Beste Angus
Jou geesdriftige teregwysing aan Kobus de Klerk, het my net weereens herinner hoe intellektueel en onberispelik ateïsme is.
As kind het ek langs die groot pyp kerkorrel van die Gereformeerde Kerk Alberton-Noord groot geword. Ek het ’n bekoorlike liefde selfs binne in die orrel ervaar wanneer my pa ook in die week daarop geoefen het. Ek sien dit vandag in my dogtertjie. Nog nie drie jaar oud nie en sy verlang na die liturgie om voor in die kerk te kniel en seën te ontvang. Sy weet Saterdag die volgende dag is Sondag. Niks kan haar uit die kerk hou nie.
Maar, ’n mens groei.
Deel van my grootword was om ’n nommer te word in die eerste twee jaar diensplig-inname destyds; die eerste JA/NEE stem in die politiek; en die drie susters se blatante politiekery vanaf die preekstoel in die 80's. Dit was ’n ongelooflike pynlike ontnugtering vir my. Alles waarvoor ek so lief was is verdag gelaat.
My verweer; my intellek.
Angus, in die laat tagtigs tot vroeë negentigs sou Richard Dawkins ’n les by my kon leer. Ek het my verdiep in die mitologie en was selfs ’n gerekende spreker oor die "plagiaat in die Bybel" (uit byvoorbeeld Egiptiese mites). Ek kon die wetenskap van ons DNS heel akkuraat tot oor die honderd duisend jaar terugvoer. Danksy Carl Sagan is die dieptes van ons Kosmos styf vasgevang tussen my twee ore.
Dieselfde onverskrokkenheid het my ook heel kordaat oor die drumpels van sinagoges, moskees, Hindoe tempels en Katolieke katedrale laat mars.
Sonder ’n enkele mens se direkte invloed het ’n nuwe werklikheid by my begin insink. Behalwe vir ’n geweldige verlange na wat ek uit my kinderjare verloor het, kon ek dit nie mis nie; in elke godsdiens is daar toegewyde dienaars aan GOD hul lewe lank. Hulle weet nie en steur hulle nie aan die ander paadjies teen die Berg op nie. Hulle glo soos hulle glo van kinds af; die ooreenstemming in hul eerbied ’n spontane en entoesiastiese aanbidding tot dieselfde Almagtige Lewende Skepper.
Dis my belewenis.
Ek sou niemand agter my aan roep nie. Dit bly ’n eensame weg. Oral vind ek myself op die agterbanke; stil in die studie van Heilige Skrifte saam ander en net te dankbaar vir elke bietjie kategese wat my broers en susters in elke godsdiens waar ek instap met my deel. Ek sal nooit weer kan inhaal of so intiem deel van ’n groep wees soos dié wat trou hul lewe lank daarin is nie.
Maar, ek is vergewe!
Angus, jy is my veel meer fatsoenlik. Ek het my weg stadig van barbaars lasterlik; eers as agnost, panteïs en toe as Kopt teruggevind. Ja, om te dink hierdie sogenaamde kundige oor Egiptiese mites moes deur die Kopte in die Evangelie aangewys word. Wat ’n wonderlike genade!
En hier tik ek vandag uit my biblioteek vol ervaring op die werf ...
Daar is egter iets uit my belewenis as ateïs wat my aan die verstand bly. As ateïs kon ek myself geld in die gedagte dat daar geen algemene wet is wat die Kosmos in stand hou nie. Dis ’n baie uitdagende rede. Steven Hawking is na my mening een van die begaafste filosowe daarin. Maar al land jy op ’n teorie soos chaos of kompleksiteit, staan jy net weer as panteïs as jy dit aangryp.
Angus, hoe voer jy rede in jou begaafde intellek as oortuigde ateïs sonder erkenning aan enige algemene WET wat die Kosmos in stand hou?
Dankie vir jou eerlike bydraes.
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn

