“Amperdaar” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Amperdaar
Haar laaste versoek lê swaar op my hart. En die sperdatum is môremiddag twaalfuur.
Op my lessenaar lê alles uitgepak. Aan die een kant is die papiergoed, bo-op ’n swart sagtebandboek met die maatskappy se naam wat my op die laaste dag van die maand van my sestigste verjaardag gegroet het, ietwat abrup – ek dog ek kon nog aanhou tot 65 – en heeltemal empatieloos.
Regs wag my skootrekenaar oopgevou, ook eens ’n maatskappybesitting. Op my laaste dag sê my toesighouer: “Hier, vat dit maar, daar gaat jy ...” ’n Krummel van die tafel af, wat ek dankbaar opgeraap het ... en toe vir maande laat staan het. Onaangeraak. Eintlik het ek dit vermy, nie eens naby die lessenaar gekom nie. Noudat ek daarna kyk, sien ek katspore op die stowwerige swart deksel.
Sal ek, soos voorheen, die pen opneem? Die swart boekie lyk so vernaam. Formeel. En geslote. Nee, my hand het dom geraak; my vingers is nou tuis op die gladde swart klawers en my verbeeldingsvlugte sweef in die kuberruim rond. Papier is gister, soos klei en perkament voor dit. Die toekoms, myne ook, lê dáár. Daar waar woorde sal gaan waar niemand nog was nie, soos die Starship Enterprise. Maar het ek die moed om te gaan ontdekker speel? Dalk ontdek ek net dat ek nie moed het nie. Maar, soos Adri geweet het, is beloftes – en spertye, eintlik ís spertye beloftes – vir Jacobus Jensen, nou oud-joernalis, ’n kompulsie.
Ek skuif my reg op my ou kantoorstoel. Soos een wat iets wil bespring. Ek wil my hart uit tik oor wat vanoggend daarin broei, terwyl motors onder my venster deur swiep oor ’n nat teerstraat. Daardie geluid klink soos sweepslae deur bloed getrek. Heen en weer. Dit kom aan; dit vervaag. En herhaal. Dawerende stilte. Herhaal. The maddening crowd passes through, dink ek. Snaaks hoe ’n wolkbedekking bekende geluide verwring en dan as ’n eggo uitgooi.
My hande bly bokant die sleutelbord hang. Soos ’n Tyrannosaurus rex sit ek, glurend na die skerm, asof ek luister na stemme wat instruksies moet gee. Of dalk die geluid van ’n aankomende komeet? Hoe sal dit klink? Een wat groot genoeg is om sommer met een slag alles en almal wat verouderd geëtiketteer word, van die planeet af te veeg.
In die stilte hoor ek vir Koos du Plessis. Voel met hom een. Verwarde siel wat wonder: Wat nou? Ek sien kranse van beton en swart riviere, sprokies en dwergies wat reën uitgooi ... die reënboog wat ek net-net in die verte kon sien, is weg. Waar Koos, wáár is die blou saffiere en gebreekte son? Ek sien net die stof en roet waarvan jy sing, Koos.
Dit begin harder reën. Die straat blink selfs nog helderder in die vals lig van die verbergte namiddagson. Vlae wind vul nou die stilte wat voertuie agtergelaat het, asof almal reeds uitgekom het waar hulle wou. Miskien by familie, dalk by vriende wat instaan, daardie moontlike en onmoontlike leemtes vul. Minstens vir ’n dag of twee.
Ek huiwer, ek huiwer. Waar ... hoe sal ek begin?
“Die Groot Dae” noem ons hulle. Dae wat jou laat klein voel. When we were small and Christmas trees were tall ... Ja, en daar’s die musiek ook nog. Uit die bure se huise sal dit nou-nou begin opklink, my koggel omdat my huis stil is. Boney M. Johnny Cash. Michael Bublé. Celine Dion. Later nog sal al die TV’s inspring met Christmas Specials.
’n Litanie van lanferliefde, dink ek. Het ek dit by Adri gehoor? En wat sou dit beteken? Eintlik niks. As ek dan moet allitereer, wat van ’n Kerskakofonie? Vandag dring woorde hulself aan my op, soos tieners by ’n rockkonsert. Vanwaar sou hulle kom?
Ek wend my tot Google, die ensiklopedie van die boekloses, en daar staan dit: “The Muses were nine goddesses in ancient Greek mythology and religion who inspired the arts, literature, and science. They were believed to be the source of knowledge for the poetry, myths, and songs passed down orally in ancient Greece.”
Ou-kei, dit maak nog minder sin as ’n ou man wat steeks bly vasskop teen die onvermydelike, soos ’n dorpsidioot wat ’n gekraakte damwal met ’n sif probeer las.
Ek tik: “Dit is Kersfees. Laasjaar het Adri ’n verhaal daaroor geskryf. Sy was ’n skrywer. Oor die liefde, waarvan sy baie geweet het. Romanzas. Drie, vier per jaar. En kortverhale in die tydskrifte. Sy het nooit gesukkel om idees te vind nie, maar wel om spertye te haal. Wanneer my senuwees opgeraak het en ek haar aangejaag het, was haar antwoord altyd: Amperdaar.”
Ek was ook iemand wat met woorde omgegaan het. Wel, nog steeds, maar al minder. ’n Afgetrede misdaadverslaggewer wat minder skryf terwyl misdaad meer word en hom meer daaroor verknies, al word sy stem, en stemme soos syne, dowwer in die woesterny waarin nog net flenters van wet en orde soos geskeurde onderbroeke in hakiesdraad wapper.
Mooi man, sulke snert sou jy nooit by ou Scholtz aanbring nie. “Jy haal die skat uit skatologies, Jacobus Jensen!” sou hy bulder en my met ’n kramdrukker gooi. Subredakteurs ... altyd beneuk, leef mos op Camels en koffie.
Nee, geen tydskrif of koerant sou mý vra om ’n Kersverhaal te skryf nie, want diegene in die bedryf wat my by sodanige publikasies mag ken, sal een ding weet, naamlik dat hulle nié sal weet wat om te verwag nie. En redakteurs moet gate vul, nie kanse vat nie. Dis reg so, ek verstaan. Kersverhale werk immers volgens ’n vaste formule.
En dis hier waar ek uit die bus val: Ek ken nie die formule nie; ek weet net dit behoort oor medemenslikheid te gaan, en dis ook hoe ek die boodskap van Christus interpreteer. Met medemenslikheid bedoel die meeste mense natuurlik dat dit oor jou medemens moet gaan. Een mens se toegeneentheid jeens ’n ander mens. Dís mos medemenslikheid. Reg? “Don’t overthink, Jacobus,” dié slag ou Miss Nightingale, deur ons herdoop na Old Miss Nightmary, my Engelse onderwyseres wat rooi strepe en kringe dwarsoor my opstelle krap en prewel: “What were you THINKING, Jacobus? Why are you ALWAYS thinking, Jacobus? Where is the EMOTION?”
Verder verbeel ek my dat daar dikwels ’n vreemdeling in sulke Kersverhale figureer. Nie altyd letterlik nie. Soms gaan dit oor familie wat dalk vervreemd was. ’n Verlore seun, miskien? Of ’n wegloop-pa wat terugkom, of eerder kruip. Soos ’n brandsiek brak met sy lunsriem-stertjie tussen sy bene. Knyp-knyp.
Alles oor die dinamika van verhoudings, die seer-onthou van bespiegelings, beledigings en beloftes. Die tradisies van families en subkulture van gesinne. Tolstoy was so reg toe hy van die eendersheid van gelukkige families teenoor die uniekheid van die ongelukkiges gepraat het. En tog, lê die verskil nie net daarin dat die gelukkiges dit regkry om hulle geraamtes dieper te begrawe as die ander nie? Hoe het dit oor die eeue verander? En doen mense van verskillende kulture dit anders as elders of as lank terug?
En dan moet die storie eindig met ’n warm gevoel in die leser se hart, indien ook nie ’n traan of drie nie. Vir sommiges dalk uit eensaamheid, vir ander uit dankbaarheid of verligting. Ek wonder waar ek inpas? Adri, hoe het jy dit gedoen?
Eensaamheid. Altyd het ek daarop geroem dat eensaamheid vir selfbejammerende slapgatte is. Alleenheid is iets anders; dit behoort gekoester te word. En hoe dikwels het ek nie na ruimte en stilte en, ja, alleenheid, gesmag wanneer die gerammel van tikmasjiene die kantoor oorspoel het nie. En toe, toe rekenaars inkom, of insluip, was dit weer te stil. Tot ons, ek, ook dááraan gewoond was.
Stemme in my kop. “Die landskap verander en die gister was ’n ander land,” het ou Scholtz, die senior sub, dikwels gebrom. “Maar,” het hy bygevoeg, “máár spertye sal daar altyd wees.” Hy het sekerlik ’n sadistiese genoegdoening daaruit gekry. Maar nou is hy ook al onder die kluite. Ou Brombeer tussen die molle. So koerantloos soos ons ander deesdae bokant die grond ook is.
Wel, vanoggend maak ek die voordeur oop om broodkrummels vir die voëls in die voortuin te gooi, en ek doen dit altyd terwyl Adri se twee grys, streepkatte, die sibbe Tinkie en Jorsie, in die agterplaas is.
Ek wil immers iets vir die voëls doen, nie vir die blêrrie katte nie – wanneer hulle voëls vang, aanvaar ek dit, hoewel bra teensinnig, as hulle natuur, maar ek probeer steeds die prooi afneem en red as dit nog gered kan word.
Maar so wragtig, hier sit een van die katte dan al by die waterbakkie langs die voordeur. Ek het reeds die krummels uitgegooi en dit lê nou oor die inrit gestrooi, maar die vinke, mossies en duiwe sal nie kom eet terwyl die kat daar is nie. So, ek roep hom in. “Jorsie, kom in, jou swerkater!”
Maar hier antwoord Jorsie dan agter my in die ingangsportaal. Verontwaardig, dog met die ewige hoop op meer kos. Hy sal elke halfuur vreet as hy kon kies. Adri het hulle só bederf.
Dan is dit Tinkie. Hulle is feitlik identies, grys met strepe en sonder ’n kolletjie wit. Maar met die terugkyk na Jorsie, merk ek op dat Tinkie in die skuifdeur staan wat uit die braaikamer loop.
Kan jy glo, hier is nou drie grys streepkatte! En ek roep hom – of dalk haar – nog in ook! Die indringer stap vinnig weg en draai dan om, en ek sien wat ek nie wil sien nie: hoop in daardie oë. Ook weet ek onmiddellik wat aangaan.
Dis mos feestyd. Mense wil jolyt hou. Met die klem op mense – na die hel met die arme diere. Adri sou nou goedkeurend knik.
Nóg iets gaan deur my kop: Ek en Adri het reeds, toe ons die tweede van die aanvanklike vier muis-ketiers, Kelvin, die stompstert-gemmerkat, begrawe het (Iris, die swartetjie met die pluimstert is al ’n jaar onder die grond), besluit dat hierdie twee ons laastes sal wees. Ons was altwee afgetree, pensioenarisse sonder pensioen, en ’n ongekarteerde periode lê voor. “Ongekatteerde,” hoor ek Adri spot. “Katloos! Haha!” Sy en haar kwinkslae ...
Boonop onthou ek my mantra vir sulke gevalle, naamlik soms is jy jammer vir iemand, tot jy jammerder vir jouself is. Maar sies man, dis Krismis. En in hierdie verhaal, die een wat ek probeer bedink, is dalk nie ’n vreemde mens nie, en miskien nie medemenslikheid betrokke nie, wel tog menslikheid ...
Gaan daar ’n kat wees wat op Kersfees ’n tuiste gevind het? Sal nie kan sê nie, want beurtkrag het nou ingeskop. Ek móét afsluit. My krag, die gekoopte krag en Eskom s’n, is alles laag. Dikwels is dit ’n resies tussen die drie oor watter een eerste op is. ’n Pensioenaris se krag word in verminderende fondse, verminderende krag en dae gemeet. Maand vir maand wonder ek: Sal ek dit maak?
Dit reën ál harder. Ek hoor hoe drup dit eers by die afdak agter, dan die TV-kamer wat lankal sonder TV is, en dan dreigend, al harder in die slaapkamer waar die rooi emmertjie waarin Adri haar toiletries gehou het, nou wag. Op die kussing waar haar kop eens gerus het.
Los eers die getikkery, Jacobus. Af met die trap, vir rooibostee. Tinkie en Jorsie wag reeds onder in die kombuis. By die kas met die katkos. Deur die glasdeur sien ek haar. Dit moet ’n wyfie wees, want daar is ’n grasie in die lyfie wat net vroulik kan wees, intens starend.
My katte (mý katte?) ignoreer haar. Dit op sigself beteken veel: Sy sal kan inpas. Daar sal nie honende stemme en boggelrûe wees nie, net méér vrede en ’n nuwe dinamika. Die drie muis-ketiers en ek, hulle D’Artagnan. Alexandre Dumas het daardie ou verhaal, en nog twee oor dieselfde karakters, saam met ’n spookskrywer, Auguste Maquet, geskryf. Adri, in my geval.
Tinkie brom nie; sy eet haar pille. Jorsie soek reeds sy poeding: ’n bietjie lou melk. So hou ek hom besig, anders vreet hy haar kos ook. Ek vermoed dis meer uit jaloesie as honger – Tinkie het my gunsteling geword, stadigaan, amper ongesiens het sy my hart bekruip.
Die vreemdeling het verdwyn. Waar sy gesit het, sprei ’n poeletjie reënwater uit. Geen spore na die skuifdeur nie. Kon tog nie al verdamp het nie. Kon dit? Verlaat my kop my?
Wat sou Adri sê? Ek weet, ek weet. “’n Vreemdeling is ’n vriend wat jy (nog) nie ken nie.” Ék sou sê: “Die kat kom weer. Kyk maar.”
Die bure kry nou gees. Indien daar langverlore familielede opgedaag het, word hulle begroet deur Johnny Cash se stem wat heel vrygewig ook oor my agterplaas dreun: Pa-ram-pampam-pam ... En van oorkant die straat, soos ’n padda wat uit ’n bos antwoord, Bing Crosby met I’ll be home for Christmas. Dooie mense se stemme weerklink oor my erf ... Dit maak my bemoerd. Of is dit ontroerd? Net ietwat?
Wel, ék sal maar hier wees, vasgekeer tussen stemme en deuntjies. Maar nie alleen nie. Ha. Adri sou dit geniet het, dalk met minder sadisme as Scholtz, maar tóg. Nee, hier sit ek met drie katte. Drie, verdomp. En sy sou sê: “Jy is ’n ou softie. Maar jy is mý softie.”
Ek sukkel weer teen die trappe op. Met ’n glimlag én ’n traan. Muise is maar muise, maar katte, dink ek, is ook muse. Want ek hét ’n storie vir Adri se redakteur. Nie onder haar naam nie; niemand sal dít glo nie, maar dit was ook nie haar wens nie. Sy wou net hê ek moet ’n Kersverhaal skryf. Net om te wys hoe ver het ek al gekom.
Miskien moet ek maar vanjaar my broer bel. Net om háár te wys.
Ek lag, onhoorbaar bo die Kersliedere, en kyk na die spieël waar Adri haar grimering gedoen het. My lippe beweeg. “Amperdaar.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie