Perspektiewe oor Die Mighty Men Verhaal
1. Agtergrond
Die Mighty Men Verhaal (2012)1 is ’n vertaalde boek wat ryklik geïllustreer is met foto’s, byskrifte en slim gebruik van kleure om die verloop en betekenis van die Mighty Men Konferensies (MMK’s), 2004 tot 2010, op die plaas Shalom, Greytown te beskryf. Die outeur is Angus Buchan van Shalom Ministries, wat nie slegs op Shalom boer nie, maar reeds jare lank ’n besige prediker van formaat is. In 2003 is hy goddelik geroep om ’n bediening te fokus op mans in Suid-Afrika met die oog daarop om ’n mentorskap vir nuwe gelowige mans te vestig. Wat aanvanklik as ’n betreklik klein onderneming begin het, het bo verwagting gegroei tot ’n bediening wat honderde duisende mans ingesluit het en hom genoop het om teen 2010 met ’n andersoortige formaat as die konferensies die werk voort te sit. In spirituele terme het die bediening indrukwekkende sukses behaal en word dit getipeer as ’n landswye herlewing onder mans. Die Mighty Men het as verskynsel uit eie reg ’n stempel op die geloofswêreld in Suid-Afrika afgedruk wat uiteenlopende reaksies ontlok het.
2. Fokus van hierdie aanbieding
As ’n bydrae tot ’n webseminaar oor die Mighty Men-verskynsel gaan ek oor twee aspekte kommentaar lewer. Die eerste is gedagtes oor die enkele reaksies wat deur die publiek hierop gelewer is en die tweede bekyk die vraag of herlewing sosiologies veranker is.
3. Reaksies van die Suid-Afrikaanse publiek
Sedert 2004 het die Mighty Men-verskynsel al baie kommentaar ontlok. Sommige mense, veral dié met ’n konserwatiewe Christelike geloofsoriëntasie, vind dit ’n positiewe en aantreklike beweging wat die samelewing weer leer wat goeie, outydse waardes is en die plek en rol van die man in die patriargale samelewing weer bevestig en versterk. Ander, met ’n lewensuitkyk waarin godsdiens nie oorheersend is nie, of waarin teologiese interpretasies meer kontekstueel gemaak word, is nogal ietwat gesteur deur die beweging. Volgens hulle werk dit in téén geslagsgelykheid en bevorder dit manlike oorheersing in allerlei sosiale formate, veral die gesin. Die vermeende Bybelse idee dat die man die hoof van die gesin is, en daarmee sommer ook van die vrou, vind nie aanklank in ’n samelewing wat veel vryer oor gendersake dink as vorige generasies nie.
Die profiel van die “vader” van die Mighty Men-beweging, Angus Buchan – ’n ouer man, met sy forse, aantreklike gelaatstrekke, informele kleredrag, groot hoed, wat ‘n aktiewe boer eerder as ‘n evangelis is, versterk laasgenoemde interpretasie van die beweging. Dit is asof geglo word dat mense met hierdie profiel nie ook byderwets kan dink, glo en wees nie. Buchan projekteer die voorkoms en beeld van ’n goeie gesinsman: hy is die vader en oupa van ’n gesonde uitgebreide familie wat groot en klein, man en vrou, respekteer en waardeer volgens hulle “Godgegewe” plek en rol in die gesin en breër samelewing.
Boonop verklaar Buchan: “Ek is deur en deur ’n fundamentalis” (152) wanneer hy sommige van die kritiek wat teen sy bediening geslinger word, probeer aanspreek. Daarmee bedoel hy oënskynlik dat hy Bybelse inhoude interpreteer binne die teks en onbevraagtekend as Goddelike waarhede aanvaar. Hy argumenteer nie daaroor nie; hy gehoorsaam dit eerder. So is dit byvoorbeeld ’n Bybelse gegewe vir hom dat elkeen, man en vrou, geskep is deur God, na die beeld van God, maar verskillend is in terme van hulle “aard”. Mans is bedoel (dit wil sê, dit is hulle Goddelike roeping) om leiding te gee aan ander (dus ook die vrou) na aanleiding van hulle “genetiese’ samestelling; en ’n rol te vertolk van versorging, beskerming maar ook besluitneming. In die boek word op verskeie plekke hieroor uitgewei.
Vir die lesers wat godsdienstig ondersteunend teenoor Buchan se visie en belydenis staan, is die Mighty Men-waardes waarskynlik aantreklik en in ooreenstemming met die oorgrote meerderheid Christelike standpunte. Op die meeste punte sal hy instemming geniet. Trouens, selfs diegene wat nie (in die openbaar) uitgesproke gelowig is nie, kan hulle ook met baie van Buchan se standpunte vereenselwig as gesonde waardes vir die samelewing. Sommige verlang selfs dat dit in teenswoordige tye wéér tot uitdrukking sal kom.
Hierdie verlange is veral sterk in ’n konteks van die onlangse uitermatige vergrype van geweld, juis deur mans, teenoor vroue. Daar is die baie onlangse voorbeelde van die verkragting, skending en moord van Anene Booysen (17) van Bredasdorp; Marshay Louw (18) en haar babadogter (1) van Atlantis; Ge-Audrey Green (19) van Kraaifontein; Charmaine Mare (16) van Kraaifontein; Jennifer Williams (11) van Ottery; Lilitha Mqwebi (5) van Khayelitsha; Savannah Mersin van Lavender Hill; Stacy Lee Johnson (15) van Muizenberg. Daar is verder die opspraakwekkende moordsake van Reeva Steenkamp (29) van Pretoria en die Steenkamp-gesin – Deon, Christel en Marthellla – van Naauwhoek, Griekwastad). Selfs gewelddadige plundering van openbare instellings kom voor, soos die Primêre Skool Heideveld wat onlangs deur 200 gemeenskapslede afgebreek is. Die meeste van hierdie aksies gebeur pas nadat die Suid-Afrikaanse en internasionale gemeenskap weer eens van die 16 dae aksie teen geweld op vroue en kinders deur die media verneem het.
In hierdie konteks kom die versugting na vore:
Ons (ek) het skepties/sinies gelag vir Angus Buchan se outydse waardes. Verbeel jou om die man weer die hoof van die huis te wil maak!
Nou soek ons dáárdie “man” – dié een, of baie, wat sal opstaan om die verdierliking van mans in ons gemeenskap te stop.
Watter man sal voorloop en eerlik wees oor morele leiding; eerlik wees oor die verskrikking maar aanvaarding van dwelmmisbruik; eerlik wees oor die ooglopende miskyk, selfs toekyk van die mag van die nommers in die tronke?
Wie sal die debat oor byvoorbeeld chemiese kastrasie verder voer, dalk uitvoer? Wie sal nie net sê “Daar moet opgetree word” en dan stilbly nie? Ons soek nie ’n president nie; ons soek ’n man. (Brief deur Martie Retief-Meiring, Praat Saam, Die Burger, Februarie 2013).
Buchan koppel sy primêre boodskap aan die idee van versoening (soos verduidelik in 2 Korintiërs 5 – versoening met God en met mekaar). Dit is ’n boodskap met ’n godsdienstige inhoud wat sosiale implikasies dra. Vir hom is “Mighty Men” mans wat hulle saak met God regmaak en as uitvloeisel daarvan veral hulle verhoudings met hulle gesinslede, maar ook in wyer werks- en openbare verband, nuut bedink, positief benader, en veral in toegeneentheid en toegewydheid voortaan gaan bedryf. Telkens probeer hy verduidelik dat dit volgens en in ooreenstemming met die “bedoeling van God met die man en vrou” sal geskied, nie ’n hoofskap wat baasskap is nie, maar leidinggewing wat in diens tot ander tot uitdrukking kom. Die voorbeeld van Jesus se voete-wassing word voorgehou as ’n demonstrasie van wat hier bedoel word. Verskeie paragrawe en hoofstukke in die boek handel hieroor. Hoofstuk 26 (212 ev) gee veral inhoud daaraan aan die hand van die begrip ridderlikheid – hoflikheid, moed, eer, regverdigheid en hulp aan die swakke. Hierdie is eienskappe en waardes wat wenslik is en vir Buchan ’n besliste uitvloeisel behoort te wees van ’n gelowige aanvaarding van God se genade.
Buchan is onbeskaamd oudmodies in sy oortuigings aangaande kinderopvoeding. Lyfstraf vir seuns deur hul vaders word volgens hom deur die Bybel gesanksioneer. Hy handhaaf sienings oor egliede-verhoudings wat uit ’n vorige era spruit (byvoorbeeld geen seks voor die huwelik nie). Hiervoor is hy uitgekryt as iemand met outydse waardes. Sou mens egter kyk na die groeiende lys van verkragtings, liggaamskendings en moorde (soos hier bo), ontstaan die vraag onwillekeurig of die “nuwetydse” waardes enigsins ’n beter bestaan en toekoms aan die kwesbares in die gemeenskap kan verseker. Dit lyk nie so nie. Waardes op sigself bied buitendien ook geen waarborg dat gedrag daarby aanpas nie. So dikwels is waardes eintlik net regverdigings van reeds bestaande gedrag. Om die sluiting tussen waardes en gedrag te bevorder het ons dalk iets meer nodig. Buchan sou argumenteer hierdie “iets meer” lê in die domein van die goddelike; Bybels uitgedruk: die krag en besitname van die Heilige Gees in individue se lewens. Die sluiting tussen waardes en gedrag word in hierdie geval dus ’n saak van geloof.
4. Herlewing
Die Mighty Men-byeenkomste is primêr ’n godsdienstig-spirituele ervaring. Die uitkoms daarvan word beskryf as ’n “herlewing’. Dié verskynsel kan op drie vlakke aangedui word: persoonlik (waar dit dan beskryf word as ’n vernuwing van geestelike belewenis), institusioneel (soos ’n herlewing binne kerklike verband, waar die institusie dan vernuwe), en ’n algemene gemeenskaps- of samelewingsverband (waar ons dan van ’n geestelike ontwaking kan praat). In al hierdie betekenisse dra herlewing die konnotasie van ’n “ommekeer”, “bekering” en selfs ’n “wedergeboorte” wat terugval op die aanvaarding van ’n volledige en allesoorheersende besitname deur die goddelike krag van die Heilige Gees in ’n persoon se lewe. Hierdie terminologie is konvensioneel Bybels. Sekulêre bewoording, selfs wetenskaplike terminologie, word in die evangeliese domein van die Mighty Men-beweging nie aanvaar of gebruik nie, of word selfs aktief teengestaan.
Aangesien die Mighty Men-byeenkomste nie denominasioneel gebonde of selfs gekoppel is nie en baie van die deelnemers as “niegelowig” beskou is en dan deur hul deelname tot geloof gekom het, sou mens van ’n meer algemene geestelike ontwaking kon praat.
Die interessante is dat Buchan nie aan deelnemers waardes leer nie. Hy verkondig die evangelie en deelnemers verstaan die implikasies van hulle nuwe geloofsoortuiging op ’n spontane manier. Dis asof mense steeds, en oorspronklik, ’n kollektiewe bewussyn het van norme en waardes, van wat goed en reg is, en van wat ’n edele karakter behels. Deur die godsdienstige proses van ontwaking, vernuwing en herlewing word hierdie karaktertrekke weer geaktiveer. In Bybelse terminologie verwys dit na die “vrug van die Heilige Gees”.
Kyk na die volgende waarneming: Gegewe die getuienisse wat instroom na aanleiding van Buchan en sy medewerkers se prediking, lof en prysaksies, ly dit geen twyfel nie dat hier ’n beweging met positiewe inslag aan die gang is. Baie van hierdie getuienisse kom van eggenotes, kinders, ouers, broers en susters, kollegas, werkgewers en werknemers, waar ’n ommekeer in die man wat die Mighty Men-byeenkomste meegemaak het, waargeneem is. Daar is sprake van “wonderwerke” en ingrypende gedragsveranderinge. Mans word van ernstige siektes, kwale en dwelmafhanklikheid genees, sweer kriminele gedrag af, betaal hul skuld, skakel oor na ’n heteroseksuele lewenstyl, sweer hul geweld (teenoor hul vrouens) af en tree vredeliewend en liefdevol op. Ongelowiges verander en leef aktief mee in hulle plaaslike en ander kerklikebedieningsomgewings. Baie van hierdie gedragsveranderinge laat familielede verstom staan, omdat hulle na jare lange teistering en onverskillige gedragspatrone reeds hoop laat vaar het.
5. Nuwe tye vra nuwe benaderings
As hierdie veranderinge ouwêreldse waardes beklemtoon en herbevestig, kan dit tot dankbaarheid stem. Ek sou egter wou pleit dat wel onderskeidend en kontekstueel met waarhede omgegaan word. Daar is sensitiwiteite en insigte wat juis in terme van die Bybelse liefdesgebod2 opnuut bekyk (moet) word. Dit sluit in sulke sake soos die seksuele oriëntasie van mans en vroue, asook geslagsrolle (ook genoem genderrolle), wat vandag ’n bepaalde inhoud verkry en uitspeel in kulturele omgewings wat radikaal anders is as die samelewings van die ou en antieke wêreld waarin Bybelse tekste ontstaan het. Die Bybelse liefdesgebod skep die moontlikheid dat ’n mens in ’n nuwe kultuursituasie anders oordeel oor mense se seksuele oriëntasie as wat dit die geval in antieke tye was. Verder was daar selfs in die ou wêreld (en vandag is daar steeds) matriargale kultuurvorme wat verskil van die patriargale oriëntasie van die Mighty Men-beweging. Daar is ook sulke vrae soos wat ’n mens maak met kultuuraansprake uit die Bybel waarin poligamie aanvaar is. As hedendaagse Christene poligamie daarteenoor verwerp as iets wat onkrities in die Ou-Testamentiese Bybel as sosiale praktyk beskryf word, het hulle daarmee krities teenoor die Bybel geword? En as dit dan gangbaar is, waarom sou so ’n kritiese ingesteldheid nie ook moontlik wees ten opsigte van ander kulturele aspekte wat in Bybelse beskrywings voorkom nie (soos bv partriargie)? Wat byvoorbeeld van die toenemende gelykheid wat vandag aan geslagte toegedeel word en die manier waarop eietydse Christen-gelowiges daarmee omgaan?
Hoe kan ’n mens as deelnemer aan die Mighty Men-beweging reg laat geskied aan sekere basiese transkulturele norme en regte? Menseregte is ’n moderne verskynsel wat in ’n nuwe (soms selfs ouer) hermeneutiese verstaan van waarhede oor die wêreldwye spektrum van religie eksplisiet erken word. Geweldsvergrype van mans, en vroue, teenoor hulle ouers, egliede en lewensmaats, hulle kinders en ander se kinders gaan byvoorbeeld teen die grein in van die reg op lewe as ’n transkulturele norm. Die bloedskande-verbod en verbod op berekende moord is ook sulke transkulturele norme. Hoe kan ook die Mighty Men-beweging aan sulke norme en regte reg laat geskied?
Hierdie vrae en oorwegings dui daarop dat aansprake wat as tydlose en transkulturele “waarhede” voorgehou word, telkens deur gelowiges in die tye en kulture waarin hulle leef, opnuut in sosiale praktyke “vertaal” (sal) word ten einde reg te laat geskied aan die finale liefdesgebod waarin die universele liefde beteken dat elkeen in die ander se lewe sal opgaan.
Ek beweer nie dat die Mighty Men-beweging vergrype teenoor transkulturele norme en waardes soos menseregte aanmoedig, voorstaan of predik nie. Ek wil wel vra vir debat wanneer gelowiges (en ander) onkrities outydse kulturele waardes voorhou as die norm vir andersoortige tye en lewensingesteldhede. Dit is ’n saak wat herondersoek behoort te word. In hierdie opsig is daar dus ’n verpligting om evaluerend met die inhoud en gevolge van die Mighty Men-beweging (en ander bewegings wat fundamentalistiese aansprake maak) om te gaan.
6. Sosiale faktore?
Die geestelike ontwaking waarvan by die Mighty Men-byeenkomste getuig word en die bogenoemde uitkomste daarvan, laat waarnemers verstom staan. Hulle is onbevoeg om ’n wetenskaplike verklaring daarvoor te bied. Buchan self soek nie na verklaring nie. Hy sê uitdruklik dat hy nie in teologiese diskoerse belang stel nie, maar eerder opdragte van God wil gehoorsaam.
Kan die herlewing (of dan ontwaking) kontekstueel verklaar word? Is daar byvoorbeeld sosiaal-historiese toestande wat gepaard gaan met episodes van herlewing? Is daar sosiale faktore wat ’n verklaring bied vir waarom mans, en oorwegend wit mans, na die Mighty Men-beweging sou gryp?
Volgens Wikipedia: “Christian revival is a term that generally refers to a specific period of increased spiritual interest or renewal in the life of a church congregation or many churches, either regionally or globally” (http://en.wikipedia.org/wiki/Christian_revival). Histories het die Christendom sedert die 17de eeu verskeie en gereelde herlewings en ontwakings beleef. In die 17de eeu was daar byvoorbeeld die Reformasie. In die 18de eeu was daar die Verligtingsperiode wat fundamentalistiese godsdiens bedreig. Dit was te verwagte dat daar reaksionêre godsdienstige bewegings teen die Verligting sou voorkom. In daardie tyd beleef die Amerikaanse kolonies die Eerste Groot Ontwaking, veral gedurende 1730–40. In Engeland begin godsdienstige konserwatisme in die 19de eeu sterk na vore kom. Terselfdertyd ervaar ook Skotland sterker evangeliese tendense. Dit spoel mettertyd oor na Engeland, asook Australië. Skandinawiese lande word deur die opkoms van kultiese bewegings gekenmerk. In die laaste helfte van die 19de eeu (1850-1900) beleef Amerika die Tweede Groot Ontwaking met ’n klem op persoonlike verlossing, terwyl die Europese ervaring een van Protestantse konserwatisme is met antirevolusionêre ondertone. Die Derde Groot Ontwaking vind ook tydens die tweede helfte van die 19de eeu in Kanada, Amerika en Australië plaas, met ’n sterker aksent op persoonlike verbintenis en verantwoordelikheid as op emosie. Daar is dus ’n sterker etiek in geestelike belewenis.
Terwyl die groot herlewings van Amerika gedurende 1857–1860 voorkom, begin daar ook in 1860 die landswye herlewing in Suid-Afrika, met dieselfde eienskappe van Gees-uitstortings as in Amerika. Dit is ook die begin van die pinksterbewegings, maar ook van die kenmerkende pinkster-bidure wat tot onlangs nog in die NG Kerk getrou gehandhaaf is. Hierdie tendens duur voort tot in die 20ste eeu. Suidoos-Asië ondervind sterk charismatiese herlewings in 1977.
Alhoewel nie volledig nie, dui hierdie oorsig daarop dat herlewings spirituele verskynsels is wat nie noodwendig korreleer met sosio-ekonomiese, historiese of politieke toestande nie. Geloofspatrone en -tendense sou wel kon saamhang met denkstrominge en ’n denkklimaat, maar hierdie kommentaarstuk het nie getuienis versamel om dit na behore te toets nie.
’n Hipotese mag wel wees dat die denkklimaat in Suid-Afrika veral sedert demokratisering in 1994 sodanig op menseregte ingestel is dat die geykte en ouer sosiale sanksionering van menslike gedrag in onbruik verval het. Geen nuwe sosiale norme en waardes wat effektief sou wees in ’n nuwe konteks is in hulle plek ingestel nie. Of selfs ook: nuwe interpretasies van outydse waardes het nie voldoende na vore gekom om mense (mans) te help om nuwe situasies te hanteer nie.
Volgens verskeie ouer sosiologiese verklarings vir die leeftydsgaping (generation gap) in die swart bevolking van Suid-Afrika wat met meer universele skoolonderwys, trekarbeid en verstedeliking ontstaan het, was die tradisionele kulturele uitkyk en praktyke van die ouer landelike swart gemeenskappe nie in staat om doeltreffende ouerleiding in die steeds patriargale samelewing te skep vir ’n jonger geslag van veral seuns wat aan nuwe sosiale eise blootgestel is nie. Hierdie ineenstorting van ouerlike gesag (lees ook: die rol van die tradisionele man) het meegebring dat seuns hulle rolmodelle in die kriminele en bendewêreld gevind het. So is ’n geslag van geweld-georiënteerde mans in hierdie gemeenskappe gekweek.
Die ineenstorting van ’n doeltreffende onderwysstelsel, eers met die jeugopstande gedryf deur die slagspreuk “Liberation before education” en later voortgesit in ’n kultuur van gemeenskapsanargie (“making society ungovernable”), en uiteindelik gemeenskapsopstande teen swak of geen openbare dienslewering nie, het meegebring dat die kultuur van geweld oorheersend geword het.
Demokratiese waardes vir ’n vreedsame, regverdige, nieseksistiese en nierassige bestel word tot op hede nog nie universeel aanvaar nie. ’n Mens sou kon beweer dat fundamentele waardes soos respek vir die lewe en die waardigheid van die persoon skynbaar (nog) nie ’n neerslag in die menslike gees sedert die aanvaarding van die grondwet en menseregte gekry het nie.
Saam hiermee het die opkoms van vroueregte en die beginsel van geslagsgelykheid die tradisionele posisie van die man in allerlei sosiale verbande (die gesin inkluis) begin uitdaag. Hierdie uitdaging het veral die wit man direk geraak (alhoewel nie uitsluitlik nie3), veral as onthou word dat regstellende aksie aanvanklik ’n uiters gunstige geleentheid vir die wit vrou (wat reeds betreklik goed geskool was en gevorderde beroepe kon betree) as een van die aangewese groepe gebied het.
Daarbenewens is die huidige groep mans in die wit bevolking van 40 jaar en ouer ’n geslag van mans met ’n geheue en oriëntasie van diensplig en oorlog wat toenemend gebrandmerk word as ’n ongeregverdigde militêre aksie. Dit sou kon lei tot verdere frustrasie en ’n gevoel van geringskatting vir persone wat hul lewens op die spel geplaas het vir ’n ideaal wat haglik misluk het.
Die bogenoemde tendense het nie alleen die “tradisionele gesagsposisie” van die (wit) man aangetas nie, maar hom toenemend begin uitsonder as ’n “negatiewe” teikengroep – hulle is nou nie meer die voorkeurkandidate vir leiers- en bestuursposisies nie.4 Wit mans het toenemend sekuriteit van ’n gesalarieerde werk verlaat en eie besighede opgerig.
Die wisselvalligheid van die ekonomie, en veral die finansiële insinkings in die eerste dekade van die 21ste eeu, het hierdie mans verder ’n kwesbare groep gemaak. By hulle het ’n lewenstyl ontstaan waarvolgens dag-tot-dag-oorlewing ’n norm geraak het. Die frustrasie dat die openbare sektor nie alleen ’n ontoeganklike mark vir die wit man geword het nie, maar ook ’n toonbeeld van korrupsie en ondoeltreffendheid geraak het, het verder ook die versoeking by vele mans geskep om self “kortpaaie” te begin neem.
Dit is geen wonder, in die lig van hierdie sosiale konteks, dat daar soveel gunstige reaksie by baie mans was vir geestelike vernuwing en nadenke nie.
Die redes vir gewelddadige optredes en onsosiale gedrag deur sommige mans sou dus gesoek kon word in hulle kwesbare sosio-ekonomiese situasie en in die agteruitgang van die gesinstruktuur en onderwysstelsels. Dit is waarom die vernuwing en opbou veral op hierdie terreine fokus. Geestelike vernuwing moet egter nie geringskat word nie. Na die getuienis in Buchan se boek is dit dikwels die vonk wat ’n veldbrand van nuwe waardes en gedrag meebring.
Eindnotas
1 Angus Buchan (2012), Die Mighty Men Verhaal, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.
2 Die Bybelse liefdesgebod word in ’n kernformulering saamgevat en handel oor onderlinge liefde in Johannes 15:9-17, veral vers 12. Die gedeelte skaf ook hiërargiese verhoudings af waarin mense onder- en bowegeskik is (sien vers 15).
3 ’n Vriend van my stel dit so: “Under Apartheid I was discriminated against because I was a black person; under Democracy I am discriminated against because I am a man.”
4 Hoe sterk hierdie voorkeurposisie in die verlede was, blyk daaruit dat opnames vandag steeds wit mans as ’n hoë-inkomste-groep en as ’n dominante groep in leidinggewende en bestuursposisies aanwys.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


Kommentaar
Dankie,
Het die artikel baie geniet.