Ander lewens: ’n spel met die onwaarskynlike of nierealistiese

  • 0

Ander Lewens: ’n Roman in Drie Dele
André P Brink
Human & Rousseau
ISBN: 9780798149259
Hardeband met stofomslag
256 pp
R165

Klik hier en koop jou eksemplaar van Ander Lewens: ’n Roman in Drie Dele nou van Kalahari.net!

Met die bekendstelling van Random House se nuwe uitgewersnaam, Umuzi, in 2006 het André Brink die kort opdragwerk Die blou deur / The Blue Door geproduseer. Dit het die beginpunt gevorm vir sy jongste publikasie, Ander lewens, waarin Die blou deur nou gekombineer word met twee ander novelles om ’n losse samehang te vorm. Die manlike vertellers in elk van die tekste is kunstenaars (’n skilder, argitek en pianis onderskeidelik) en hulle vertellings is deurspek van erudiete verwysing na hierdie kunste. Verder haak die verhale inmekaar deurdat sommige van die karakters in die verskillende verhale mekaar ken en omdat Kaapstad die dominante ruimte in die vertellings is. Deur hierdie interaksie van die verskillende novelles kry die leser die geleentheid om bepaalde gebeure vanuit meer as een verteller se perspektief te sien. (Presies waarom die karakter Lydia se ouers in die eerste novelle die Laubschers is en in die tweede die Dreyers word, kom ’n mens egter nie agter nie.)

Elkeen van die drie novelles speel ook ’n spel met die onwaarskynlike of nierealistiese. ’n Mens sou byvoorbeeld Die blou deur kon lees as ’n uitbeelding van twee alternatiewe realiteite wat naas mekaar bestaan, byna op die manier van Schrödinger se kat. Die verteller David ontmoet as jong skilder die bruin meisie Embeth, met wie hy ’n verhouding ontwikkel, maar hy het nie die moed om haar na die buiteland te volg waar hulle verhouding wettig sal wees nie. Hy trou later met die argitek Lydia en gaan voort om te skilder in ’n kothuis-ateljee waarvan sy aanvanklik nie weet nie. Wanneer hy eendag die blou deur van die kothuis oopsluit, vind hy daaragter ’n alternatiewe realiteit met ’n volledige huis waarin hy woon saam met sy vrou Sarah (wat bruin is soos wat Embeth was) en hulle twee kinders. David verwys vroeër daarna dat iets ná die vertrek van Embeth altyd “onvervuld, onvoltooid, ondenkbaar” gebly het. Waar sy lewe saam met Lydia ’n rustige en geroetineerde bestaan is, vervul en voltooi die alternatiewe lewe saam met Sarah die moontlikheid van ’n lewe saam met Embeth. Interessant genoeg word daar erkenning gegee aan beide hierdie alternatiewe realiteite deur terloopse verwysings in die ander twee novelles sodat die moontlikheid dat beide bestaan, gehandhaaf bly. Sekere eksplisiete leidrade, soos Sarah se aanhaling uit Murakami se Sputnik Sweetheart,waarin die hoofkarakter tussen verskillende dimensies beweeg, word in die teks geplaas om die leser te lei.

Wanneer David aanvanklik probeer terugkeer na die woonstel wat hy met Lydia deel, word dit ’n Kafka-agtige nagmerrie met verdiepings wat ontbreek en trappe wat op hulleself terugsirkel in die donker (die woonstelblok is die maaksel van die argitek-verteller in die tweede novelle wat daarna verwys as geïnspireer deur Esscher). ’n Tweede keer is die woonstelblok glad nie daar nie, sodat hy moet terugkeer na sy lewe met Sarah. Die slot vind hom weer eens voor die deur, wat dié keer geel geverf is, met ’n gevoel van hartseer oor dit wat hy verloor het en ’n gebrek aan sekerheid oor wat vir hom wag. Ten spyte van die beperkte omvang van die novelle slaag Brink wel daarin om iets van die bevreemdende werking van David se ervaring vas te vang.

Die tweede novelle, Spieël, vertel wat volg wanneer die argitek Steve een oggend in die spieël kyk en sien dat hy nie meer wit is nie, maar swart. Verhaalmatig is dit ’n gedurfde sprong wat die skrywer in staat stel om sy selfversekerde, wit, manlike verteller se idees oor identiteit op die proef te stel, ’n proses waarin die spieël ’n veelvlakkige simboliese rol speel. Dit is egter ook ’n stap waarmee hy die leser se “suspension of disbelief” ten seerste beproef. Die vreemde van die verhaal wat volg op Steve se ontdekking dat hy swart is, is dat dit lyk asof die kleurverandering nie opgemerk word deur sy kollegas of deur sy vrou Carla en sy twee kinders nie. Die mense wat hom wel as swart sien, is ’n groep bergies en die gesin se Duitse au pair Silke wat as voorspel tot ’n wilde paring vir hom sê dat sy van sy velkleur hou. Alhoewel Steve wonder oor die implikasies wat die verandering van velkleur vir sy sin van self het, is dit opvallend dat die skrywer hom laat reageer op maniere wat suggereer dat die swart velkleur aan hom attribute gee wat hy nie vantevore gehad het nie, soos aggressiwiteit, gewelddadigheid en onbeheerste seksuele drif. In sy onderhandelinge met kollegas op ’n bouterrein is hy baie meer aggressief as vantevore, in die konfrontasie met die bergies reageer hy met ’n gewelddadigheid wat hy nie ken nie, en wanneer hy seks het met die Ariese blondine Silke is hy – in sy eie woorde - die argetipiese “black stud” wat die “fokken wit teef” seksueel moet oormeester. Wanneer hy en sy vrou saam met ander die slagoffers word van ’n gewapende roof in ’n restaurant, vra sy hom om met die Xhosa-sprekende aanvallers te praat omdat hy “een van hulle is” (Ingrid Jonker se gedig “Die kind” word op ironiese wyse opgeroep in die beskrywing van een van die aanvallers as ’n “reus” wie se “skaduwee swart en swaar uit[plas] oor al die mure, die plafon, alles”). Deur die fokus op hierdie insidente lyk dit asof Brink die invloed van ras op identiteit sien as iets wat sigself uitspeel op ’n primale vlak wat te doen het met dinge soos inherente gewelddadigheid en seksuele drif eerder as wat hy probeer ondersoek of dit verband hou met kulturele, historiese en sosiale faktore. Sy waagstuk met hierdie novelle is myns insiens nie geslaagd nie, omdat ’n mens onseker bly of jy die novelle moet lees as ’n voorstelling van die konkrete werklikhede van rasbepaalde identiteit of as ’n Jungiaanse manifestasie van die verteller se “dark side”.

Die verteller in die laaste en kortste van die novelles, Appassionata, is die pianis Derek. Hy word met vinnige hale geteken as ’n verydelde kunstenaar wat nie wêreldroem as pianis kon bereik nie en nou veral ’n begeleier en leermeester is. Hy is egter ook ’n lewensgenieter wat hom oorgee aan die plesiere van musiek, kos en vroue. Hy raak dan ook hartstogtelik verlief op Nina Rousseau, ’n wêreldberoemde sangeres met ’n donker verlede, wat nie wil toegee aan hom nie. Anders as vir Derek, is daar vir haar ’n spanning tussen kuns en seks: vir haar sou ’n oorgawe aan haar eie sensualiteit en seksuele begeerte haar kuns doodmaak. Die verhaal bereik sy swoel hoogtepunt op Nina se familieplaas Lammermoor in die Tulbagh-omgewing, waar die verlede swaar dra aan dramatiese gebeure en daar dus ook spoke dwaal. Dit is byna onvermydelik dat die langverwagte vervulling van Derek se begeerte vir Nina binne hierdie gelade omgewing vir hom noodlottig sal wees.

Die styl van hierdie novelle word enersyds bepaal deur die titel se verwysing na Beethoven se donker en passievolle klaviersonate, maar ook deur die melodramatiese aard van die operas waarna deurgaans verwys word. Dit word aangevul deur die byna barokke beskrywings van al die vroue met wie David deurmekaar was, die interieure, die kos, die grieselrigheid van die familieplaas en Derek se dood aan die hand van ’n spook-vrou. Alhoewel hierdie bonatuurlike element in die slot in pas is met die styl van die novelle, voel ’n mens tog dat ’n realistiese slot veel sterker sou gewees het.

Ten slotte blyk dit dus dat die drie novelles op heeltemal verskillende maniere funksioneer ten spyte van die oppervlakkige raakpunte. Naas die onderlinge verskille dra elkeen van die novelles ook kenmerke van Brink se groter oeuvre. Die belangrikste voorbeeld hiervan is die wyse waarop die seksuele gebruik word as die terrein waarop bepaalde vraagstukke in die romanwêreld uitgewerk word: David se bevreemdende ervaring van die alternatiewe realiteite blyk veral wanneer hy by Sarah moet slaap; Steve se vraag oor die wyse waarop sy identiteit beïnvloed word deur sy swart velkleur, word onder andere beantwoord deur die toneel waarin hy seks het met Silke; Derek se kunstenaarskap en hy self gaan uiteindelik ten onder aan sy seksuele drif.

Dit is miskien te verstane dat hierdie novelles met hulle beperkte omvang die indruk sal skep dat hulle vingeroefeninge is vir ’n romansier wat hom al bewys het as iemand wat ’n groot omvang kan kombineer met diepte. Hierdie geleentheid gun Brink homself nie in hierdie publikasie nie, sodat die leser, ten spyte van die gebruiklike vlotheid en digtheid van sy vertellings, nie heeltemal bevredig word deur hierdie tekste nie.

  • Hierdie resensie is onlangs op Fine Music Radio uitgesaai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top