorsaamheid van Adam en Eva; voorts dat elke mens wat daarna gebore is, “in sonde ontvang en gebore is”, onder God se toorn leef en daarom ook sterf. Die meesterverhaal hou dit verder voor dat ’n mens aan God se toorn kan ontkom en God se koninkryk kan beërf net indien jy glo dat Jesus namens jou aan die kruis gesterf het om jou met God die Vader te versoen.

Navorsing het aan die lig gebring dat Jesus nié hierdie verhaal verkondig het nié; dat sy “goeie nuus” nie ingehou het dat hy gestuur is om die sondeval en die gevolge daarvan om te keer nie (Spangenberg 2007, 2009, 2014). Sy “goeie nuus” hou verband met die koninkryk van God (Mark. 1:14–15). Hy was ’n Joodse profeet wat Jahweh aanbid het en gehoop het dat ’n Joodse teokrasie weer in Palestina tot stand sal kom, mits sy volksgenote leef soos Jahweh van hulle verwag het om te leef. Hy verkondig immers dat hy nie gekom het om die Tora ongedaan te maak nie. Hy het homself geroepe gevoel om aan hulle hierdie boodskap voor te hou en om die regeerders van sy dag aan te spreek omdat hulle nie regeer het soos Jahweh van hulle verwag het om te regeer nie. Hulle het die armes, wese en weduwees verdruk, die kleinboere uitermate belas en hulle van hul grond en leefmiddele beroof (Horsley 1993:70). Sy boodskap is deur die plaaslike regeerders, wat lojaal aan die Romeinse keiser was, as gevaarlik vertolk en hy sterf gevolglik die dood van ’n rebel aan ’n Romeinse kruis nadat hy gedurende ’n Paasfees sy boodskap simbolies (soos Jesaja en Jeremia) in die tempel voorgedra het (Horsley 2003:92–3).

Die Christelike meesterverhaal hou grootliks verband met Paulus se briewe, die evangelie van Johannes en die Hebreërbrief en hoe latere teoloë (veral die Latynse kerkvaders) dit vertolk het. Die herontdekking van die Joodse Jesus sedert die sewentigerjare van die vorige eeu (die sg. Third Quest van die historiese-Jesus-ondersoek), het verskeie Nuwe-Testamentici met nuwe oë na Jesus se handelinge en prediking laat kyk. Heelwat navorsers erken dat sy prediking nie om die herstel van die “gevalle skepping” gewentel het nie. Jesus se boodskap was aan sy tydgenote gerig en dit was deur en deur polities gekleur.

Die Christelike godsdiens soos ons dit in sy Westerse baadjie ken, bestaan eintlik eers sedert die 5de eeu. Die beslissende oomblik vir die Westerse Christendom lê in die 4de en 5de eeu toe dit die staatsgodsdiens van die Romeinse ryk geword het en die Joodse profeet Jesus van Nasaret deel van ’n goddelike drie-eenheid gemaak is. Die rol wat Augustinus (354–430) gespeel het om aan die nuwe staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk ’n stewige teologiese onderbou te voorsien, kan nie misken word nie. Die idee van ’n sondeval aan die begin van die skepping, en die daarmee verbandhoudende erfsonde (waarmee alle mense sedertdien gebore word en besmet is), is grootliks die skepping van Augustinus (Durand 1978:49; Lampe 1997:149–69; Freeman 2003:277–312). Teenoor Augustinus het Pelagius en Julian van Eklanum gestaan wat ’n ander en realistieser siening van mense, hul seksualiteit en sonde, voorgestaan het. Danksy die ingryping van nóg ’n keiser, naamlik keiser Honorius (395–423), het Augustinus se sienings egter getriomfeer (Lampe 1997:161–2; Freeman 2003:298–9).”

Die Jesus wat FC Boot en soveel ander hier op die Sê aanhang en vuriglik verdedig, is inderdaad ’n mitologiese figuur wat lank na die afsterwe van persoon wat waarskynlik 2000 jaar gelede in Palestina geleef het, uitgedink en staangemaak is.

Weereens my dank aan Sakkie Spangenberg, wie se skryfvermoëns ek nooit sal kan ewenaar nie.

Groetnis

Thomas

  • 25

Kommentaar

  • Daar is 'n menigte, van konings tot knegte, wat oortuig is dat hulle nie geskrifte soos hierdie kan en mag lees nie.

  • Beste Thomas
    Kom ons kyk gou wie het van van Jahweh gepraat en wie van Elohim. In God en die Gode van Egipte skryf Willie Esterhuyse die volgende in hoofstuk 13:
    “Die Joodse besetting van gedeeltes van Kanaän het in werklikheid twee fokuspunte gehad:
    Die Noordelike gebiede, waar die stamme van Israel gekonsentreerd was, en die suidelike gebiede waar die stamme van Juda in die omgewing van Jerusalem hul gevestig het. Terwyl die noordelike groepe, godsdienstig gesproke van die Goddelike as Elohim gepraat het, het die Suiderlinge die naam Jahwe verkies. Trouens, Noorde en Suide het eiesoortige verteltradisies gehad. So het Moses se storie groot byval gevind in die noorde, byvoorbeeld onder die priesters van Dan. In die suide was Abraham die groot geloofsikoon. Belangrike elemente van hierdie tradisies is later met mekaar geïntegreer in ’n meer omvattende storie. En toe die stamstelsel met die monargieë van Israel en Juda vervang is (+- 1000 vC), het die godsdienstige stories ’n skerper en meer samehangende fokus gekry totdat ons die Tora en uiteindelik die Bybel of ‘heilige Skrif’ gekry het.”
    Nou is dit duidelik dat Jesus is sy verkondiging van die Evangelie – blye Boodskap – die Koninkryk van God – verkondig hy beide na Abraham en Moses verwys. In Lukas 16 vers
    22 en 23 lees ons:
    22 “Toe die arm man te sterwe kom, is hy deur die engele weggedra na die ereplek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterwe en is begrawe.
    23 Toe hy in die doderyk in pyn verkeer, kyk hy op en sien vir Abraham daar in die verte en vir Lasarus langs hom en hy roep:
    24 ‘Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.’
    In ander skrifgedeeltes verwys Jesus na Moses. Jesus se prediking oorskry dus stamverband en dit is duidelik uit sy prediking dat hy as Verlosser gekom het vir die afstammelinge van al die 12 stamme en nie net die wat afstammelinge van Juda is nie en dat in sy prediking alle volke later geseën sal word en is.
    Baie godsdienstige leiers was nie ingenome met Jesus se prediking nie, want Hy het hul leerstellings weerlê en so gewild onder die gewone bevolking geword dat hul Hom begin vrees het, omdat Hy sy prediking met wonderwerke aangevul het.
    Hy het egter nie aan hul vereistes van ’n aardse Verlosser, een wat hul vyande se agterent sou skop voldoen nie, tot so ’n mate dat selfs twee van sy dissipels gekla het in Lukas 24.21 toe Jesus met hul saamstap as ’n onbekende vreemdeling:
    21. “Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het.”
    En die beste Angus is die probleem met alle onbekeerdes, hulle verwerp ’n opgestane Jesus, ’n Jesus wat volgens die Bybel die oorsprong, dus die Oorsaak is waardeur alles tot stand gekom het.
    Kom ek vertel jou van ’n wonderwerk wat ek met my eie oë aanskou het. Ek staan langs die sterfbed van ’n man neergevel deur ’n beroerte, stembande verlam, maar die biologiese wil nie sterf nie, dit wil opstaan tot so ’n mate dat verpleegster naderhand verplig is om hom ‘spread eagle’ aan die katelstyle vas te bind, wat hy in sy worstelstryd ombuig asof dit klei is.
    Dan gebeur daar ’n wonderwerk . Hierdie man wat nie meer oor die vermoë beskik nie om te sing, sing – onmoontlik sê ek vir myself, dis my verbeelding of êrens ’n radio wat speel. Ek staan nader en hoor hoe hy sing: “Nader my God –steeds nader by U.”
    En dan sterf hy en in sy sterwensuur word die donker kamer helder verlig. Glo my ek was daar – Christus leef en het hierdie man begelei deur die dal van doodskaduwee.
    Laat dit met jou goed gaan.

    • Hallo FC,
      Jy moet my asseblief help met die stelling van jou: sic. ” ’n Jesus wat volgens die Bybel die oorsprong, dus die Oorsaak is waardeur alles tot stand gekom het.” Verstaan ek dit reg dat jy bedoel dat Jesus die oorsaak is van die totale skepping ?
      Wat betref die ‘wonderwerk’ wat jy beleef het: Ek weet darem nie so mooi nie? Die storie is darem ’n bietjie dik vir ’n daalder! Jy kon jou mos dalk van die goed verbeel het — as dit nou nie was vir die fisiese bewys van die gebuigde katelstyl nie!
      Groete
      Panda

  • Die probleem met die Christen is dat hy dit wat in die Bybel staan, met dit wat in die Bybel staan as die waarheid wil bewys. FC sê self Jesus is, "volgens die Bybel", die oorsprong, die oorsaak van alles wat tot stand gekom het. Verder, Basta! die Bybel het gepraat en daarom is dit as waar bewys. Hy besef nie die Bybel is letterkundige fiksie nie, en dat Jesus 'n fiktiewe karakter is nie.

  • Beste Thomas,
    Dankie vir bogenoemde inligting. Daardie foto van jou en Panda gaan ek raam en hier in my studeerkamer ophang. Jammer julle skryf nie meer so gereeld nie.
    Groete,
    Angus

  • Presies, Duitswester. Alle getuienis oor Jesus is tog maar blote hoorsê en sou in enige hof summier afgeskiet word. Mens wonder hoekom Jesus nie maar self ietsie geskryf het nie. Waarskynlik was hy ongeletterd.

  • FC die Godsdiens "debat" sal tot in lengte van dae duur. Soos ek al voorheen hier geskryf het, die vermoë en die Goddelike gawe om te glo is nie almal beskore nie. Dit sal ook nie help om die wetenskaplike bewyse te probeer weerlê nie. Die wetenskap is daar om die ongelowiges net skietgoed te gee teen die wat die besluit gemaak het om te glo dat iemand vir ons gesterf het aan die kruis om ons vry te koop van die dood. Jy kry die geleentheid om die besluit te maak. Jy word geroep. So maklik soos dit. Jy aanvaar dit of nie. Ek het die voorreg gehad om een van die land se bekendste wetenskaplikes dr Louw Alberts te ken. Hy was diep gelowig en het nie die skepping en die bestaan van 'n lewende God bevraagteken nie. Hy het die besluit gemaak en die "mitiese verhaal" geglo. So sorrie vir die mense wat nog die stryd ook het. Kry vir julle manne.

  • Reusedwerg
    Ek het geen probleem daarmee dat mense anders oor dinge dink nie. Waarmee ek wel 'n probleem het is dat die wetenskap deur verganklike mense verhef word tot die antwoord op alles.
    Koning Dawid skryf Psalm 14 so ongeveer 'n 1000 vC en kom dan tot die gevolgtrekking dat "Vir die koorleier. Van Dawid. Die dwaas dink daar is geen God nie. Dwase mense vernietig alles; wat hulle doen, is 'n gruwel vir die Here. Daar is nie een wat goed doen nie."
    Ander vertalings praat van dom mense. Maar eintlik is die mens wat die produk is van 'n proses wat biljoene jare gelede begin 'n arrogante wese, wat in Dawid se woorde van Psalm 103 aanvoer:
    "15 Die mens, sy lewensduur is soos dié van gras, soos dié van 'n veldblom wat oopgaan:
    16 as die woestynwind daaroor waai, is dit weg en sy plek vir altyd leeg. "
    Beide 1983 vertalings.
    Die volgende voorbeeld illustreer dit pragtig:
    Êrens in die platteland beland 'n bejaarde dame vir 'n operasie in die hospitaal.
    “Dokter,” vra sy, “Bid jy darem voordat jy opereer?"
    Dokter: “Bid Tannie? Hoekom? Dit is ek wat jou gaan gesond maak en nie God nie."
    So vir meer as 3000 jaar lank is daar mense wat die bestaan van God ontken en afskryf as nonsens en tog word die evangelie nog daagliks verkondig. Meer as 6 biljoen Bybels is al gedruk en dit is in meer tale vertaal as enige ander boek.
    Angus het 23 Bybels, wat verstommend is, want watter mens hou nou 23 kopieë van 'n boek aan waarvan jy die inhoud om elke hoek en draai afskiet?
    Dit sou nooit gebeur het as alles net nonsens was deur mense uitgedink.
    Mag dit met jou goed gaan.

  • Beste Reusedwerg,

    Ek kan nie anders as om heelhartig met jou saam te stem nie. Ateïste gee nie om wie glo in Tokkelossie, Satan, God, Zeus of voorvadergeeste nie.
    Van meet af aan kon gelowiges die nie-gelowiges egter nie uitlos nie. Iemand moet net iets doen of sê wat lyk of dit Die Bybel weerspreek, en dis brandstapel toe met hom. Gelowiges is die taak opgelê om sendingwerk te doen, die nie-gelowige se siel moet gered word, hy moet bekeer word. Die woord van god moet versprei word. Die ateïs word selfs in die een-en-twintigste eeu nog as bandeloos, gevaarlik en as ʼn krimineel beskou, want hy het nie ʼn Bybel onder die arm wat hom op koers hou nie. Lank het hy weggekruip en maar gemaak of hy ʼn gelowige is, want werk sal hy nie sommer kry as hy nie gereeld in die kerk gesien word nie.
    Dis maar eers onlangs dat die ateïs begin terugveg het, deur vir die gelowige te wys dat sy ou gelofie nie juis iets watwonders is nie. Sy Bybel, waarvolgens elke Christen glo leef, is vol foute en weersprekings.
    Dit is natuurlik ook die ateïs se plig om die geloof te beveg, want geloof beteken gevaar vir die mens. Gelowiges raak maklik fanaties, plant bomme, skaak vliegtuie en vlieg daarmee in geboue, en dit alles om hulle geloof te versprei. Geloof wek oorlog en saai verwoesting.
    Dan moet ek ook erken, en ek weet dis nie mooi van my nie, maar ek kry so ʼn lekker gekriewel tot hier in my kleintoontjie as daar ʼn geskarrel in die Christelike hoenderhok is. So ek hoop die debat hou nog lank aan.
    Groete,
    Angus

  • Beste FC Boot,
    Dis waar, ek het 23 Bybels. Die meeste was verjaarsdaggeskenke, wat 'n geleentheid bied vir my gelowige familie om 'n ateïs te bekeer. Die King James het ek self gekoop; die taal daarin het my so baie aan Shakespeare en Sir Francis Bacon laat dink. Die Duitse Bybel het ek ook self gekoop, want ek het Duits vir die BA-graad geloop. Die Hebreeuse en Griekse Bybels het ek by my pa geërf.
    Ek het nog nooit enigiets in die Bybel afgeskiet nie. Dis wys my net jy het geen begrip van wat ek voorheen geskryf het nie. Die Bybel bestaan uit mites, legendes, sprokies, fabels, parabels, ens. Dis pragtige Christenmitologie. Niemand kan die inhoud daarvan betwis nie, want dit is 'n mite, en 'n mite het sy eie wette en waarheid. Binne die mite is die storie van Noag waar, en Jesus het op water geloop en water in wyn verander. Dis wanneer Christene die Bybel verkeerd lees, en wil bewys dat die Noag-verhaal werklikheid is, en hulle "ontdek" kastig Lot se vrou se soutpilaar, dat ek sê dis alles leuens.
    Daarom is dit nutteloos as 'n Christen uit die Bybel preek en tekste voorhou asof dit die wet van die mede en die Perse is. As koning Dawid meen dat net 'n dwaas sal sê dat daar nie 'n God is nie, is dit die mening van 'n fiktiewe karakter binne 'n fiktiewe verhaal.
    Nou weet ek die arme Christene sal nou naarstiglik probeer bewys dat daar werklik iemand was soos koning Dawid. Was hy nie die dwergie wat die reus Goliat met 'n klippie doodgemaak het nie? Sien wat ek bedoel?
    Ons kan seker so 'n denkbeeldige ondersoekie maak? Twee mense is in 'n ongeluk betrokke. Albei se twee arms en bene is gebreek. Die een word na die dominee geneem sodat hy hom gesond kan bid. Die ander gaan hospitaal toe, waar sy bene en arms gespalk word, en hy doktersbehandeling kry.
    My vraag is: wie is die beste daaraan toe?
    Die evangelie word nog daagliks verkondig omdat die mens nog maar primitief en superstisieus is, en natuurlik is dit die maklikste manier om mense van hulle geld te beroof. Na so 'n byeenkoms waar mense gesond gebid is en ander weer in floutes neergeval het, word emmersvol geld met besems bymekaar gevee. Dis buitendien belastingvry.
    Groete,
    Angus

  • Angus

    'n Foto van ons drie saam sal nog beter lyk. Ons kan selfs oorweeg om 'n getekende weergawe aan Kosie die Kabouter te skenk!

    Thomas

  • Beste Reusedwerg
    Weereens val Angus weg met ’n klomp onwaarhede en gebruik dan die swartsmeerkwas om alle gelowiges ongeag van wie hulle is by te kom Soos bv: “Gelowiges raak maklik fanaties, plant bomme, skaak vliegtuie en vlieg daarmee in geboue, en dit alles om hulle geloof te versprei. Geloof wek oorlog en saai verwoesting.”
    Daarmee skep hy dan die indruk dat die oorsprong van alle probleme in die verband by gelowiges lê. So reg in lyn met die President se uitspraak dat al Suid-Afrika se probleme te wyte is aan die koms van Jan van Riebeeck aan die Kaap in 1652.
    Beide die President en Angus se opmerkings is nie net onvanpas nie maar totaal verwyderd van die werklikheid en toon duidelik tot watter uiterstes hul sal gaan om hul onverdedigbare standpunte te verdedig.
    Angus beweer bv hy is nie sondig nie, maar dan dra die woord vir hom slegs een betekenis nl ’n godsdienstige betekenis, terwyl daar te minste 20 woorde in die Joodse taal is wat almal die begrip omskryf en die kerngedagte van ‘oortreding’ of ‘mis van doel dra.’ So vra Dawid aan Jonatan in 1 Samuel 20.vers 1:
    1 Daarna het Dawid uit die profetekwartiere in Rama padgegee en by Jonatan gekom en vir hom gevra: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding of wat het ek verkeerd gedoen teenoor jou pa dat hy my lewe soek?”
    Of Angus daarvan hou of nie is nie tersake nie. Feit is ons word almal gebore met ’n vermoë om verkeerd te doen wat ook duidelik uit Angus se skrywe blyk want hy sê: “Dan moet ek ook erken, en ek weet dis nie mooi van my nie.” Na hy alle gelowiges bygekom het met sy swartsmeerkwas.
    Hy weet dus dat hy verkeerd is, maar tog skryf hy dit, want dit is in ’n mens natuur. Ons word daarmee gebore en dit is oorgedra van geslag tot geslag en dit is die vermoë wat diep verskuil in elke mens lê, van die eerste mens af. Dit is dus die die ‘erfsonde’ en daarom sê die skrif: Markus 10 vers 18. (Jesus beantwoord ’n vraag met ’n stelling):
    Daarop sê Jesus vir hom: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe God alleen.”
    Die kern van die mens se ellende en toestand in die wêreld het dus niks te doen met geloof of ongeloof nie maar met die mens se oorgeërfde inherente vermoë om kwaad te doen en dan ewe netjies sy gewete toe te smeer, want hy doen dit vir die groter beswil van die gemeenskap, want: “Dit is natuurlik ook die ateïs se plig om die geloof te beveg, want geloof beteken gevaar vir die mens.”
    Laat dit met jou goed gaan.

  • Angus, wees gerus. Soos ek sê die woordewisselings sal tot in lengte van dae duur. Daar is "christene" wat my ook 'n pyn gee. Van hulle eien hulself baie voorregte toe en raak selfs bevooroordeeld teenoor ander mense, gelowiges en nie-gelowiges. Fanatici sal jy oral kry. Nie net gelowe het mense wat se koppe warm raak nie. Ek is gelukkig bevoorreg om nie soekend te wees nie. Ek het vrede in myself en my/ons Skepper. Ek veroordeel en beoordeel niemand nie. Jy het 'n keuse of het die geleentheid gehad om die keuse te maak.

  • Beste Reusedwerg,
    Ongelukkig kan ek weer nie anders as om soekend te wees nie. Kleintyd al het ek goggas gevang en hulle uitmekaar gemaak. My eerste horlosie het net 'n dag gehou toe is al sy ratte uitgehaal. Ek wil weet hoe Christene, Islams, Boeddiste dink, wat in die Bybel staan, hoe is die werklike binnewerke van taal, watter evolusie het die olifant deurgegaan dat hy so fyn met sy neus kan vat, waarom Christene nie kan aanvaar dat die Bybel Christenmitologie is nie, terwyl die wêreld van die Bybel pratende diere en bome, 'n vrou wat in 'n soutpilaar verander, 'n man wat die see kan oopkloof met sy kierie, en 'n man op water kan loop, bevat. Daarom moet ons met mekaar debatteer of self dan redekawel, sodat ons kan leer.
    Groete,
    Angus

  • Beste Reusedwerg
    As daar na pratende diere in die Bybel verwys word wat dan in gesprek met mense is, skep dit die indruk dat hul op gelyke vlak met die mens verkeer. Dat diere egter ’n ondergeskikte rol speel is duidelik uit Gen 3 vers 21 waar staan: “God het Adam en Eva later jammer gekry en vir albei klere van vel gemaak. Hy het self vir hulle die klere aangetrek.”
    Diere moes dus hul lewe verloor om die mens se naaktheid te bedek. Maar uit navorsing weet ons dat: “Humans began to wear clothing 170,000 years ago, concludes a new study that suggests our ancestors first put on clothes after the second-to-last Ice Age, when being nude must have been too cool for comfort.
    The evidence comes from seemingly very unfashionable lice, since scientists tracked when head lice evolved into clothing/body lice around 170,000 years ago. So lice have been with us since the world’s first clothes were made.” Since our ancestors are thought to have migrated out of Africa and into colder climates and higher latitudes anywhere from 100,000 to 60,000 years ago, the findings indicate the invention of clothing made such long journeys northward possible.
    The second to the last Ice Age occurred around 180,000 years ago, so in the aftermath of that cooling, humans may have figured out that putting on clothes- probably animal furs and skins- had enormous benefits.” http://news.discovery.com/human/humans-first-wore-clothing-170000-years-ago.htm.
    Diere is ook duisende jare voor die Genesisverhale geskryf is, mak gemaak. Die vraag wat beantwoord moet word is of die pratende diere werklik praat of klanknabootsers is. ’n Mens leer nie werklik ’n voël soos die African Grey praat nie, hulle is egter uitstekende klanknabootsers en kan dan klanke so goed namaak dat dit klink of hul werklik praat.
    So het my buurman se African Grey my menige keer as ek buite met iets besig is, alles laat los om ’n telefoon te antwoord wat nie gelui het nie.
    Omdat die Genesisverhale duisende later na die gebeure hierbo geskryf is, is dit duidelik dat die skrywers bewus was van mense wat velle van diere vir kleding gedra het. Van Johannes die Doper is daar geskryf dat sy klere van kameelhare gemaak is.
    In die Genesisskeppingsverhale vind daar dus ’n vermenging van werklikhede en verbeelding plaas. Dit gaan dus nie daaroor of diere kan praat of nie maar oor die boodskap wat oorgedra word. En dit is belangrik.
    Mag dit met jou goed gaan.

  • Beste FC Boot,
    Ek het gesê geloof is gevaarlik want dit skep konflik. Dit beteken nie dat geloof verantwoordelik is vir alle konflik nie.
    Geloof is verskriklik gevaarlik, want dit skep verwydering en tweespalt. Ek is 'n Christen en jy is 'n heiden, of ateïs of Moslem. Ek, Christen, gaan hemel toe en jy is verdoem tot die hel.
    Nie alleenlik dit nie, maar daar was talle godsdiensoorloë in die verlede, oa die sg Dertigjarige oorlog. Hitler was 'n Rooms-Katoliek, en gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy Jode laat uitroei omdat hy gedink het dis sy plig, omdat hulle beskou was as die moordenaar van Jesus. (Gaan lees Mein Kampf). Dink maar aan die Protestante wat moes vlug vir die Katolieke moordenaars. Die Franse Hugenote in ons land is 'n bewys daarvan.
    Die woord sonde is, soos god, gode, hemel, hel, duiwel, 'n religieuse begrip. Die gebruik daarvan het net verbreed sodat ons selfs hoor dat dit 'n sonde is om 'n appel, of selfs 'n aartappel te skil. Volgens die Bybel is dit 'n groot sonde as jy 'n bokkie in sy ma se melk kook.
    Dis waar, ek mag iets verkeerd doen, maar dis nie sonde nie, en as ek 'n Christen so van sy troontjie laat afval, dan kry ek lekker; nie omdat ek iets verkeerds gedoen het nie, ek het die wêreld dan 'n groot guns bewys.
    Groete,
    Angus

  • Beste Reusedwerg
    Ek sien dat Angus praat van: “'n Man wat die see kan oopkloof met sy kierie ...”
    Ek neem aan hy verwys hier na Moses. Maar wat het moses nou werklik gedoen?
    In Eksodus 14 lees ’n mens, vers 16: “Lig op jou kierie en steek jou hand uit na die see se kant toe. Die water sal voor julle oopmaak sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan loop.”
    Dus geen geslanery nie. Hoe vind dit nou plaas? Vers 21: “Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het dwarsdeur die nag ’n sterk oostewind oor die see laat waai. Die see het weggetrek en die wind het ’n pad van droë grond deur die see droog gewaai.”
    Is dit moontlik? Eksperimente in die laboratorium en die natuur het bewys dat dit wel moontlik is. Die Israeliete het deur die Rietsee (nie Rooisee nie) getrek. Dit is ’n smaller gedeelte en ’n vermoede bestaan dat daar ’n sandbank was waar die water dus vlakker was.
    Dit is niks verbasend nie want waarom sou die Skepper van alles, dus ook die natuur dit nie inspan om redding te bewerkstellig nie?
    Die grootste probleem waarmee almal van ons sukkel omdat ons met ’n totaal verkeerde prentjie van Jesus groot geword het omdat Hy so vermenslik is dat Hy vir niks meer as ’n gewone mens aangesien is. Selfs sy tydgenote en volgelinge het daarmee gesukkel en dit het ’n groot kopskuif, bewerkstellig deur die Heilige Gees, vir Petrus gevat om sy beroemde belydenis te maak. Dat hy daarna weer struikel wys hoe moeilik dit vir ’n mens is, om tot die oortuiging te kom.
    Ons bly op ’n planeet wat ’n sekere tyd neem om sy omwenteling om sy eie as om die son te voltooi. Ons praat van die omwenteling om die aarde se as –in die liggedeelte na die son as 'dag' en die donker gedeelte weg van die son as 'nag' en ’n reis om die son as ’n jaar.
    Hoekom? Wel dit is die enigste manier waarop ons struktuur in ons bestaan kan bewerkstellig en dit orden en dinge kan doen. Ons praat dan van tydbesteding en dat ons die tyd moet uitkoop en nie verkwis nie.
    Maar tyd is ’n illusie en bestaan nie. Bring alles in die heelal tot ’n stilstand en tyd verdwyn en bly net afstand tussen planete en op planete oor. Dit dwing my dus om anders oor dinge en ook die “Oorsaak van alles’ Jesus te dink en te besef dat die werklikheid in my kop en observasie daarvan nie werklik die werklikheid is nie, maar 'n ordening van dinge wat dit vir my moontlik maak om te bestaan.
    Die Bybel vat my dus weg van dit en dwing my om te dink oor dit wat bestaan het voor my werklikheid ’n werklikheid vir my geword het. My reis hier op aarde is dus nie na ‘n “pie in the sky" nie maar ’n reis verby die begin, na die Oorsaak van alles wat deur die Evangelie 'n hand na my uitsteek sodat ek nie langer in 'n spieël na 'n raaisel kyk nie, maar dan ten volle sal verstaan.
    Mag dit met jou goed gaan.

  • Beste Angus

    Waar val jy nou uit met :"Volgens die Bybel is dit 'n groot sonde as jy 'n bokkie in sy ma se melk kook."
    Dit is bloot net 'n gemene daad wanneer jy die bokooi waaraan die lammertjie suig
    en dus nog moet groot word melk, en dan die arme ding daar in gaar kook.

    Wat gevaarlik is vir die gemeenskap is jou skewe vertolkings van Bybelverse.

    Lekker dag.

  • Beste FC Boot,
    Blykbaar ken jy nie jou Bybel so goed nie. Na die tien gebooie volg 'n hele boel ander wette wat julle Xtene moet gehoorsaam. Eksodus 23:19 "Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie."
    Dit val dus uit die Bybel uit.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Uit jou 23 Bybels moes dit tog op een of ander tydstip tot jou deurgedring het, dat dit eintlik Christene is wat deur die verlossingswerk van Jesus Christus vry van die wet (dekaloog) 10 opdragte en sedewette gemaak is, want in Romeine 10 vers 4 lees ek:
    4.Sonder Christus help dit niks dat mense die wet probeer hou nie. Hy gee betekenis en inhoud aan alles wat die wet sê. Elkeen wat in Hom glo word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien.
    Jy kan self vers 5 tot 8 lees. Vers 9: En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word .Al wat jy moet doen is, om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan.10.As jy dit glo spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos. Die Bybel sê immers “niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.”
    En nou gaan jy natuurlik vra wat nou van:
    Mt. 5:17-19: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.
    18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.
    19 Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en
    leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.”
    Gl. 3:24,25: “Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan
    word uit die geloof.
    25. Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ’n tugmeester nie.”
    Dus Angus is jou verwysing na sekere teksverse vir my van nul en gener waarde, behalwe dat ek daaruit weet hoe groot my oortredinge is en dan hoe groot my dankbaarheid moet wees vir die wonderwerk en genadegawe van geloof.
    Wat nou van die hemel en wat van die hel –wat is die goed?
    Die volgende teksverse help in die verband. Kolossense 1 stel dit duidelik: dat God deur Hom alles geskep het wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.
    Joh 1 sê: Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
    Christus het dus voor die Oerknal bestaan, trouens Hy is die Oorsaak waardeur alles ontstaan het. Ons sê as mense dat Christus opgevaar het na die hemel. Dit is nie die hemel van ons gedagtes nie. Christus bestaan vir ewig in ’n tydlose dimensie.
    Wanneer gelowiges dus met Hom verenig word word hul in die tydlose dimensie met ’n soortgelyke liggaam aan syne. Ons beweeg dus verby die beginpunt van alles.
    By die finale oordeelsdag vind daar ’n skeiding plaas en word gelowiges en ongelowiges in aparte maar ewige dimensies geplaas. Daar is geen oorgang tussen die twee nie. Lees die gelykenis van die arm en ryk man.
    Jy gaan dus nie brand nie maar vir ewig ’n bestaan voer gelykstaande aan die ryk man. Soek dus nie vir die hemel en hel in die dimensie waarin ons lewe nie. In ons dimensie kan jy iets van Christus se skeppingskrag en verlossingswerk waarneem – maar net gedeeltelik.

    Mag dit met jou goed gaan.

  • Beste FC Boot,
    Dit help nou nie om jou verleentheid weg te steek agter 'n lang preek uit die Bybel nie.
    Feit bly staan: jy ken nie jou Bybel nie.

    Ek het beweer dat, volgens die Bybel, 'n Christen nie 'n bokkie in sy ma se melk mag kook nie. Met groot bohaai het jy beweer dit staan nie in die Bybel nie. Wat anders kan: "Waar val jy nou uit met: 'Volgens die Bybel...'" dan beteken?

    Ek sien elke teksvers uit die Bybel het vir jou net een betekenis: dit dui op hoe groot jou oortredinge is. Arme jy! Jy dra maar bleddie swaar aan jou erfsonde.

    Dit smaak my jy het oerknal en oorsaak op die brein.
    Groete,
    Angus

  • Beste Angus
    Jy is die een wat verleë is en behoort te bloos want jy het die bokkie-teks totaal uit
    verband geruk en het geen benul hoekom dit so aangeteken is. Dit was nie net 'n heidense gewoonte nie maar het ook teen die Jode se bewaringsetiek ingedruis.
    As jy dit geweet het sou nie sulke onbenullige antwoorde gegee het nie. As jy aan teksverse betekenis wil gee moet jy tog seker die teks lees teen sy kulturele en historiese agtergrond anders gaan jy nooit verstaan hoekom dit neergeskryf is nie.
    Jy het nou nog geen benul van wat erfsonde is nie en struikel in die Bybel rond soos 'n blinde in ’n onbekende vertrek. Hoekom gee jy nie 'n aanvaarbare alternatiewe verduideliking aan lesers oor wat jy dink die oorsaak van die Oerknal was en wat jy dink daar voor dit was nie?
    In enige debat as jy nie saamstem nie moet jy tog 'n aanvaarbare alternatiewe verduideliking voorlê.
    Ek los jou met 'n aanhaling van Robert Jastrow wat in 1981 tot die volgende gevolgtrekking gekom het:
    "Now we see how the astronomical evidence supports the Biblical view of the origin of the world. The details differ, but the essential elements in the astronomical and Biblical accounts of Genesis are the same: the chain of events leading to man commenced suddenly and sharply at a definite moment in time, in a flash of light and energy."
    "There is a strange ring of feeling and emotion in these reactions [of scientists to evidence that the universe had a sudden beginning]. They come from the heart whereas you would expect the judgments to come from the brain. Why? I think part of the answer is that scientists cannot bear the thought of a natural phenomenon which cannot be explained, even with unlimited time and money. There is a kind of religion in science; it is the religion of a person who believes there is order and harmony in the Universe. Every event can be explained in a rational way as the product of some previous event; every effect must have its cause, there is no First Cause. … This religious faith of the scientist is violated by the discovery that the world had a beginning under conditions in which the known laws of physics are not valid, and as a product of forces or circumstances we cannot discover. When that happens, the scientist has lost control. If he really examined the implications, he would be traumatized."
    "Consider the enormity of the problem. Science has proved that the universe exploded into being at a certain moment. It asks: What cause produced this effect? Who or what put the matter or energy into the universe? And science cannot answer these questions, because, according to the astronomers, in the first moments of its existence the Universe was compressed to an extraordinary degree, and consumed by the heat of a fire beyond human imagination. The shock of that instant must have destroyed every particle of evidence that could have yielded a clue to the cause of the great explosion."
    "For the scientist who has lived by his faith in the power of reason, the story ends like a bad dream. He has scaled the mountain of ignorance; he is about to conquer the highest peak; as he pulls himself over the final rock, he is greeted by a band of theologians who have been sitting there for centuries."
    Scientists have no proof that life was not the result of an act of creation, but they are driven by the nature of their profession to seek explanations for the origin of life that lie within the boundaries of natural law.
    — Robert Jastrow, The Enchanted Loom: Mind in the Universe, (1981), p. 19.
    Laat dit met jou goed gaan.

  • Beste FC Boot,
    Lees asseblief met aandag wat ek sê.
    Ek het dit slegs genoem dat dit in die Bybel staan dat jy nie ʼn bokkie in sy ma se melk mag kook nie. Ek het dit nie bespreek nie, ek het dit nie gekritiseer nie, ek het nie daaroor gefilosofeer nie; dus kon ek dit onmoontlik uit verband geruk het, soos jy beweer. Ek hoef dit teen geen agtergrond te lees nie, en ek hoef my nie daaroor te bekommer waarom dit geskryf is nie. Ek het slegs genoem dat dit in die Bybel staan, finish en klaar. Jy is die een wat tekere gaan daaroor en te kenne gegee het dat dit nie in die Bybel staan nie.
    Wat erfsonde betref, het ek aan jou bewys dat sonde oorspronklik slegs ʼn religieuse term is, maar dat dit oordragtelik gebruik word in die taal. Erfsonde, het ek gesê, is slegs iets waaraan gelowiges ly as gevolg van die ongehoorsaamheid van Adam en Eva teenoor God, wat almal karakters is van die Christen- en Joodse mitologie. 'n Ateïs kan dus nie sondig nie, dra nie erfsonde op sy rug nie, en het niks met sonde te make nie. Hy kan net slegte dade pleeg en menslike wette oortree.
    Wat die bokkie en erfsonde met die oerknalteorie te make het, sal net jy weet. Die oerknalteorie is ʼn moderne teorie wat sy ontstaan te danke het aan Edwin Powell Hubble se waarneming in 1919 van hoe lig van afgeleë sterregroepe na die rooi gedeelte van die spektrum verskuif. Met ʼn bokkie wat in sy ma se melk gekook word, het dit niks te make nie; nog minder met erfsonde of die feit dat Jesus nie bestaan het nie.
    Waarom ek nou juis moet lees wat Jastrow of wie ook al te sê het oor die oerknal, slaan my dronk. As jy die oerknalteorie, buig of bars, aan sy hare wil bysleep, kan jy dit vergelyk met die twak wat in die Bybel verkondig word oor die skepping van hemel en aarde. Dan sal ek jou verwys na al die honderde webwerwe geskryf deur kreasioniste en dan kan jy deur al hulle k@k worstel.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top