Titel: People I Made Music With; Candid musical memoirs
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200551
Bladsye: 143
Prys: R150
Daar is geen vaste formule om ’n outobiografie of memoires te skryf nie. Solank dit interessante leesstof is, het dit meriete. In die Suid-Afrikaanse musiekwêreld is die dirigent David Tidboald ’n openbare figuur, maar sy lewe weg van die orkespodium was altyd diskreet privaat gehou en daarom het hy verkies om sy herinneringe in die vorm van byna veertig kort essays met lesers te deel.
’n Suksesvolle dirigent moet altyd gesag afdwing, anders sal ’n groot groep eiewys musici nooit na hom of haar luister nie, en David Tidboald had die professionele waardigheid vir sy beroep. Ek het hom leer ken as iemand wat altyd ’n professionele afstand gehandhaaf het, maar ek was altyd bewus van die feit dat daar ook ’n kritiese en dikwels gevatte Tidboald agter die openbare masker skuil.
Die Britte, dalk meer as die meeste ander nasies, hou daarvan om subtiel met woorde te speel, veral as hulle fyn kan spot. Tidboald gebruik sy talent om iets haarfyn te beskryf tot voordeel van die skerpsinnige leser. Dit geld ook sy sarkasme, kritiek of spot met mindere kunstenaars, of net die interessante kykie op die onbekende kant van ’n bekende musikus.
Elke essay is eintlik ’n reeks anekdotes. Die probleem met anekdotes is dat dit altyd uit die verteller se hoek geskryf word en dikwels maar een weergawe van die werklikheid bly.
Tidboald se sin vir humor, ironie en selfs spot kom subtiel na vore in hierdie essays. Hoe dan ook anders as dit by ’n sangeres soos die dramatiese sopraan Cecelia Wessels kom? En as mens een van haar sogenaamde staaltjies oorvertel, wie gaan luister as mens nie ’n bietjie suiker of sout na smaak oorgooi nie!
Sy keuse van musici is veelseggend. Die meeste van hulle is reeds dood. Die dooies kan jou nie weerspreek nie. Wie onthou in elk geval (na veertig of vyftig jaar) presies wat iemand gesê het? As ’n aanhaling effens aangepas word om dit meer effektief te maak, sal niemand ’n bohaai daaroor maak nie. Dié slaggat word slim omseil deur parafrasering. Mens dink jy lees die presiese aanhaling, maar omdat dit nie tussen aanhalingstekens staan nie, kan niemand stry nie.
Tidboald het die grootste deel van sy professionele lewe as dirigent in ’n kultureel geïsoleerde Suid-Afrika gewerk, maar hy kies, met die uitsondering van vier Suid-Afrikaanse soprane – Joyce Barker, Mimi Coertse, Marita Napier en Cecilia Wessels – en twee plaaslike orkeste, legendariese internasionale musici in wie musiekliefhebbers oor die hele wêreld heen belangstel: dirigente soos John Barbirolli, Adrian Boult, Wilhelm Furtwängler; sangers soos Katlheen Ferrier, Birgit Nilsson en Victoria de los Angeles; pianiste soos Moura Lympany, John Lill en Gina Bachauer; en dansers die formaat van Alicia Markova en Margot Fonteyn.
En hoewel hy geen groot onthullings oor dié internasionaal bekende musici maak nie, is daar altyd ’n persoonlike staaltjie wat waarskynlik nog nooit te boek gestel is nie. Soms word ’n beroemde naam aan die hare bygesleep, maar die vertellings is steeds interessant en baie amusant aangebied. Die essay oor byvoorbeeld die beroemde pianis Gina Bachauer sê nie veel oor haar nie, maar weef besonderhede oor ander kunstenaars en musiekliefhebbers in Kaapstad in die vertelling in.
Ek ken haas geen musikus wat resensente ernstig opneem nie, maar weet dat elke musikus ’n goeie resensie heimlik koester en dikwels diep gekrenk voel oor kritiek of ’n oningeligte mening. Tidboald het uiteindelik die kans gekry om kommentaar te lewer oor musiekkritiek in die plaaslike pers. Wie kan dit dan weerstaan om ’n hou in te kry teen ’n joernalis soos Antoinette Silvestri? In die dae toe The Cape Argus nog resensies oor musiekkonserte geplaas het (helaas, die enigste eenmalige kultuurgebeurtenisse wat die koerant deesdae “resenseer”, is sportwedstyde!), het Silvestri dikwels die een solis met ’n ander verwar en sover ek weet, een keer ’n verslag geskryf oor ’n konsert wat gekanselleer is. Tidboald se hoofstuk oor die resensente is bloot ’n aanknopingspunt om te verduidelik hoe hy as dirigent in Kaapstad beland het.
In die essays oor die twee orkeste wat hy in Suid-Afrika op die been gebring het, die destydse Kruik-Orkes en die Natal Philharmonic (deesdae die KZN Filharmoniese Orkes), sê hy verbasend min. Dat gehore en orkesmusici moeg raak vir ’n vaste dirigent is ’n voldonge feit en geensins ’n refleksie op die gehalte van sy werk nie. En enige musikus in ’n gesagsposisie maak uiteindelik ’n paar vyande. David Tidboald was geen uitsondering nie. Sy effense misnoeë met Kaapstad is tussen die reëls te lees en mens kan hom nie kwalik neem dat hy ietwat bitter is oor die wispelturigheid van plaaslike musici en musiekliefhebbers nie.
Hierdie irritasie vind neerslag in etlike neerhalende aanmerkings oor die Afrikaanse kultuur, of oor stiksienige Afrikaanssprekende politici of besluitnemers – asof sy lot in Suid-Afrika deur ’n minderwaardige kultuur aangetas is. Dit is dikwels in ligte trant – Tidboald se goeie maniere sou nooit toelaat dat hy kwetsende aanmerkings maak nie – maar dit is tog aanwesig. Om na Afrikaanse kunsliedere te verwys as “liedjies” is tog onsinnig. Veral nie in die konteks van Mimi Coertse, wat so ’n groot bydrae tot die erkenning van die Afrikaanse kunslied gemaak het nie.
En al is dit ’n informele, nie-akademiese boek, is dit jammer om klein foutjies op te let: Carl Pohl se naam wat verkeerd gespel word (p 115) of die onvolledige naam van die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes (p 100).
Die boek word afgesluit met ’n klompie interessante foto’s, waarskynlik weens koste tot die minimum beperk. Nog ’n jammerte. Interessante historiese foto’s vertel hul eie stories en heelwat meer foto’s sou ’n welkome bydrae tot die reeds yl Suid-Afrikaanse kultuurrekord kon maak.


