Alternatiewe Suid-Afrikaanse vakansie

  • 3

Ek en my metgesel, Wim, het besluit om iets nuuts met ons kwartaarlikse vakansie te doen (16 tot 26 April). Pleks van die tradisionele vliegvlug na Shaka-Internasionaal, daar motor huur, Salt Rock toe en in ‘n strandhotel in te bespreek, het ons besluit om hierdie keer af te wissel met iets nuuts, om sodoende ‘n nuwe ervaring te ervaar.

Ons het besluit om te ervaar hoe ‘n arm swarte te werk sou gaan om vakansie te hou. Die middag van 15 April, elk opgewonde en soos opgeskote tieners, met rugsakke, ons enigste bagasie, op die Metro-Rail van Vereeniging na Germistonstasie met R10 kaartjie elk. Die trein was vieslik vuil, redelik leeg, maar die rit het rustig gevlot, en ons het landskap gesien wat ons normaalweg nie sou gesien het met ‘n motor nie. (Onder die ou bedeling was selfs die derdeklastreine spranklend skoon gehou.)

Arriveer 15h00 op Germistonstasie. Ons is die enigste blankes tussen die wemelende swartes. Die gevoel wat binne-in ons opgewel het was onsekerheid en nie te veilig ‘n gevoel nie, ten spyte van die sigbaarheid van swart polisie orals. Ons loop tussen letterlik honderde informele stalletjies verby, die sypaadjie met rommel gestrooi, om by die Shosholoza-Myl-trein kaartjieskantoor, omtrent 100 meter verder, uit te kom. Ons koop elk ‘n R130 kaartjie na Durban toe. In die wagkamer sit ons tot 18h30. Hoe nader die vertrek sou plaasvind, hoe voller word die lokaal. Oorgewig vrouens met baba’s op rug, en hardpratende kinders orals, swart mans opsigtelik skaars. In teenstelling met ons is hulle bagasie enorm, met komberse die mees sigbaarste. Vreemdelinge met mekaar, knoop die swartes vining geselskap aan onderling. Dit lokaal klink soos ‘n basaar. Ek en Wim probeer elk met sy eie weergawe, ‘n boek “First Among Equals” deur Jeffrey Archer te lees om tyd te verspul, sonder sukses. My konsentrasievermoë is kort-kort onderbreek deur swart kinders wat ongedissiplineerd orals bo en onder ons op die sitbanke rondgeklouter het.

18h30 word die trappe boontoe na die stasie oopgestel. Almal beur op een slag vorentoe. Sonder sermonie word jy rondgestoot soos almal rondskommel vir posisie op die stasie om die beste sitplekke op die trein te kan bekom. Ek en Wim het in die druk gesukkel om nie van mekaar geskei te word nie. 19h00 arriveer die trein van Johannesburg. ‘n Menslike druk soos min, soos die menigtes gelyk probeer om deur die smal treindeure in te dring met babas, kinders en oorlaaide bagasie. Die trein is reeds redelik vol. Ons twee loop die gang af van die een koets na die ander op soek na ‘n geskikte sitplek waar ons nie van mekaar geskei sit nie. Kry mettertyd een heel agter, naby die toilette, bo die agterste wiele van die koets. 19h05 vertrek die trein. Dit is reeds donker buite. Die volgende stasie Standerton.

Die trein ry met ‘n slakkepas, skat nie meer as 60km/uur nie. Swartes maak hulle alreeds reg om in hulle sitplekke te gaan slaap. Geleidelik begin stilte in die koets te heers. Selfs die moeë kinders is reeds aan die slaap. Ek en Wim is naderhand die enigstes wat nog wakker is. Die geraas van die treinwiele, die rasende geskuur op mekaar van die rubber tonnel-koneksies tussen die koetse, die kort-kort steurnis van mense wat toilet toe gaan, het dit moeilik gemaak om te kan slaap. Raak jy wel aan die slaap, sak die wiele kort kort en gereeld skielik asof dit ‘n slaggat getref het en ruk jou slap kop skielik die lug in en slaat onmiddellik daarna op die harde kopleuning terug.

Die trein arriveer twee en halwe ure laat in Durban stasie. 10h00 pleks van 07h30. Teen hierdie tyd is altwee se gemoedere die ene ongeduld en aggressie teenoor mekaar. Ek wou nog aangaan soos beplan en in Durban by ‘n “backpacker” soos oorspronklik beplan, inboek, in swart taxis ry en op openbare swart vervoer Durban en Zululand te toer. Wim staan voet by stuk en se vir my ek kan gaan en doen soos ek wil, maar hy gaan homself nie verder onnodiglik straf en die res van sy vakansie nie geniet nie. Op die ou einde moes ek saam met hom inval aangesien ek nie kans gesien het om dit alleen aan te pak nie.

‘n Motor word gehuur, addisionele klere aangekoop om ons tekorte aan te vul, die eerste aand salig in die weelde van die Elangeni Hotel op die strandfront deurgebring. Daarna die res van ons vakansie in die Blue Marlin Hotel in Scottburg gebly en per gehuurde-motor, Natal se Suidkus getoer, die pragtige Oribi Gorge besoek, Wim op die Umdoni golfklub met kennisse van hom, golf gespeel, met seeduikers op Port Shepstone in die plaaslike duikklub kroeg kennis gemaak, ens.. Net jammer dit was deurgans gure weer gewees.

Ek het wel vir ‘n klompie ure ‘n blik op ‘n ander lewe gesien wat ek skaars mee in aanraking kom, en as finansiële bevoorregte, dankbaar dat ek dit nie gereeld hoef te ondervind nie. Terselfde tyd, onwillekeurig, ’n skuldgevoel by my ook aangewakker het.

Jaco Fourie

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jaco,

    Wat 'n openbarende skrywe. Ek is seker jy het 'n deel van jouself leer ken, wat jy nie eers van geweet het nie. Ek glo dat as dinge ernstig verkeerd gaan in ons ou wereld,sal die minderbevoorregtes in 'n bevoorregte posisie van oorlewing wees.

    Jou metgesel se reaksie toon aan wat die meeste van ons gemaksugtiges,in dieselfde omstandighede sou ervaar. Ek sou al op die eerste stasie kop verloor het.

    Ek dink nie die meeste finansieel bevoorregtes besef aldag wat daarbuite aangaan nie. Kerm en kla is mos die gewone ou klaaglied van die witbrood-en-koekvreters in ons land!

    Groetnis

    Perdebytjie

  • Jaco ‒ jy is 'n dapperder man as ek. Ek sou nóóít so "avontuur" wou onderneem nie. Ek het 'n paar jaar terug net so 'n verslag in 'n bank se jaarblad gelees, een deur 'n swart joernalis geskryf. Sy ondervinding was haglik, met 'n oorvol trein, dronkenskap en gelykgaande vuil vloere waar mense net oral gebraak het. Daardie "sitter"-treine is nie vir beskaafde mense nie.

    Ek het die afgelope tien jaar so vier keer gery, elke keer in 'n kompartement (koepee). Die eetsalon was skoon en die kos heeltemal aanvaarbaar, ook nie duur nie. My koepee was ook skoon. Die laat aankomstyd het geïrriteer. En twee keer moes ons die reis per bus voltooi omdat die lokomotief "gebreek" het.

    Nie weer nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top