Alleengesprek

  • 0

(as ons nie verder kan
gaan
begin ons weer van voor af
aan) –

verstrooide verse in ’n winterwind

1

om in die nanag te gaal
aspris aan jou te sit en dink
slukbeswaard vas te kleef

gek-ek
gestreepte aap
bedreigde spesie
rhesus neutraal
met windaf gedagtes
wat hondblaf
verby die kwepermaan
verlore druppels seesout
trane fyn kristal
in wolwange ingesink
vasgespykerde oogkaste
natgevrot

2

so vloeival die taal
van jou ma se ma
toevallig en sag verspot
deur dunner sneespapier die inkletters
sypel uit grougrys gyri van die gees
bloei deur die stug hartklep leeg
hunker pynlik
en bevange

3

dan teken ek tog maar jou lyf
sleepvoet met my tong

4

woorde ontbreek lasterlik
heer lik lek
plek-plek
voel-voel
so skaam
en oop en
bloot

5

jou gesig verskiet volkome
’n ster in die skemer
vlugtig deur die helder ruit
’n bleker skadu
van witter vrees
ek verbeel
ek sien jou buite speel
ek hoor jou
katatonies kaal
in jou slaap ronddwaal
ek proe jou
in die bodem van my kelkie likeur
en ek lag
perkeloos anoniem
so sonder grense
selfs nie eens
die ligroos auras teen die plafon
kan dit meer keer nie

6

my kante torring los
die lig breek so helder
die dag se agterdeur
staan wawyd oop

(dus,
tyd om op te som
na te laat:)

7

laat my siestog toe
om tussen jou lyne te lees
stel my in staat
om oor jou drumpel
voordeur in die huis te val
gangaf te bulder
plankvloer se kermkraak
sy te stap
suutjies

8

kyk hoe bewe my vlam
fluisterkers onder jou nag se rok
blaker afwagtend gewaks
skerp sinne sny
en deur dikker verdriet
ritsel skraal verlange

9

ek wil by jou bly
en in jou tot opstand kom
teen jou
leeglê tot anderkant
die bitter middernag

10

met tone in die sand
my draairoomys smelt in jou see
se son se warm hand
oop palm koud gesweet
stil verpand
en omdat ek verlangs
op jou spoor verdwaal het
kom haal jy my soms agteraf
voortvlugtende soen
spioen

11

die troos van seer
wat weer verby sal sweer
reeds onder die roof,
die rou geneesde wond

12

’n laaste angsgroet
kringfluit uit jou keel
mediumgolf
uiteindelik die stilte

13

die vergete vlaglied
oor vlaktes
uitgesaai
verlore
duskant dieper binnestes
ruimtes halfmas gebreek
skugter verstrooi
leepoog
die donker boodskap
banier
teen wil en dank
loer gespanne geëts
in selfverwyt

14

smeek verslete
amper vergete
om vergifnis
grootgedoop
’n stuk genade

15

oor en uit ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top