Net soos wat jou vriend, Cornelius Henn, ’n obsessie met Christene het, het jy lyk my die een of ander obsessie met Nieu-Seeland. Maak nie saak hoeveel keer mens jou probeer reghelp in jou dwalings nie, jou plaat haak eenvoudig vas.
Ja, ek het natuurlik gehoor van die joernalis wat vasgetrek is deur die owerhede in Nieu-Seeland. Hulle vat nie nonsens van misdadigers daar nie, en hulle doen alles in hulle vermoë om misdaad te voorkom. Misdaadvoorkoming behels soms dat mens verdagte persone moet voorkeer en ondervra. Dit is seker nie die aangenaamste ding op aarde vir die betrokke persoon nie, maar in ruil vir die ondervraging, skep Nieu-Seeland ’n veilige omgewing waar mense sonder misdaadvrese kan rondloop. Ek dink die ou joernalis het nou net weer drama gegooi. Ek is self op die lughawe ondervra en ek het dit aanvaar as deel van die prosedure om kriminele uit die land te hou.
In hierdie reënboogland van ons kan hulle nie eers moordenaars opspoor nadat hulle misdade gepleeg het nie. Dus is misdaadvoorkoming ook geensins wat wonders nie. Ek stel voor die Suid-Afrikaanse polisie leer by die Nieu-Seelanders en begin ook om persone wat verdag lyk te ondervra. Dit is al hoe ons hierdie misdaadsnes dalkies kan verander.
Jy noem van Suid-Afrikaanse joernaliste wat besteel is in Nieu-Seeland? Daarvan het ek nog nie gehoor nie, so jy sal maar jou bronne moet plaas. Dit is duidelik weer jou verbeelding wat met jou weghardloop. Daar is wel ’n televisieaanbieder dood na ’n noodlottige geveg in ’n kroeg in Auckland. Dit was ’n baie tragiese gebeurtenis, maar die owerhede het daadwerklik opgetree en die betrokkenes ingehark. So iets sou nooit in die NSA gebeur het nie. Die moordenaars sou moontlik nog op vrye voet gewees het as dit in Suid-Afrika plaasgevind het.
Ek weet ook nie waar jy daaraan kom dat Nieu-Seeland een van die lande met die hoogste misdaadsyfers op aarde is nie. Bedoel jy dalk die laagste? Daar is basies geen misdaad vergeleke met Suid-Afrika nie. Ook het ek mos nou al tot vervelens toe aan jou verduidelik dat daar wel misdaad en dwelms onder sekere gemeenskappe voorkom, maar dat die polisie hierdie bendes blitsig aankeer. Jy het mos laas vir ons ’n video geplaas van die bendes en dit was mos nou duidelik vanaf watter gemeenskap hulle afstam. Dit is nie die standaard Nieu-Seelander wat so optree nie.
Dalk moet jy eerder Nieu-Seeland self besoek, en ervaar hoe dit is om in ’n skoon en veilige land te leef en werk.
Tant Alie

