Als deurmekaar
Nog 'n swaard oor die Vrystaat
Nog een plaasskietery
Vat ek my goed en trek Ferreira, ver verby?
Ons voorvaders juigend
maar ons kinders baklei
Ek val soos 'n appel, maar die boom is ver van my
En ek mis vandag die dae van trippe, trappe, trone
Want hier vang ons die wind van die land se hoogste bome
Als deurmekaar
Ek mis die dae
dae waar ouers kon gerus wees oor hul groen lande
Paarlberg in die aand sonder skande
want teen daai krans pronk Afrikaans
En ek skreeu Bartolomeu Dias, wat gaan hier aan?
Ek’s in die Kaap van Storms, ek roep jou naam
Ek wil huis toe gaan
Daar is spoke in die gange
geen kleur meer op my wange
My horison is kaal
daar is onkruid in my moedertaal
Nog 'n swaard oor die Vrystaat
Nog een plaasskietery
Vat ek my goed en trek Ferreira, ver verby?
Ons voorvaders juigend
Maar ons rasse baklei
Kom vrede, en haal die balk eers uit dié oog van my
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


