André le Roux lê die absurditeite van ons bestaan treffend bloot

  • 0

Titel: Kom ons sit sommer by die tafel
Skrywer: André le Roux
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN-nommer: 9780798149242
Publikasiedatum: Maart 2008
Aantal bladsye: 288


Klik op die omslag van die boek om jou eksemplaar by kalahari.net te bestel.

In 1987 het André le Roux 'n opskudding in die Afrikaanse prosa veroorsaak met die publikasie van sy bundel dokumentêre fiksie onder die titel Sleep vir jou ʼn stoel nader (voortaan Stoel). Nou, bykans 20 jaar later, volg hy dit op met Kom ons sit sommer by die tafel (Tafel). Aangesien sy eerste bundel heel waarskynlik uit druk uit is, is dit ingesluit by die huidige bundel – maar ook om die oor-en-weer intratekstuele gesprek te vergemaklik.

Ek moet egter toegee dat die huidige bundel sonder die insluiting van laasgenoemde maar effentjies daar sou uitgesien het, want Le Roux skryf volgens dieselfde resep as die een waarmee hy destyds sukses behaal het en die nuwe versameling het nie dieselfde trefkrag as die eerste uit 1987 nie.1

Le Roux se tekste speel veral af in die eietydse Suid-Afrika met sy stedelike onrus en geweld en fokus grotendeels op gewone mense se stryd om voortbestaan. Wat die naasmekaarplaas van Stoel en Tafel veral vanuit ʼn ideologiese invalshoek interessant maak, is dat mens die destydse politieke toneel kan vergelyk met die huidige stand van sake; veral aangesien Stoel grootliks afspeel in die dae van PW Botha en die masjinerie van apartheid. In “Laat ek jou nog ʼn ding vertel …” (24) word juis verwys na “PW wat soos ʼn seer vinger uitstaan”. En in “Richard skryf” (180) word daar dinge opgenoem wat eie was aan die PW-regering. Op p 96 word selfs van PW se doodsberigte wat in 2006 verskyn het, ingesluit. (Miskien kan iemand ʼn tesis skryf oor die uitbeelding van PW in die Afrikaanse letterkunde, want daar is nogal heelwat stof hiervoor te vinde.) Soos die titel aandui, besin “Wat het geword van die korporaal wat ook in Angola was” (146) oor hoe die korporaal die lewe in postapartheid Suid-Afrika beleef.2

Die karakters in Tafel kom ook oor en weer voor in die onderskeie verhale, en selfs van die karakters, soos Prudence Potgieter uit Stoel, kom ook voor. Dit maak van die lees van die verhale ʼn heel avontuurlike spel. So begin die bundel byvoorbeeld met die storie van die Weduwee Celliers, maar later kom sy weer voor in die teks oor die begrafnis. Dit is ook in die teks van Prudence Potgieter dat die karakter Beauty voorkom, wat moet dien as skakel tussen die twee wêrelde van die voorstad en township.

Seker die verkwiklikste karakters in ʼn storie in ʼn lang tyd is die dwerg en die reus/ Hulle kom vir die eerste keer voor in “Jy loop altyd vir my weg!” (26). In “Sea of heartbreak” (192) kom hulle weer voor en is hulle op honeymoon sonder K-Y jelly. Of op die sypaadjie in Sandton, waar ons verneem dat die dwerg se naam Voëltjie is.

In ʼn teks wat sterk herinner aan “American History X”, getiteld “Die gesuis van die nuwe Suid-Afrika” (187), word die paranoia van die Suid-Afrikaanse leefstyl treffend uitgebeeld. Die stereotipes word omgedop en die teks eindig op ʼn besonder wrange wyse.

Dikwels werk Le Roux met bekende stereotipes en gegewens en keer dit dan om ter wille van spanning en effek. So verwag mens byvoorbeeld dat die dogter op haar ma se bebloede lyk gaan afkom (39), maar dan is die antie rustig besig agter in die tuin.

Wat ʼn mens veral bybly van Le Roux se eietydse blik op ons land, is die geweldige absurditeite wat voorkom – van mense wat oranje onderbroeke moet dra in Orania tot die verhaal van die man wat sy selfoon laat val het en dit, getrou aan die reëls en regulasies van die sekuriteitswese, moet inlewer (85).

Of hoe maklik dit geword het om iemand dood te maak. Die skreiendste is seer sekerlik die omstanders se traak-my-nie-agtigheid, want geweld het iets alledaags geword. Soos die boodskap op die seun in Gugulethu se T-hemp lui (53):

WELCOME TO SOUTH AFRICA
DUCK MOTHER FUCKER.

Le Roux se karakters met hulle verkramptheid, hulle pogings om die nuwe politieke bestel met sy Nqakulas en Yengeni's te verstaan, hulle soeke na sin in ʼn gewelddadige politieke bestel en hulle gryp na die charismatiese kerke, herinner sterk aan dié figure wat ons in Ons is nie almal so nie en Triomf teëkom. Dis ʼn segment van die Suid-Afrikaanse samelewing wat hom sterk tot die satiriese leen, maar wat ook dien as ʼn tipe spieëlbeeld vir diegene wat dink hulle is liberaal, hulle is verlig en hulle het al daardie issues al getransendeer.

EINDNOTAS

1. Mens kan maar net agterop die uitgawe onder bespreking kyk om te sien watter belangrike rol Stoel in die destydse prosa gespeel het. Aangesien die boek in die polities onstabiele tagtigerjare verskyn het, is dit opvallend dat daar vrees was dat die boek verbied sou word; waarskynlik oor die verhaal van die skoolhoof (opgeneem op p 266 in die huidige versameling).

2. Hierdie is ʼn fassinerende tema. In die Duitse literatuur word daar byvoorbeeld besin oor wat van die Nazi-bevelvoerders geword het aan die einde van die oorlog in 1945. Die tema is beslis nog nie genoegsaam ontgin in Afrikaans nie, miskien vanweë die feit dat ons die verlede wil verswyg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top