Klik hier om die program in PDF-formaat af te laai.
Vanjaar se ALV-kongres vind van 15 tot 17 September plaas. Die tema van die kongres is "Affekte, emosies, begeertes en/in die Afrikaanse letterkunde". Hier is die volledige program.
DAG 1: WOENSDAG 15 SEPTEMBER 2021
SESSIE 1
9:00–9:15 |
Verwelkoming: Marius Crous |
9:15–9:30 |
Amptelike verwelkoming deur dekaan (Prof Pamela Maseko) of visedekaan |
9:30–10:10 |
Susan Meyer Deur die lens van die fotograaf: visuele landskapsbetrokkenheid met verrassende gevolge in romankuns deur Etienne van Heerden |
10:10–10:15 |
Vrae |
10:15–10:30 |
KOFFIEPOUSE/GEMAKSBREUK |
SESSIE 2
|
Voorsitter: Marisa Botha |
10:30–10:50 |
Marianne de Jong Affek in Kaar van Marlene van Niekerk |
10:50–11:10 |
Janien Linde “’n (T)alent vir verwondering” (Van Niekerk, 1992:107): die affektiewe invloed van outistiese, dromerige karakters in Van Niekerk se oeuvre |
11:10–11:30 |
Sonja Loots Ruïnes, puin en ruderale ekologieë: twee post-apartheid perspektiewe |
11:30–11:50 |
Neil Cochrane Oorlog en reis as versorgingsmetafore in “Oorlog, bloeisels (’n reisverhaal)” van SJ Naudé |
11:50–12:00 |
Vrae aan sprekers |
SESSIE 3
12:00–12:40 |
HOOFREDE: Thys Human “Wanneer Medea Afrikaans praat”: Vertalings, verwerkings en herinterpretasie van die Medea-mite in die Afrikaanse letterkunde |
12:40–12:50 |
Vrae |
12:50–13:40 |
MIDDAGETE/BREUK |
SESSIE 4
|
Groep 1 |
Groep 2 |
14:00–14:20 |
Danie Stander “Woorde wat ’n ding kan sê” / “Darling, ek is onrondneukbaar”: Die performatiwiteit van gender en vertaling in Nerina Ferreira se Afrikaanse vertaling van William Shakespeare se The taming of the shrew as Die vasvat van ’n feeks |
Rickus Ströh “’n faset van my daaglikse bestaan”: Joan Hambidge en die poësie van Johann de Lange |
14:20–15:40 |
Jerzy Koch “Hier is ons skrywers!” Waar bly ons skryfsters? Dogters en eggenote oftewel vroulike outeurs in enkele letterkundige studies |
Reinhardt Fourie “Nie aan God of die duiwel getrou nie”: Joan Hambidge en die rol van die polemikus/kritikus in die literêre sisteem |
15:40–16:00 |
Hans Ester Poësie as tuiskoms: die digter |
Henning Pieterse Die duiwel is los: Demoniese en demonologiese aspekte in die “Durbandrieluik” (Die boek van toeval en toeverlaat, Die benederyk en Die aanspraak van lewende wesens) van Ingrid Winterbach |
16:00–16:10 |
Vrae aan sprekers in groep 1 |
Vrae aan sprekers in groep 2 |
SESSIE 5
16:10–16:15 |
Janien Linde stel die hoofspreker, Rita Felski, bekend |
16:15–17:15 |
HOOFREDE: Rita Felski On resonance: Stoner by John Williams and Theory by Dionne Brand |
16:55 |
Vrae en afsluiting |
SPREKERS (DAG 1)
Susan Meyer
Die herlees van Etienne van Heerden se roman Die swye van Mario Salviati (2000) bied ’n ryk belewing as dit geskied binne die leesraamwerk wat plekteoretici rondom plekverwante begrippe soos embeddedness (ingebedheid), emplacement (ingeplaastheid) en embodiment (beliggaming) bou. Dit is hierdie raamwerk van kernterme wat ekokritici die afgelope tyd gereeld benut in hulle ondersoeke na die wye en fassinerende implikasies van Diana Relke (1999:312) se stelling: “The body is our primary means of communication with nonhuman nature; it’s our bodies […] that define our environment for us.” In hierdie referaat word Van Heerden se roman en spesifiek die primêre fokalisator, Ingi Friedländer, se visuele verkenning van die landskap waar sy haar bevind om ’n beeld by ’n kluisenaarkunstenaar te gaan koop, ondersoek. Die sintuiglike en intellektuele bewussyn en die liggaamlike betrokkenheid waarmee sy waarneem, stem ooreen met dié van ’n fotograaf wat – as eerste stap in die beplanning van ’n landskapsfoto – selekteer en artistiek orden aan dit wat deur die lens waargeneem word. Hierdie waarnemingswyse impliseer ’n medeaanwesigheid met en liggaamlik-sintuiglike teenwoordigheid in die landskap, asook die keuse om die landskap deur middel van die estetika te begryp. Dié ingesteldheid van Ingi as fokalisator lewer verrassende gevolge in die roman.
Marianne de Jong
In Kaar is gedigte wat uitgaan van ’n betowerende of andersins opvallende objek of proses in die omgewing om dan by ’n gedig uit te kom opmerklik, soos Louise Viljoen reeds in haar bespreking van “Aan die swaan op die Ij” demonstreer. Hierdie gedigte kan dan dikwels beskryf word as die produksie van sensasie soos Deleuze en Guattari of ook Elizabeth Grosz dit noem – ’n skryfwyse waarin diskursiewe, logiese en representatiewe taal- en literatuurkonvensies oorstem word deur intensivering, resonansie en oormaat (“excess”). Dit blyk uit die herinnering aan ’n seisoen en sy vrugte soos in “Die mandjie” en die belewing van die swaan in die gedig hier bo genoem. Dit is veral die geval wanneer die affek sensories of, in die meer algemene sin, liggaamlik is, wat in Kaar oorheers. Ek beskryf hierdie modus waarin objekte in die gedig verskyn as affek in die vitalisties- materialistiese sin van Deleuze en Guattari en Brian Massumi se weergawe van affekteorie en betrek ook deterritorialisasie, vibrasie, wording (“becoming”), beweging en fluïditeit en ongewone konnektiwiteite (soos sinestesie). In navolging van Massumi skei ek emosie en affek, maar hou in gedagte dat onlangse affekteoretiese debat ’n streng skeiding bevraagteken. ’n Paar gedigte, soos “Die mandjie” en “Woordverklaring”, word in redelike detail bespreek en verskeie ander, soos “By waterplas en sterre” en “Vrou, wind, deur”, word betrek. “Die mandjie” en “Woordverklaring” ontwikkel ’n persepsie van die vers as fermentasie waarin oordaad, ekstase en ossillasies oorheers en wat affek en energie verbind. Affek kan ook verbind word met die gedig se vermoë om ’n eie territorium of tablo te produseer. Dit ontstaan deur die ontginning van ’n ander oordaad in Kaar, naamlik die oordaad van die verbeelding. Laasgenoemde kan hier net genoem word omdat die verbeelding as oormaat ’n afsonderlike artikel benodig. Affek in Kaar is ’n affirmasie van die kreatiewe energie van kuns en digkuns en van die materiële aard daarvan.
Janien Linde
Die beeld van “stadige”, dromende, wêreldvreemde karakters met outistiese eienskappe word in Van Niekerk se oeuvre uitgebou tot ’n leitmotiv van die suiwere, onbesmette, onpeilbare en intuïtiewe kyk na die werklikheid wat soms met kunstenaarskap gepaard gaan. Waar karakters met outistiese eienskappe (soos Karel en Andries Aggenbach in Die vrou wat haar verkyker vergeet het) vroeër in haar oeuvre bejammer en verstoot is, word hulle later in die oeuvre iets om na te streef. Sulke karakters (soos Wiid, Kasper Olwagen en Peter Schreuder) laat iets na, en daar is iemand wat probeer om dit te verstaan, en selfs te probeer nadoen (soos Jacob Kippelstein). Selfs wanneer hulle verdwyn word hulle gesien as sjamaan-kunstenaars wat toegang het tot inligting wat bo menslike begrip is: ’n oerkennis, -aanvoeling en -betowering waartoe gewone sterflinge, en selfs kunstenaars, net soms toegang verkry. In hierdie referaat ondersoek ek hierdie Van Niekerk-karakters deur die lens van Raoul Eshelman se performatisme, en argumenteer dat die insluiting van sulke karakters bydra tot ’n interessante narratiewe raamtegniek wat uiteindelik ’n spesifieke affektiewe uitwerking op die leser het. Skrywers maak soms gebruik van wat Eshelman ’n dubbelraam noem: ’n samevoeging van ’n buiteraam, wat die teks aan die buitetekstuele verbind, en ’n binneraam, wat die buitetekstuele doelbewus afsny sodat die leser gedwing word om slegs binne die teks na betekenis te soek, alhoewel hy/sy steeds deeglik bewus is van die gekonstrueerdheid van die dubbelraam. Die teenwoordigheid van wat Eshelman “dense or opaque” karakters noem, is een kenmerk van die dubbelraam. Wanneer so ’n karakter ander karakters (die leser) se verwagtinge omverwerp, raak dit moontlik vir die karakter om sy/haar beperkinge te transendeer en amper goddelike status te bereik. Die uiteinde is dat die leser op affektiewe wyse meegesleur word om onwillekeurig te glo aan wat met so ’n karakter gebeur, selfs al lyk dit hoe ongeloofwaardig.
Sonja Loots
Die referaat fokus op die (na)lewens van stedelike ruïnes in twee Suid-Afrikaanse romans: Triomf (1994) deur Marlene van Niekerk en Die derde spoel (2017) deur S.J. Naudé. Triomf word in die kader van ruïneteorie gelees as ’n roman oor die hoe ’n uitgediende politieke regime verwoesting bly bewerkstellig. Op vergelykende wyse word Die derde spoel, wat meer as twee dekades later gepubliseer is, bespreek met aandag aan die Suid-Afrikaanse protagonis se bewuswording van die nagevolge van Europese nasionalisme en kapitalisme. Aandag word voorts geskenk aan die wyse waarop albei romans ruïnes uitbeeld as deel van ontluikende ekosisteme. Die onregeerbare lewensvorme wat ontkiem, groei, loer of bloei in puinhope in stedelike niemandslande; asook die teenwoordigheid van rommelflora, stedelike onkruid, guerrilla-tuine en wilde lewensvorme in Naudé en Van Niekerk se romans word gelees as tekenend van die potensiaal van ruïnes om as vernuwingsplekke te funksioneer. Die aard van toekomstige verhoudings tussen ruïnes, verwoeste mense en die ontluikende ekologie waarin hulle ingebed is, is onduidelik – maar die vrugbare potensiaal van hierdie verhoudings word nie uitgesluit nie.
Neil Cochrane
In hierdie referaat val die fokus op versorging as siektedomein. Meer spesifiek val die klem op die ontginning van oorlog en reis as versorgingsmetafore in S.J. Naudé se lang kortverhaal met die betekenisvolle titel “Oorlog, bloeisels (’n reisverhaal)”. Dié verhaal uit Naudé se kortverhaaldebuut, Alfabet van die voëls (2011), word enersyds betrek omdat dit as emblematies van die siektetematiek in Naudé se prosakuns beskou kan word, maar andersyds omdat dit met groot vrug gebruik kan word in terme van bekende siektemetafore wat in die teks tereg kom. In die referaat fokus ek op die volgende aspekte: die funksie van die verhaaltitel en subtitel, aansluiting by gevestigde kankermetafore, die funksionering van oorlog as versorgingsmetafoor in die palliatiewe versorgingskonteks en ten slotte die ontginning van reis as ’n alternatiewe versorgingsmetafoor. Die analise van die versorgingsmetafore in die verhaal geskied aan die hand van Sontag (1978 en 1988) en haar revisionistiese teoretiese besinnings oor die waarde en gebreke van siektemetaforiek.
Thys Human
Die mite van Medea, die Kolchiese prinses wat haar familie en land verraai uit liefde vir Jason, die Griekse held, saam met hom na Griekeland terugkeer en, wanneer hy besluit om met ’n Korinthiese prinses te trou, uit wraak hul kinders vermoor, is in 431 v.C. deur Euripides in tragedievorm verewig. Dié mite, maar veral ook Euripides se dramaverwerking daarvan, dien steeds as inspirasiebron vir literêre tekste wat in Afrikaans geskryf of uit ander tale in Afrikaans vertaal word. Naas ’n opvoering van Roelf Laubscher se Afrikaanse vertaling van die Euripidesdrama, ’n Medea-alleenspraak deur Dieter Reible (1981) en ’n Afrikaanse vertaling van Anouilh se Médéé (1961), knoop tekste soos Antjie Krog se verwerking van Tom Lanoye se Mamma Medea (2002), Sarina Dönges en Melanie Grobler se onderskeie gedigte, “Medea” en “Medea se rok van vuur”, Hennie van Coller se vertaling van ’n Medea-gedigreeks deur Luuk Gruwez en Marina Albertyn se plaastragedie Melk & vleis (2018), ook ’n voortgesette gesprek met dié mite (en dramaverwerking) aan.
In dié referaat word ’n oorsig gegee oor tekste (in Afrikaans) wat op een of ander wyse deur Euripides se verwerking van die Medea-mite geïnspireer is, of daarmee in gesprek tree. Voorts word die verskillende wyses waarop, en die uiteenlopende redes waarom, die onderskeie skrywers steeds na Euripides se dramaverwerking in hul tekste verwys, ondersoek ten einde te probeer vasstel wat die blywende aantrekkingskrag van die Medea-mite (ook) in die Afrikaanse letterkunde is.
Danie Stander
My ondersoek na Nerina Ferreira se vertaling van William Shakespeare se The taming of the shrew as Die vasvat van ’n feeks (1983) word gerigsnoer deur die volgende vrae oor die maniere waarop Ferreira as vertaler vroulike agentskap in ’n patriargale Suid-Afrika heronderhandel in haar vertaling van Shakespeare se mees omstrede komedie: Kan Ferreira beskou word as ’n vrou wat suksesvol bekeer is tot patriargale onderdanigheid en hierdie houding propageer aan haar medevroue in die tagtigerjare, toe Suid-Afrikaanse vroue ’n voorheen ongekende politieke sigbaarheid begin verkry het (Hassim 2006:47)? Of kan sy, en ander rolspelers in die vertaling en produksie van Die vasvat van ’n feeks, gelees word as “hersieners” in terme van Adrienne Rich (1972) se feministiese teorie en/of as “herskrywers” in lyn met André Lefevere (1992) se kultuurteorie?
Volgens Cornelia Stott (2010:45) funksioneer ’n metateks as “a borderline discourse, a kind of writing which places itself on the border between fiction and criticism, which takes the border as its subject”. Wanneer ’n teks soos The taming of the shrew boonop vertaling tematiseer, en dus ook as ’n grenslyndiskoers ’n vertaalfilosofie daarstel, verkry die vertaalde teks ’n ekstra metatekstuele betekenislaag. Ek betoog dat The taming of the shrew net soveel oor die performatiwiteit van gender as oor die werkinge van vertaling handel. Ek redeneer dat hierdie twee temas nie onderling uitsluitend in The taming of the shrew voorkom nie, maar eerder interafhanklik meewerk in dié komedie se retoriese doelwitte. Vertaling en die performatiwiteit van gender is myns insiens metonimies in The taming of the shrew aan mekaar verbind.
Rickus Ströh
In ’n gesprek wat in 2012 opgeneem is tussen die digters Johann de Lange en Joan Hambidge, as deel van LitNet se reeks skrywersonderhoude, verwys Hambidge terug na ’n gedig “Die emmer” wat in De Lange se debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) verskyn het. Hierdie verwysing ontlok ’n gesprek wat die hegte vriendskap tussen die twee digters bevestig. De Lange verwys onder meer na besonderhede wat Hambidge van sy lewe (en werk) onthou waarvan hy self nie oor seker is nie. Uiteindelik lei die gesprek na ’n bespreking oor digterskap en inspirasie vir die digterlike daad. In Hambidge se bundel Indeks (2016) maak die emmer ook sy verskyning in ’n gedig (“Elegie”) met die subtitel “Daniël Johannes” wat die gebeure rondom die emmer verwoord soos in die onderhoud bespreek is:
Op ’n Saterdagmiddag op ’n
plaas buite Naboomspruit ry ek
met jou oom in sy bakkie.
Hier sien ek die peilstokke van jou jeug: ’n
verroeste emmer, ’n hoenderhok, ’n
ou hond afgeleef.
Met verwysing na items uit die digter se jeug, asook die slotreëls wat die aard en doel van die poësie probeer bepaal, word die vriendskap tussen die twee digters nie net beklemtoon nie, maar word die poëtikale gesprek tussen die twee oeuvres geaktiveer. My doel met hierdie referaat is om die allerlei wyses waarop Hambidge in De Lange se oeuvre figureer, te ondersoek.
Jerzy Koch
In die filosofiese tradisie van die Abendland het die nosies “ratio” en “affek” dikwels apart gestaan, of selfs in konflik. Psigiese en fisieke verskynsels wat filosowe soos Descartes afsonderlik beskou het, was vir die ander se siening oor liggaam en siel, soos vir Spinoza, ’n soort eenheid. Ook by Deleuze gaan die sensibiliteit en affek vooraf aan die denke. Dis hoekom vir hom en konsorte die menslike kommunikasie verbeter sou kan word wanneer mense nie net in denke nie, maar ook in sensibiliteit, opgevoed en opgelei word. Die vroulike element is o.a. om die rede van daardie spanning uit die Afrikaanse kanon uitgesluit of slegs onder sekere voorwaardes aanvaar, bv. wanneer dit by die manlike aangesluit het. Dink aan E. Eybers en H. Smit se introduksie in die letterkunde deur resensente en vroeë literatuurhistorici as “vroulike” pendante van hul manlike kollegas. Wat ek ondersoek, en dus ook in my referaat wil laat blyk, is dat die siening veral êrens in die twintiger- en dertigerjare verander het. En wanneer die oorgang van die aktuele kanon na die meer historiese kanon plaasgevind het, het baie van die vroue gewoon uit die literatuuroorsigte verdwyn. Die spanning tussen “ratio” en “affek” was natuurlik nie die enigste oorsaak nie, maar dalk een van die belangrikste, ook wat gevolge betref, want dit het vir tientalle jare die kanon afgebaken. Daar was vanselfsprekend ook later skryfsters wat gewaardeer is, maar dis nie toevallig dat die ontploffing van vroulike kreatiwiteit in die negentigerjare gekom het in die konteks van sosiale en politieke veranderings nie.
Reinhardt Fourie
Joan Hambidge is welbekend in die Afrikaanse kultuurwêreld: enersyds vir haar eie uitgebreide bellettrie, en andersyds onder meer vir haar uitdagende boekresensies en beskouings oor die letterkunde. Haar verskeie essays, resensies, briewe, meningstukke en rubrieke oor die literatuur verteenwoordig ’n indrukwekkende korpus deur ’n besonder produktiewe kritikus. Terwyl talle literêre ondersoeke wat gemoeid is met Hambidge se poësie en prosa al onderneem is, en enkeles haar bellettrie vanuit die invalshoeke van ondersoekrigtings soos die uitgewerswese en korpuslinguistiek benader het, is daar sover bepaal kon word nog geen navorsing onderneem wat primêr toegespits is op Hambidge se uitset as kritikus nie. Hierdie artikel is ’n respons op hierdie lakune in studies oor die werk van hierdie veelsydige skrywer. Die ondersoek is vervolgens toegespits op die diskoerse (ook soms genres genoem) binne die Afrikaanse literêre sisteem wat breedweg bekendstaan as die polemiek en die kritiek. Die argument gaan daarvan uit dat om vandag op diepgaande wyse oor die aard en doel van die Afrikaanse literêre kritiek te wil skryf heelwat kan baat by ’n geselekteerde oorweging van Hambidge se uitgebreide bydrae in hierdie verband. In die eerste afdeling van die artikel word die begrippe polemiek en kritiek uitvoerig bespreek ten einde te bepaal in welke mate hierdie genres verskil en oorvleuel. Hierop volg dan in die tweede deel van die artikel ’n oorweging van geselekteerde tekste uit Hambidge se kritiekkorpus ter stawing van ’n bondige beoordeling (en viering) van hierdie skrywer en kritikus se belangwekkende bydrae tot die Afrikaanse literêre kritiek, hoe dit ons idees oor die polemiek en kritiek kan verfyn, en hoe dit betrekking kan hê op toekomstige gesprekke in hierdie verband.
Hans Ester
My lesing “Poësie as tuiskoms: die digter W. Hessels (H.A. Mulder) kry ’n vaste voet in Suid-Afrika” sluit aan by “sintuiglike belewing” en by “verlies, aflegging, losmaak”. H.A. Mulder het in 1934 na Suid-Afrika gekom om van TBC te genees. Die aanvanklike vervreemding het verander in toeëiening en kreatiewe omgang met die nuwe, deur middel van Afrikaans en die ontdekking van skeppende moontlikhede in Afrikaans. Na hierdie fase van skeppende toeëiening het H.A. Mulder ’n vername rol gespeel binne die Afrikaanse literatuurkritiek, byvoorbeeld as mede-oprigter van Standpunte.
Henning Pieterse
Teosofiese en mistiese aspekte in enkele romans van Ingrid Winterbach is al ondersoek; vergelyk L. Foster (2008), Spruyt (2014) en Barthel (2016). Daar is egter nog nie voldoende aandag geskenk aan die rol van demoniese en demonologiese aspekte in Winterbach se sogenaamde Durban-drieluik nie. Tradisioneel word duiwels/demone beskou as rustelose, energieke kwelgeeste wat ’n verskeidenheid rolle vertolk: Hulle kan onder meer folter; besoek; as gidse dien; en optree as mentors, “afstuurders”, tormenteerders, besielers, toetsers, teisteraars, begeleidende teenwoordighede, manipuleerders, poetsbakkers, oorsake van siekte, bringers van slegte geluk en gebroke verhoudings, en agente m.b.t. die verlies van die siel. In Winterbach se Durban-drieluik vind die leser telkens figure en karakters wat manifesteer/verskyn en verdwyn en figure/verskynsels wat as katalisators optree en hoofkarakters (soos Helena Verbloem, Aaron Adendorff, Karl Hofmeyr en Maria Volschenk) tot introspeksie en handeling dwing. Voorts is daar karaktername met demoniese allures; omskrywings van landskappe, sfere, ryke en wêrelde wat dikwels aan die demoniese herinner; talle volksname vir die duiwel; omskrywings met demoniese konnotasies; asook talle intertekste wat demoniese tematiek oproep. In hierdie referaat word daar eerstens aandag geskenk aan die term daimon/demon en verwante konsepte soos demonium, demonologie, demonisme, demonomanie, diabolisme en diabologie. Telkens word positiewe en negatiewe aspekte van hierdie terme en velde bespreek en ’n ordening van demone, soortgelyk aan ’n ordening van engele, word voorgehou. Uitgaande van die siening dat demone en demonologie ingesluit word in die sogenaamde donker mistiek, word daar kortliks geraak aan mistiese aspekte in die drieluik en vervolgens aandag geskenk aan die uitbeelding van demoniese figure en karakters, beeldspraak, milieus en temas, en literêre, musikale en visuele intertekste wat demoniese temas en subtemas ontsluit.
Rita Felski
My talk draws out affinities between the ideas of Hartmut Rosa and novels by John Williams and Dionne Brand. Both novels capture moments when words crackle, reverberate, come alive; they speak to the transformative aspects of intellectual life, while also reckoning with the alienating aspects of academic institutions. The idea of resonance, I argue, can clarify the force of attachments to both literature and theory; the phenomenology as well as sociology of our intellectual commitments.
DAG 2: DONDERDAG 16 SEPTEMBER 2021
SESSIE 6
9:00–9:40 |
HOOFREDE: Andries Visagie Die ontstaan van Jan Rabie se verhaal “Die man met die swaar been” uit Een-en-twintig |
9:40–9:50 |
Vrae |
9:50–10:10 |
Frederick Botha Pessimistiese en ontnugterde Afrikaneridentiteit in geselekteerde postkoloniale Afrikaanse prosatekste: ’n oproep tot sosiale en kulturele betrokkenheid |
10:10–10:20 |
Vrae |
10:20-10:30 |
KOFFIEPOUSE/GEMAKSBREUK |
SESSIE 7
|
Groep 1 |
Groep 2 |
10:30–10:50 |
Mathilda Smit Poësie op die podium: geweld in die kollig |
Mariëtte van Graan Liefde en begeerte deur die grense van die dood |
10:50–11:10 |
Dewald Koen Liminaliteit in Kamp Koershou: Deurgangsrites in Malan Steyn se Bos (2019) |
Michelle Oelofse Die (glowaardige) stories wat regters skep |
11:10–11:30 |
Jean Meiring Is dit net ek of is als tos? Boekresensering in 2021 |
Elizabeth van Rensburg Sonder om te blik of te bloos: dwelms en die Afrikaanse letterkunde |
11:30–11:50 |
Vrae aan sprekers in groep 1 |
Vrae aan sprekers in groep 2 |
SESSIE 8
12:00–12:40 |
Bibi Slippers in gesprek met Karen de Wet oor Vers & Vrou |
12:40–12:50 |
Vrae |
12:50–14:00 |
MIDDAGETE/MIDDAGUUR |
SESSIE 9
|
Groep 1 |
14:-00–14:20 |
Neil van Heerden Spanning – ’n oorsig en toepassing op Chanette Paul se Offer-tweeluik |
14:20–14:40 |
Martina Vitackova Die liefde werd. Mense met gestremdhede in populêre romantiese fiksie in Afrikaans |
14:40–15:00 |
Ilse de Korte Seks met ’n kinkel in Afrikaanse populêre fiksie: tradisionele genderrolle of ware “submissives”? |
15:00–15:20 |
Vrae aan sprekers in groep 1 |
15:20–15:30 |
KOFFIEPOUSE/GEMAKSBREUK |
SESSIE 10
15:30–16:10 |
Yves T’Sjoen ’n Grensverleggende studie van cultuurtransmissie. Voorstel voor een gecombineerde literatuurgeschiedenis van Afrikaans en Nederlands |
16:10–17:00 |
Bespreking en afsluiting |
SPREKERS (DAG 2)
Andries Visagie
Die affektiewe uitwerking van die surrealistiese gegewe in die slot van Jan Rabie se verhaal “Die man met die swaar been” is moontlik een van die redes waarom hierdie teks saam met die ander verhale in Een-en-twintig as vernuwend ervaar is teen die einde van die jare vyftig van die vorige eeu. Hierdie referaat is ’n poging om die sosiopolitieke en literêre klimaat waarbinne hierdie hoogs gekanoniseerde verhaal sy ontstaan gehad het deegliker te verken as wat vantevore die geval was in die literêre kritiek. Vervolgens benut ek my bevindinge om ’n interpretasie van die verhaal te waag wat erns maak met die kontekstuele faktore waaruit die verhaal ontstaan het.
Aandag word geskenk aan drie variante van die verhaal wat die publikasie daarvan in 1956 voorafgegaan het, spesifiek die eerste optekening daarvan op 8 Mei 1949 in Rabie se Paryse dagboek. Hierdie weergawe plaas die gegewe stewig binne die konteks van die na-oorlogse Parys en die koloniale bevrydingsoorloë wat ná die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Die oudsoldaat, Jean Thomas, in “Die man met die swaar been” ly aan malaria wat hy in Indo-China opgedoen het. In my referaat argumenteer ek dat hierdie vermelding van die Indo-Chinese oorloë waarmee Frankryk in die 1950’s tevergeefs sy koloniale besittings in Suidoos-Asië probeer behou het, die deur open vir ’n beskouing van die verhaal as een van die vroegste antikoloniale verhale in Afrikaans. Die verhaal word daardeur ook ’n voorbeeld van die betrokkenheid wat Jan Rabie deur sy blootstelling aan die Franse eksistensialisme in sy eie werk begin nastreef het, ’n aspek wat later die literêre ambisies van Sestig in ’n groot mate bepaal het.
Frederik Botha
Die literêre uitbeelding van pessimistiese en ontnugterde Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika het ná 1994 sterk neerslag in veral die Afrikaanse prosa gevind. Hierdie literêre diskoers is deur Herman Wasserman (2001:70–73) as “postkoloniale desillusie” beskryf, met Henriette Roos (2015:192) wat dit tipeer as ’n aggressiewe geestestemming weens die wantroue in die morele waardes van ’n ouer geslag, en ’n gebrek aan idealisme oor die toekoms. Tydens die Universiteit van Kaapstad se gedenkaand vir André P. Brink in 2015 beweer Ian Glenn dat Afrikaners die Joodse filosoof Zygmunt Bauman se idee van “liquid moderns” vergestalt. Volgens Glenn is Afrikaners gepreokkupeerd met eiebelang en skram hulle weg van gemeenskaplike ideale en betrokkenheid in die openbare politieke arena (Loots, 2015). In haar repliek op Glenn se uitspraak, verduidelik Sonja Loots (2015) Bauman se konsep van “liquid modernism” deur daarop te wys dat “liquid moderns” – en gevolglik ook hedendaagse Afrikaners, aldus Glenn – onseker is oor die toekoms, geen inspraak in politieke magstrukture het nie, en gevolglik totale uitwissing in die gesig staar omrede hulle irrelevant raak. Aan die hand van enkele romans en kortverhaaltekste wat ná 2000 verskyn het, sal ek in hierdie referaat aandui waarom Glenn se beskouing van Afrikaners ongeldig is. Gebaseer op die navorsing uit my doktorale proefskrif waarin ek ondersoek ingestel het na Afrikaneridentiteit in post-94 prosatekste (Botha, 2020), wil ek voorstel dat die postkoloniale uitbeelding van ontnugterde en pessimistiese Afrikaneridentiteit in die Afrikaanse prosa gelees kan word as ’n oproep tot betrokkenheid met die doel om positiewe sosiale en kulturele verandering te aktiveer.
Mathilda Smit
Podiumpoësie is wêreldwyd ’n groeiende verskynsel, soos in byvoorbeeld die Amerikaanse, Nederlandse, Vlaamse en (Suid-)Afrikaanse kulture. Hierdeur word die poësie, wat dikwels as ’n hoogkultuurvorm beskou word, gepopulariseer. Poësie op die podium transformeer die identiteit van die outeur van skrywer na vermaakkunstenaar en van onsigbare skepper van woorde op papier na die opvoerder (performer) van ’n voordrag in fisieke gedaante. Die leser word nou kyker, luisteraar en aktiewe deelnemer. Die invloed wat hierdie performatiewe kultuurvorm op die gehoor het en die sosiale rol en betrokkenheid daarvan word in hierdie navorsing sentraal gestel. In die Suid-Afrikaanse samelewing is daar ’n oorweldigende hoeveelheid geweld en seksuele wandade – veral teen vroue en kinders – en as gevolg van dié hoë frekwensie is dit ook ’n kwessie wat in heelwat podiumtekste geopper word. Deur hierdie probleme op die podium in die kollig te plaas, help dit met bewusmaking, en om ’n verskil in gemeenskappe te probeer maak. Vir hierdie studie ondersoek ek die tema van geweld in onderskeie manifestasies van Afrikaanse podiumpoësie. Podiumpoësie kan as ’n sambreelterm gesien word wat verskeie subvorme insluit, soos onder andere voorlesings van gedigte, teaterproduksies, toonsettings, kompetisie-geleenthede en rap/kletsrym. Kortliks is dit alle vorme van poësie waar die geskrewe vorm van die gedig nie die enigste of die finale weergawe van die kunsproduk is nie. Met performatiwiteit en die betrokke literatuur as teoretiese agtergrond argumenteer ek in hierdie referaat dat die betrokke podiumtekste diensbaar is vir ’n ondersoek rondom die uitbeelding (performatiwiteit) van geweld in die Afrikaanse literêre sisteem.
Mariette van Graan
Kilburn (2019:5) skryf dat liefdesverhale eintlik spookstories is. In gruwelverhale en spookstories is ’n liefde wat sterker is as die dood ’n algemene tema. Kragtige en universele menslike emosies soos pyn, verlies, magteloosheid, verlange en begeerte vorm die kern van hierdie verhale. Telkens word hierdie temas vergestalt in spookkarakters of soortgelyke bonatuurlike figure waarmee die feilbare menslike karakters gekonfronteer word. Daar is hoofsaaklik twee variasies op hierdie liefdestema in spook- en gruwelverhale: Die een is ’n romantiese liefde so rein en onskuldig dat selfs die dood dit nie kan uitwis nie; die ander is ’n begeerte so donker en obsessief dat selfs die dood nie die versottene van die objek van sy/haar begeerte kan weghou nie. C.J. Langenhoven se klassieke spookstorie “Die bouval op Wilgerdal” (1924) is ’n verhaal waarin beide variasies aangetref word. In 2019 is hierdie Langenhoven-verhaal deur Tertius Kapp verwerk vir die eerste twee episodes van kykNET se gruweltelevisiereeks Die spreeus. Wanneer die karakter Emmie deur beide die gees van haar gestorwe geliefde, Petrus, én die gees van haar gestorwe bekruiper (“stalker”) bespook word, kom kwessies van gendergeweld ook ter sprake. Hierdie referaat sal vergelykend ondersoek instel na hierdie twee weergawes van “Die bouval op Wilgerdal” en die uitbeelding van liefde en begeertes wat deur die grense van die dood dring.
Dewald Koen
In The rites of passage (1909) bespreek die Franse etnograaf Arnold van Gennep die funksie van deurgangsrites en die rol wat laasgenoemde in die samelewing speel. Van Gennep verdeel deurgangsrites in drie kategorieë, naamlik preliminale rites (skeidingsrite), liminale rites (oorgangsrite) en postliminale rites (insluitingsrite). Liminaliteit (soos deur Van Gennep gemunt en later deur Victor Turner uitgebrei) vertolk ’n belangrike rol tydens deurgangsrites, maar veral tydens Van Gennep se tweede fase, naamlik die liminale of oorgangsrite. Tydens die liminale rite betree ’n individu die fase tussen die pre- en postliminale rite – ’n spreekwoordelike grens word oorgesteek waartydens die individu verandering ondergaan. Die referaat lees dramaturg Malan Steyn se dramateks Bos (2019) binne die konteks van Van Gennep se liminale (of oorgangsrite) en fokus op die tienerkarakters se soeke na identiteit, die bos as argetipe, die rol van geweld en seksuele vernedering tydens deurgangsrites, asook verwonding tydens die tieners se oorlewingskamp. Verskeie kontroversiële temas sal binne die konteks van die dramateks belig word deur veral te fokus op deurgangsrites wat die oorgang tussen puberteit en volwassenheid moet vergemaklik, soos die tradisionele Xhosa-inisiasiepraktyk, Ulwaluko, in die dramateks.
Michelle Oelofse
Die substantiewe reg skep ’n raamwerk van aanvaarbare optrede vir die burgers van ’n land. Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie verkrag nie en jy mag nie eiendom neem wat nie aan jou behoort nie – substantiewe riglyne wat burgers moet volg. Indien buite die raamwerk opgetree word, word burgers deur die regering vervolg met die hulp van prosesreg: Daar word ’n klag teen die betrokke persoon by die polisie ingedien, arrestasie volg en die polisie ondersoek die beweringe, met die aanklag wat in ’n hof deur ’n regter aangehoor word. Die aanklaer poog om die regter te oortuig dat die klagte waar is, dat die oortreding wel plaasgevind het, en die beskuldiging se regspan, die verdediging, probeer die teendeel bewys. Voor die agbare regter is daar reeds (minstens) twee weergawes van dieselfde gebeurtenis; dit is dan die regter se verantwoordelikheid om – gegewe prosesregriglyne – die mees waarskynlike “storie” te identifiseer, dikwels ’n verdere variasie op die stories aan die hof gebied.
Dan, asof regters oor magiese magte beskik om tussen wolhaar en juistheid te onderskei, word hul weergawe van die storie – die uitspraak in die hofsaak – wyd as die waarheid aanvaar. En dikwels sommer in ’n lekker, kommersiële leesboek omskep, soos die verskeie Oscar Pistorius- kommersiële skrywes en die verhale van Don Steenkamp en Henri van Breda, beide skuldig bevind aan die moord van hul gesinne. Gebruik ons die reg-as-letterkunde-perspektief om bogenoemde verskynsel te analiseer, verstaan ons die “skep” van die storie deur regsrolspelers beter. Ten einde die ondersoek te onderneem moet regstekste, en dan meer spesifiek vir hierdie bespreking, hofsake, as ’n vorm van letterkunde gesien word.
Die referaat sal assesseer waarom die reg, spesifiek howe, ’n besonder goeie beginpunt vir letterkunde bied en hoe die bepaalde “gaze” dikwels woede, pyn en performatiwiteit buit ten einde uitsonderlike werk te inspireer. Die referaat sal die “law as literature”-tendens ondersoek met die regter as skrywer as fokus. Die gevestigde reg as ’n “chain novel”-idee van Richard Dworkin sien regters as individuele skrywers wat aan die groter roman, wat die reg is, werk, gegewe dit wat hulle voorafgegaan het. Beide ’n regter se aansluiting by hierdie groter “roman” en individuele uitsprake as stories op sigself sal oorweeg word.
Elizabeth van Rensburg
Antieke tekste, soos Herodotus se Histories, getuig van ’n eeue-oue wisselwerking tussen dwelms, die literatuur en die samelewing. Alhoewel daar reeds navorsing bestaan oor dwelms as ’n literêre tema, is die literêre funksie daarvan nog nie na wense in die Afrikaanse letterkunde bepaal nie. Een voorbeeld van ’n Afrikaanse digter wat gereeld na dwelmgebruik verwys, is Ronelda Kamfer. Die primêre doel van hierdie studie is om vas te stel wat die funksie van dwelms in Kamfer se Noudat slapende honde (2011) is. Dit sal met behulp van die literatuursosiologie as teoretiese vertrekpunt geskied/plaasvind. Die literatuursosiologie verwys na die oortuiging dat die letterkunde ’n sosiale verskynsel is en dat die letterkunde en die samelewing mekaar sistematies weerkaats, sowel as wedersyds beïnvloed. Die teorie stel literatuurwetenskaplikes in staat om die letterkunde as ’n spieël van die werklikheid te beskou. Met die literatuursosiologie as uitgangspunt kan ’n teks se geloofwaardigheid, sowel as ander literêre funksies, ten opsigte van een aspek van die samelewing, naamlik dwelms, beoordeel word. Vir die doeleindes van hierdie referaat word ’n tweeledige analise gebruik om uiteindelik dwelms se funksie in die letterkunde te bepaal: Eerstens word relevante dwelms in ’n sosiale konteks nagevors en bespreek. Tweedens word die teks geanaliseer volgens die literêre bydrae wat dwelms lewer. Geselekteerde gedigte uit Ronelda Kamfer se Noudat slapende honde (2011) sal in hierdie referaat ondersoek word. ’n Alternatiewe blik op die Afrikaanse letterkunde – met dwelms as invalshoek – stel die literêre navorser in staat om afleidings en verbindings rakende dwelms te maak.
Neil van Heerden
Spanning blyk allerweë een van die hoofmiddele te wees waardeur lesers van fiksie (en by implikasie ook luisteraars van hoorspele en kykers van rolprente en televisie) se belangstelling geprikkel en geboei word. Dit geld veral vir sogenaamde populêre fiksie, maar spanning word ook dikwels by literêre fiksie ingespan. David Lodge (1992) skryf in The art of fiction:
Novels are narratives, and narratives, whatever its medium – words, film, strip-cartoon – holds the interest of an audience by raising questions in their minds, and delaying the answers. The questions are broadly of two kinds, having to do with causality (e.g. whodunnit?) and temporality (e.g. what will happen next?) each exhibited in a very pure form by the classic detective story and the adventure story, respectively.
Spanning as bron van leserbetrokkenheid is al vanuit verskeie invalshoeke bestudeer, insluitend die narratologie, sielkunde, affekteorie, lesergesentreerde benaderings, taalkundige ontledings, kognitiewe literêre studies en meer onlangs rekenaarwetenskap. Vir die doeleindes van hierdie referaat onderneem ek eerstens ’n literatuuroorsig van spanningsverwante studies in die letterkunde tot op hede. Ek bekyk onder meer Meyer (2005) se praktiese voorstelling van die struktuur van die spanningsroman en Iwata (2008) se stilisties-narratologiese model vir spanning en verrassing in literêre kortfiksie. Die doel is om spanning as literêre fenomeen so omvattend as moontlik te omskryf. Hieruit sal ’n toepaslike teoretiese raamwerk geïdentifiseer word waarbinne spanning in die eietydse Afrikaanse misdaadfiksie geplaas kan word. Voorlopig word Chanette Paul se Offer-tweeluik bestaande uit Offerlam (2015) en Offerande (2017) vir ontleding geoormerk synde twee romans wat uitdruklik as spanningsromans getipeer word.
Martina Vitackova
Die tye waarin alleen die jong, mooi, wit, heteroseksuele en middelklas die hoofkarakters van ’n liefdesverhaal in Afrikaans kon word, is nou verby. In die laaste tien jaar sien ons ’n duidelike verskuiwing in die rigting van grotere diversiteit van die hoof- en medekarakters wat die leeftyd, seksualiteit, gewig, klas, ens. betref. Hierdie referaat kyk na ’n aantal onlangse populêre romantiese tekste in Afrikaans met hoofkarakters met gestremdhede, soos Man met ’n hart (2017), met ’n heldin in ’n rolstoel, of Moed vir die liefde (2017), waar die held ’n depressielyer is – albei van Marilé Cloete. Met die gebruik van feministiese gestremdheidstudies (Kim Q. Hall 2011) analiseer ek hoe die gestremde “bodymind” (Margaret Price) uitgebeeld word. Terwyl die maatskappy in die algemeen verkies om mense met gestremdhede te infantiliseer en as aseksueel te sien (Mairs 2009) of hulle as topoi uit te beeld (soos die stereotiepe “wounded hero” in romantiese fiksie), kan hierdie tekste dalk ’n alternatiewe diskoers aanbied waar neuro-atipiese mense en mense met fisieke gestremdhede die liefde werd is.
Phil van Schalkwyk
Tydens een van die laaste terapiesessies in Eben Venter se roman Groen soos die hemel daarbo (2017), in hoofstuk 8a, wys dr. Spiteri op die sogenaamde “depressiewe posisie” wat in die sielkunde onderskei word. Hierdie sessie volg op twee hoofstukke wat die verhaalverloop tot ’n klimaks voer, naamlik 7a, wat die skrynende verhaal van die ou plaaswerker Jackson se sterfte bevat, en hoofstuk 8, waarin Simon se hoogbejaarde moeder haar laaste besoek aan hom in Australië bring, waartydens die ingewikkelde dinamika van hulle verhouding op die spits gedryf word. Die Jackson-verhaal, wat op eerbiedige en ontredderde wyse vertel word en waarby skuld en aandadigheid aan die orde gestel word, is ’n kragtoer en m.i. die onverwagte hoogtepunt van hierdie roman wat in die eerste plek blykbaar ’n seksuele verkenningstog wil wees. Hier word by implikasie geantwoord op die argelose manier waarop die meeste wit karakters in ’n roman, soos Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort (1975), met die sterfte van ’n plaaswerker omgaan. Die verwysing na die depressiewe posisie in Groen soos die hemel daarbo is van sleutelbelang, want dit kan in verband gebring word met die nagestreefde terminus in Simon se helingsproses met betrekking tot sy verlede, waarin die verkenning van seksuele intimiteit en identiteit en die problematiese verhouding met sy ouers as swaartepunte fungeer, maar dis opvallend dat min verdere toeligting hieroor deur dr. Spiteri verskaf word, terwyl sy ander sake uitgebreid in opeenvolgende sessies deurwerk. Na my wete is daar in die kritiek nog nie omvattend ingegaan op die rol wat die “depressiewe posisie” in hierdie roman speel nie. Melanie Klein het hierdie term geformuleer binne die konteks van die objekrelasiesteorie wat in die verdere ontwikkeling van die twintigste-eeuse psigologie van die post-Freudiaanse onderskei kan word. Klein het aangetoon dat die depressiewe posisie bereik moet word ten einde die medemens en die self as komplekse wesens, waarin goed en kwaad verenig is, te kan bejeën. In hierdie referaat word Groen soos die hemel daarbo binne die kader van objekrelasiespsigologie vergelykend langs Kroniek van Perdepoort geplaas met toespitsing op Simon se verhouding met sy vader en moeder en die plek wat die kinderlose, gestorwe Jackson by implikasie in sy psigiese pyn én heling beklee. Daar sal betoog word dat dit wat in ’n roman soos Kroniek van Perdepoort m.b.t. die belewing van die sterfte van ’n plaaswerker nog ver in die verskiet lê, in Groen soos die hemel daarbo tot wasdom kom.
Ilse de Korte
Riette Rust skryf in haar resensie van Vita du Preez se roman, Klaskamer: “Vita du Preez verdien lof vir haar waagmoed om die BDSM-tema (in Afrikaans) te takel.” Waarom is dit die geval dat in Afrikaans enige tema wat te make het met seks altyd “waagmoed” verg, of deur ’n “spesiale” uitgewer uitgegee moet word (LAPA moes ’n hele nuwe druknaam skep wat die “wenkbroue laat lig” om sulke tipe boeke te akkommodeer.) In ’n onderhoud op LitNet met Izak de Vries en Johan Smith oor Wênkbrou, sê hulle: “Ons skroom nie weg van sensitiewe temas nie.” Is dit wat wel gebeur in die Afrikaanse letterkunde? Is mense te bang om onder “normale” omstandighede oor seks te lees? In hierdie ondersoek word gekyk na Vita du Preez se eerste twee reeds gepubliseerde romans in ’n trilogie, Klaskamer en Skoolgeld. Daar sal vanuit ’n genderperspektief gekyk word na die milieu waarin die romans afspeel, naamlik die plaas wat in die Afrikaanse letterkunde en psige ’n uiters komplekse ruimte is, sowel as die rolle van mans en vrouens in die verhaal (binne, sowel as buite, die Klaskamer – die kamer spesiaal ingerig vir BDSM-aktiwiteite). Die hantering van BDSM in die roman sal ook ondersoek word, sowel as die parateks van die romans self. Wat beeld die voorblad uit? Hoekom kom die agterblad van Klaskamer met ’n waarskuwing: “Hierdie boek is nie vir sensitiewe lesers nie”? Verder word daar beweer dat Vita du Preez die nuutste navorsing “in ’n heerlike, vuurwarm lekkerlees Suid-Afrikaanse storie” plaas. Die hantering van die BDSM-tonele en instelling in die boeke sal ondersoek word om vas te stel hoekom, soos die agterblad beweer, dié goed mense ontstel. Ontstel dit net die deursnee Suid-Afrikaanse oom/tannie of strek dit verder? Genderteorie van onder meer Camille Paglia sal ingespan word om die lyn tussen man/vrou; geweld/plesier; sosiaal aanvaarbaar/of nie in diepte te ondersoek. Ook temas van pyn, pyniging en pynlik, saam met vernedering, geweld en mag, word vergelyk met begeerte, behoefte, genot en instemming.
Yves T'Sjoen
Over cultuur- en teksttransmissie tussen Afrikaans en Nederlands is vanuit historisch en hedendaags oogpunt veel te zeggen. Niet alleen een vergelijkbare dynamiek van “kleinere letterkundes” vergt onderzoek, Afrikaans (in Zuid-Afrika) respectievelijk Nederlands in internationaal verband. Krijtlijnen hiervoor zijn uitgezet door Louise Viljoen (Universiteit Stellenbosch) in de inaugurele rede ter gelegenheid van de Gentse leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij (2019). Ook meer particuliere intertekstuele, poëticale en literatuur-institutionele relaties, intercontinentale netwerken en “laterale” trans-talige connecties kunnen onderwerp zijn van vergelijkende studie en onderzoek naar cultuurbemiddeling. Het referaat is een pleidooi voor een ambitieus project dat in een leemte voorziet: een gecombineerde of comparatieve literatuurgeschiedschrijving van Afrikaans en Nederlands.
DAG 3: VRYDAG 17 SEPTEMBER 2021
SESSIE 11
9:00–9:40 |
GESPREK: Francois Smith in gesprek met Willem Anker |
9:40–9:50 |
Vrae |
9:50–10:50 |
ALV-LEDEVERGADERING |
10:50–11:00 |
KOFFIEPOUSE/GEMAKSBREUK |
SESSIE 12
|
Groep 1 |
Groep 2 |
11:00–11:20 |
Marisa Botha Herkoms, verkenning en verlies in Bientang en Lady Anne |
Aletta Simpson ’n “Manifes van ’n ouma”: Antjie Krog se Verweerskrif (2006) en sensualiteit binne die literêre gerontologie |
11:20–11:40 |
Louise Viljoen Die vervlegting van intellek, liggaam, affek en emosie in die rekonstruksie van ’n vergete geskiedenis: Jolyn Phillips se Bientang |
Amanda Lourens Verlies, aflegging, losmaak en transendensie: ’n Literêr-gerontologiese lesing van Spertyd (2017) deur Elsa Joubert |
11:40–12:00 |
Luan Staphorst “she is the last one my lord”: behorendheid, outentisiteit, en tekstualiteit in Jolyn Phillips se Bientang (2020) |
Stefan van Zyl Homoseksuele intergenerasionele begeerte in Hennie Aucamp se Hittegolf: wulpse sonnette met ’n nawoord (2002) |
12:00–12:20 |
Phil van Schalkwyk Die Jackson-verhaal en die “depressiewe posisie” in Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (2017) teen die agtergrond van Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort (1975) |
Annette du Plessis Daan van der Walt se seksuele, religieuse en kulturele rypwording |
12:20–12:30 |
Vrae aan sprekers in groep 1 |
Vrae aan sprekers in groep 2 |
12:30–13:30 |
MIDDAGETE/MIDDAGUUR |
|
SESSIE 13
|
Voorsitter: Amanda Lourens |
13:30–13:50 |
Marian Human-Nel Fluit-fluit, dit is storietyd: Die sintuiglike belewing van die geskrewe woord deur die voorlees van Afrikaanse letterkundige tekste op ’n gemeenskapradiostasie |
13:50–14:10 |
Bernard Odendaal Manifestasies van sintuiglikheid in enkele gedigte ingesluit by twee digitale Byderhand-installasies te Worcester |
14:10–14:30 |
Franci Greyling Beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid |
14:30–14:50 |
Vrae aan sprekers in groep 1 |
14:50–15:00 |
Afsluiting: Marius Crous |
SPREKERS (DAG 3)
Marisa Botha
Die digters Jolyn Phillips en Antjie Krog verken beide hul herkoms in epiese digvorm in onderskeidelik Bientang (2020) en Lady Anne (1989). Daar is ’n aantal raakpunte tussen die digbundels, soos die klem op historiese vrouefigure (Bientang en lady Anne Barnard), die oorvleueling van geskiedkundige tydperke, karakters/figure wat die omgewing opskryf en verwysings na menseregteskendings soos slawerny. Dit is egter ironies dat lady Anne se bestaan as wit aristokratiese vrou geverifieer kan word deur geskiedkundige geskrifte, maar die Khoivrou, Bientang, se plek in die tydlyn is minder duidelik aangesien geen argivale rekords haar lewe in heugenis oproep nie. Indien daar wel iewers sulke geskrifte bestaan, is dit nie so welbekend soos dié van die adellike lady Anne nie. Philips en Krog gee gestalte aan hierdie vroue, ondersoek en lewer kommentaar op die verlede, maar uiteindelik wil een haar losmaak van die historiese figuur terwyl die ander een treur oor die verlies van vergetelheid. Daar sal in hierdie referaat aspekte van geheue, orale kultuur, geskiedskrywing en die intertekstuele gesprek tussen dié digbundels bespreek word.
Aletta Simpson
Hierdie referaat se analise van Verweerskrif (2006) deur Antjie Krog gebruik een van Wyatt-Brown (1990:300) se kategorieë van die literêre gerontologie as raamwerk, naamlik die analise van literêre houdings teenoor ouer word. Die hoofdoel van hierdie kategorie van die literêre gerontologie is om vas te stel of die literêre houding van die teks teenoor die ouerwordende persoon outentiek is (Wyatt-Brown, 1990:301). Hierdie referaat kyk dus eerstens na Krog se blik in Verweerskrif (2006) op hoe dit is om ’n ouerwordende vrou te wees in ’n samelewing wat jeugdigheid van meer waarde ag, en die ouer vrou as die Ander sien. Daar sal ook gekyk word na twee strategieë wat ’n ouer vrou kan inspan om die negatiewe stereotipes van ’n ouer vrou te ondermyn, naamlik sensualiteit en speelsheid. Spesifieke gedigte in die bundel sal ontleed word. Daar sal gekyk word na hoe Krog (2006) die dubbele standaarde wat daar vir ouer vrouens is duidelik verwoord, soos in “hormone replacement therapy”, maar ook hoe sy die stereotipe dat mans jonk bly en nie lewenslus verloor nie in ’n gedig soos “die blikbul van lavingy” ontmasker. Daar sal gekyk word na hoe Krog (2006) die “funky” ouma tipeer en hoekom om ’n “funky” ouma te wees nie vir haar aanloklik is nie. Die biologiese en emosionele fases van die ouerwordende vrou en hoe dit ingenooi word, sal bespreek word. Daar sal ook gekyk word na hoe Krog (2006) die ouerwordende vrou se seksualiteit (of sensualiteit) en smagting na haar jeug verwoord. Die rol van speelsheid en humor in die bundel sal ook uitgewys word.
Louise Viljoen
Jolyn Phillips se epiese gedig Bientang is ’n rekonstruksie van die geskiedenis van die Khoi-vrou Bientang, van wie daar min opgeteken is in historiese bronne. Die bundel gee stem aan Bientang, ’n spektrum van ander karakters en ook aan die digtersfiguur wat hulle almal ten tonele voer. Die referaat stel ondersoek in na die veelstemmigheid van die bundel, maar fokus veral op die stemme van Bientang en die digtersfiguur. Daar word veral aandag gegee aan die stemme van Bientang en die digter. In die geval van Bientang se representasie is daar sprake van ’n sterk sensuele, sensoriese en affektiewe stroming van digterlike taal en ’n bewussyn volledig verweef met die landskap (plante, diere, grond en see). In die digtersfiguur se geval val die klem sterk op die wyse waarop haar voorstelling van Bientang groei uit ’n diep liggaamlike belewenis van gevoelens van verlies, woede, selfverwyt, skaamte en vernedering oor die miskenning van Bientang en haar voormense se geskiedenis en haar eie pogings om dit te rekonstrueer. Daar word veral aandag gegee aan die wyse waarop die rekonstruksie van Bientang se stem en die digter se artikulasie van die beweegredes vir haar projek en die Cartesiaanse dualisme van liggaam en gees ondermyn deur klem te lê op die ineenvlegting van intellek, liggaam, affek en emosie. Daar sal veral gebruik gemaak word van die werk van Sara Ahmed as teoretiese onderbou.
Amanda Lourens
Die twintigste eeu het ’n skerp styging in die lewensverwagting en lewensgehalte van ouer mense in ontwikkelde samelewings meegebring (Van den Berg et al. 2018:141), en binne die literatuur word hierdie toedrag van sake weerspieël deur ’n toename in literêre produksie deur ouer outeurs. Die verskynsel van die ouer outeur, en veral die stilistiese en inhoudelike kenmerke van literatuur deur hierdie groep, word veral deur middel van die teoretiese lens van sogenaamde laatwerk of laatstyl (vergelyk die werk van Adorno en Said) beskou. Die literêre gerontologie is die studieveld in die letterkunde wat veral daarop fokus om veroudering vanuit die subjek se belewing daarvan te ondersoek (Du Plessis 2019:29). Wanneer daar na onlangse publikasies binne die Afrikaanse sisteem gekyk word, blyk dit dat Piqueras (2014) se stelling dat ouer karakters in die wêreldliteratuur oor die laaste paar dekades aan die toeneem was, ook vir die Afrikaanse literatuur geld. Spertyd (2017) van Elsa Joubert is die vertelling van die ek-spreker se subjektiewe belewenis van die laaste lewensfase, en die laaste werk in ’n outobiografiese reeks van drie (met ’n Wonderlike geweld [2005] en Reisiger [2009] as voorgangers). Spertyd is die sluitstuk van haar oeuvre, maar ook ’n intieme verkenning van die laaste lewensfase, waarin fisiese en psigiese verlies ’n dominante tema is, en wat ook aflegging en losmaak impliseer. Hierdie referaat gebruik die teoretisering rondom laatwerk, sowel as die insigte vanuit die literêre gerontologie om te fokus op die roman se verkenning van die laaste lewensfase. Die ondersoek word gerig deur die volgende hipotese: Joubert se subjektiewe ervaring in Spertyd word aan die een kant gekenmerk deur (soms traumatiese) verlies, maar andersyds deur ’n steeds groeiende bewussyn van transendensie. Uiteindelik bereik die skrywende subjek ’n posisie waar sy die onvermydelike kan aanvaar, en selfs ervaar dat verdere lewenslesse nog moontlik is.
Luan Staphorst
Khoesan-herlewingsbewegings het die afgelope dekade ’n opbloei beleef. Uit verskeie oorde is doelbewuste pogings om restitusie teenoor dié kultureel uitgedelgte mense en hul nasate onderneem – telkens deur hul nasate self. Die bundel Bientang kan teen dié agtergrond gelees word, met ’n reël uit die slotgedig wat die gebroke verbintenis tussen vergange stemme en teenswoordige identiteite betreur: “ek kom van ’n string mense wat hulle self nie ken nie”. In dieselfde gedig word Bientang, die kwansuis “laaste strandloper” van Hermanus, egter ook op ’n afstand gehou, met die spreker wat erken dat daar ’n “aantyging” kom dat Bientang in ’n “mite” ontaard – dat Bientang slegs in diens van ’n identiteitspel is. Die referaat argumenteer dat die bundel egter die teenoorgestelde openbaar. Deur veral talige en paratekstuele elemente te bespreek deur veral die lens van Gayatri Spivak (1999) se teorie om die inheemse informant, word uitgelig hoe die bundel krities met idees om Bientang se “strandloperheid” omgaan. Eerder as ’n eenduidige beeld, word die mite van die “laaste strandloper” telkens ondermyn, en daardeur ruimte geskep vir ’n herbesinning van outentisiteit en behorendheid.
Stefan van Zyl
Die uitbeelding en verbeelding van intergenerasionele verhoudings kan as een van die hoofkenmerke van Hennie Aucamp se literêre oeuvre beskou word. Sodanige verhoudings neem, in die woorde van I.D. du Plessis, “‘n duisend vorme aan” en kan familiaal, romanties, platonies, heteroseksueel, homoseksueel of kombinasies hiervan wees. In my referaat fokus ek spesifiek op die uitbeelding van homoseksuele intergenerasionele begeerte soos dit manifesteer in sommige van die homoërotiese ekfrastiese sonnette in Hittegolf: wulpse sonnette met ’n nawoord (2002). Die intertekstuele verwysings na visuele kunswerke van onder andere Thomas Eakins, Alfred Courmes, Jean Cocteau en Michelangelo Merisi da Caravaggio word nagespeur, ontleed en geïnterpreteer met spesifieke aandag aan die pederastiese (mags)verhoudings tussen ’n ouer man (die erastes) en ’n jonger man (die eromenos) in Antieke Griekeland soos beskryf deur Michel Foucault in The history of sexuality: The use of pleasure (1985).
Hierdie magsverhoudings manifesteer ook in die queer manlike blik (oftewel die sogenaamde gayze) wat deur die ouer (homoseksuele) kunstenaar of skrywer se beskouing en uitbeelding van jonger mans se liggame gevestig word. Nes die jonger mans vanuit die perspektief van ouer mans in die tersaaklike kunswerke verewig word, verewig Aucamp as ouer digter ook jonger mans in sy homoërotiese ekfrastiese sonnette oor hierdie kunswerke en sodoende verkry beide die kunswerk en sonnet meer gelaagde betekenisse. Gelees vanuit ’n gerontologiese en intergenerasionele perspektief beskou ek die gekose sonnette in Hittegolf egter as ’n literêre teruggryp na vergange jeug in poëtiese pogings om die digter se eie verganklikheid te probeer besweer. Aucamp blyk myns insiens deurgaans bewus te wees van die spanning (en opwinding) wat met homoseksuele intergenerasionele begeerte gepaardgaan en skryf daarom onbeskroomd, dog smaakvol, oor hierdie komplekse (en dikwels taboe) onderwerp.
Annette du Plessis
In Lodewyk G. du Plessis se roman Die dao van Daan van der Walt (2018) word verskeie temas, soos verganklikheid, religie, verhoudings, identiteit, seksualiteit en verlies, ondersoek. Vanuit ’n literêr-gerontologiese beskouing is dit egter die uitbeelding van die sewentigjarige hoofkarakter, Daan, se innerlike konflik om sy identiteit as homoseksueel te vind, te erken en uit te leef, wat as ’n rypwordingsproses in die ouderdom belangrik is.
In ’n literêr-gerontologiese studie speel die letterkunde se fokus op veroudering as deel van ’n reeks kulturele diskoerse ’n belangrike rol om ’n genuanseerde ouderdomsbeeld te vorm. Dit is toenemend ’n studieveld wat veral daarop gerig is om veroudering vanuit die subjek se belewing te ondersoek. In die Reifungsroman (rypingsroman), ’n subgenre van die literêre gerontologie, sentreer die verhaalgegewe rondom ’n ouerwordende karakter wat nie ’n blote randfiguur is nie, maar as die protagonis optree.
Barbara Waxman se interpretasie van die Reifungsroman in From the hearth to the open road (1990) is betekenisvol, omdat sy die innerlike reis na selfkennis en ’n ruimer insig in die laaste lewensfase beskou as: “ripening towards death in a fruitful way”. Om vrugbaar ryp te word in die ouderdom is die optimistiese teenpool van ’n ouderdomistiese beskouing dat veroudering slegs ’n afdraande, aftakelende proses is. Dit is in hierdie konteks waarin Daan van der Walt se rypwording bespreek sal word. Daan se pad of reis om die heteroseksistiese samelewing en die kerk se voorskriftelikheid te trotseer ten einde vrede in homself en aanvaarding van sy medemens en ander kulture te vind, is ’n komplekse reis na binne, wat alreeds deur die woord dao (pad) in die titel van die roman in die vooruitsig gestel word.
Marian Human-Nel
Die geskrewe woord is ’n skepping van die mens en word deur die mens gebruik in ’n proses waar mense vir hulleself voorstellings vorm om betekenis aan hulle wêreld, aan hulle omgewing én aan hulleself te gee. As sosiale wese gebruik die mens die geskrewe woord om kontak tussen hom en sy medemens sowel as met sy omgewing te bewerkstellig. Konseptualisering van geskrewe tekste is nie ’n logiese verskynsel nie, maar inderwaarheid funksioneel – ’n funksionaliteit wat in relasie met die werklikheid bestudeer, maar ook gebruik en benut, moet word.
There is only one thing that you write for yourself, and that is a shopping list. It helps to remember what you have to buy, and when you have bought everything, you can destroy it, because it is (of) no use to anybody else. Every other thing that you write, you write to say something to someone. (Eco, 2005:334)
Die skrywer as skepper van die geskrewe woord en die leser as ontvanger daarvan wend op die een of ander wyse die geskrewe woord aan om ’n relasie tussen hom/haar en die onmiddellike omgewing waarin hy/sy leef, te vorm. In hierdie referaat sal die rol van ’n gemeenskapradio as sintuiglike stimulant/instrument om hierdie kontak tussen die skrywer en leser (luisteraar) te bewerkstellig, ondersoek word. Die funksionaliteit van letterkunde vir die algemene luisteraarspubliek word “bekyk en aangehoor” en wel om vas te stel of die Afrikaanse letterkunde as voorlesing ’n funksionele sintuiglike belewenis is of kan wees.
Bernard Odendaal
Gehoor en, veral, sig word, minstens in die Westerse tradisie, as primêre, selfs “hoër” sintuiglike vermoëns geag. Hiertoe dra onder andere die versnelde opkoms van ’n wetenskapskultuur die afgelope twee eeue by. Beelding gebaseer op visuele waarneming oorheers derhalwe ook in die digkuns – soos onder andere waarneembaar is in die meeste gedigte opgeneem in twee digitale Byderhandprojek-installasies by, onderskeidelik, die Pionierskool vir Siggestremdes en die Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin te Worcester. Die tassintuig speel ’n belangrike rol in siggestremdes se verkenning van voorwerpe en ruimtes, sodat beweging van liggaam en ledemate hulle waarnemingswyse kenmerk. Analogisering van sintuiglike waarnemings (sinestetiese voorstelling) is nog ’n strategie wat dikwels deur hulle benut word. Meer onlangse navorsing beklemtoon dat daar, naas die uiterlike sintuie, ook intero-reseptors (vir waarneming van, byvoorbeeld, balans en beweging) tot die mens se beskikking is in persepsie. Sodoende word beliggaamde belewing moontlik. Laasgenoemde dien as teenvoeter vir die kultureel en talig bemiddelde omgang met verskynsels wat, in Lacaniaanse terme, die Simboliese Ordening daarvan domineer. Vier gedigte uit die Byderhandprojek-versameling te Worcester wat in hierdie referaat ter sprake gebring word, demonstreer, op verskeie wyses, bogenoemde aspekte van sintuiglikheid. Al vier die betrokke digters (Diana Ferrus, Pieter Hugo, William Rowland en Jacques Coetzee) is boorlinge van Worcester of was lang tydperke aldaar woonagtig; laasgenoemde twee persone het hulle skoolloopbane aan die Pionierskool vir Siggestremdes voltooi. Die ingeplaastheid van estetiese belewing wat deur dié plekspesifiek geïnstalleerde tekste bemiddel word, korreleer voorts met die motief van uitreiking na, of die begeerte na liggaamlike toenadering tot, die Karoo-natuurverskynsels wat in hulle uitgedruk staan.
Franci Greyling
Sover dit menslike ervarings betref, is liggaam, plek, stories en gemeenskap onlosmaaklik en dinamies verweef. Die mens bevind hom of haar as ervarend bewegende liggaam in die sentrum van sy/haar perseptuele ruimte, en daarom ook in die sentrum van plek (Relph 1976:50). Ons lewe in ruimtes, raak geheg aan bepaalde ruimtes en plekke, assosieer laasgenoemde met spesifieke gebeure van ons persoonlike geskiedenis, en verbind vreugdevolle of hartseer emosies aan spesifieke plekke (Viljoen, Lewis & Van der Merwe 2004:7). Mobiele media bied toenemend nuwe maniere om onvertelde verhale te vertel en dit aan plekke te verbind waar leserdeelnemers, deur hul fisiese teenwoordigheid en deelname, die verhale en plek konkreet kan ervaar. In die referaat word verslag gedoen oor ’n ondersoek na die beliggaamde ruimte in lokatiewe narratiewe deur persone met siggestremdheid. Die Pionierstorieversameling wat op die skoolterrein van ’n skool vir leerders met siggestremdheid geïnstalleer is, bestaan uit verhale en vertellings deur leerders en oudleerders van die betrokke skool. Die Pionierstories as lokatiewe narratiewe kan moontlik insig bied in die plekervaring van die skrywers, asook tot leserdeelnemers se verdiepte ervaring van die plek bydra. Om die Pionierstories binne dié konteks te verstaan, is ’n raamwerk saamgestel waarin die konsepte van beliggaamde ruimte en ingeplaastheid bespreek word soos dit verband hou die multisensoriese aard van waarneming, die ingeplaaste skryfaksie, met narratiewe van persoonlike ervaring en die ekosomatiese benadering tot gestremdheid, asook met die beliggaamde ervaring van die ingeplaaste leser-deelnemer. Die Pionierstorieprojek vestig die aandag op die belangrikheid van die bewustheid van ’n spektrum van sintuiglike ervarings, die verweefde en relasionele proses van plekskepping, en die sentrale rol en agentskap van die ingeplaaste skrywer in plekskepping. Ten slotte word aangedui dat projekte soos hierdie tot die sigbaarmaking (bewuswording) van stories, liggame en gemeenskappe sou kon bydra.