Alles behalwe die geheim van my whiskies

  • 1

Nou die skemeraand hang ek vir die drieduisendste maal verveeld oor die kospotte en tel nie my seëninge nie. Ek tel wel met my een hand die whiskybottel op (die ander hand roer die witsous-wat-asseblief-tog-net-nie-moet-vasbrand-nie). En ek lees op die etiket van die bottel wat Arthur Bell sê: I do not usually give the mixture of my whiskies ...

Ja, meneer Bell, jy versteek ook maar jou fabrieksgeheime. Nes skrywers.

Dis waarom nie een van my skrywerskennisse óóit besig is om ’n boek te maak nie. Hulle het ook nóóit tyd vir skryf nie. Hul boeke op die winkelrakke is daar getoor.

O, hulle lawaai wel oor verkope en uitgewers en soektogte na Afrikaanse boeke in boekwinkels, of klets geanimeerd oor die torinkie boeke op die bedkassie. Maar alles gaan altyd oor ander skrywers se skrywes. Oor hul eie, veral hul eie skryfgewoontetjies en boekmaakbygelowighede, hoor jy nie ’n dooie woord nie.

En dis oor hierdie asprislike geheimhouding dat ek soms so ’n ongeskikte voyeuristiese nuuskierigheid oor my kry. Skryf André Brink ook soms in sy skaapvelpantoffels, met sy voete gewikkel in sy lewensgenoot se stapsokkies vir ekstra warmte? Sit-lê JM Coetzee ook partykeer in die bed op sy rug en werk woorde op die groenteplank? (Nee, ek dink nogal nie so nie.) Waarmee lawe Deon Meyer hom daar op Melkbosstrand wanneer sy langasem-spanning oplaai? En Nadine Gordimer, knip sy die bedliggie diepnag aan om ’n paar reëls neer te krabbel? En indien wel, is dit in ’n netjiese Nobel-notaboekie van molvel of sommer op ’n tissue?

Dit het natuurlik niks met my uit te waai nie. En nóg nikser met my ervaring van hulle boeke.

Maar wonder wonder ek. Soos nou die aand verveeld oor die witsous. Ek weet die oorsese skrywers in my boekrak gaan ook weinig help, maar loop soek tog ná aandete. Hulle praat inderdaad, maar oor politieke betrokkenheid (of nie), oor stem, stemtoon, invalshoek en ’n varia ander vakkundighede. Nie een sê enigiets oor, sê maar, laerugpyn nie. So erg, van al die jare se sit, jy moet vir jou een van daai kralesitplekmatte gaan koop by ’n plek wat ook looprame en bedpanne aanhou.

A! Wag! Hier verklap Gabriel Márquez tog iets. Toe hy jonk was, het hy veertig sigarette per dag deur sy longe getrek. En die vertrek waarin hy skryf, moet warm en stil wees. Stemme en koue pla hom. Ag, maar dis ook seker nie meer geldig nie, want dié boek, The Fragrance of Guava, dateer uit die 1980’s, en sy biografie lê en wag nog in die torinkie langs mý bed.

Hierna blaai ek deur ’n reeks lesings van Margaret Atwood, Negotiating with the Dead – A Writer on Writing. Hierin trakteer sy jou op oriëntasie, toewyding, verleiding (nee, nie wat jy dink nie), maar nie ’n woord oor die spesifieke vorm van selluliet van ’n skrywersitvlak nie. Of die goedkoop gelukbringers wat nêrens anders as regs van jou rekenaar moet staan nie, en skuif die poetsvrou dit in haar poetsywer na links, is alle poetshel los.

Skrywer en kritikus Al Alvarez erken darem iets. Hy sê hy voel baiemaal oor skryf soos die Russiese digter Wladimir Majakowski oor selfmoord gevoel het. Majakowski het in ’n laaste nota gesê hy beveel skryf beslis nie as ’n loopbaan aan vir enigiemand nie, ’n rewolwer teen sy kop gedruk en sy skrywerskop oopgeblaas.

Is dit dié bloederigheid van skryf wat ons maar in die algemeen laat swyg oor die skroewe en moere van ons werk?

Die antwoord kom uit ’n onverwagte oord. Uit die wêreld van dans, nogal, en nie die literatuur nie. Dancer, van die Ierse skrywer Colum McCann, is ’n roman wat berus op uitgebreide navorsing oor die private lewe van die danslegende Rudolph Nureyev. Wyle Rudi se dansvermoëns trek steeds byvoeglike naamwoorde soos ’n magneet spelde, maar McCann vryf jou neus ook in Nureyev se ander talente. Dié vir onbeskoftheid, eiewaan, brassery en haastige betaalseks op straat in die pouse tussen twee balletbedrywe in Covent Garden.

Wil ek dit regtig weet?

Nee.

Wel, so ’n klein bietjie, laat ek nou nie lieg nie. Maar dit op sigself – sy kale private mensheid – verander volrond niks aan sy onherhaalbare dansnalatenskap nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top